Boer Ivan Cloete steeds sonder huurooreenkoms

(Argieffoto ter illustrasie: Kwanalu/Facebook)

Byna ’n maand nadat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling besluit het om die afsettingsbevel teen Ivan Cloete van die plaas Colenso by Darling terug te trek, het hy nog geen van die nodige huurdokumente ontvang om op dié plaas aan te bly nie.

Maroela Media het vroeër berig Cloete moet voorsien word van ’n 30 jaar-huurooreenkoms met dieselfde voorwaardes as wat van toepassing is op kommersiële huurkontrakte. Dit is nou reeds 25 dae later en hy het nog geen dokumentasie ontvang nie.

Die DA sê nou hy gaan die komiteevoorsitter, Mandla Mandela, vra om die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, tot verantwoording te roep.

“Minister Didiza moet spesifieke redes verskaf waarom die departement versuim het om Cloete se huurdokumente betyds te verskaf en ʼn spesifieke datum gee waarop hierdie dokumente beskikbaar sal wees,” sê Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou.

Volgens Steyn herinner Cloete se stryd omtrent sy huurooreenkoms aan David Rakgase van Limpopo se jare lange stryd om die grond waarop hy boer te kon koop.

“In dié betrokke saak het die departement alles in sy vermoë gedoen om sy voete te sleep met die uitreiking van die koopooreenkoms in die hoop dat hulle die oordrag van volle eiendomsreg aan Rakgase kon omseil.”

Steyn sê die departement se benadering tot die hantering van grondhervormingskwessies en boere se lot verbaas haar glad nie. “Minister Didiza en departementele amptenare sê een ding en doen presies die teenoorgestelde.”

Dít nadat die departement verlede maand toegegee het dat Cloete sedert 2012 nie regverdig behandel is nie.

“Haar departement se vertraging met die uitreik van ʼn huurooreenkoms aan Cloete beteken dat hulle voortgaan met hierdie onregverdige behandeling sonder om Cloete se reg op billike prosesse in ag te neem.”

Steyn sê verder dit is om hierdie rede dat die DA skepties sal bly oor Didiza se aankondiging dat die afsettingsbevele teen die groep opkomende boere van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga teruggetrek is.

“Wat boere nodig het, is konkrete optrede om hulle te beskerm teen korrupte amptenare. Dit sluit in die tydige uitreiking van huurooreenkomste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Die egte agenda van die ANC. Bemagtig slegs hul getroue lede. Onteien alles, slegs die staat en hul lakeie besit alles en sal namens jou besluit. Covid-19/VN/Davos 2030 agenda.

Boon ·

In die Wes- Kaap tree die DA daadwerklik op om boere te help soos Cloete se geval feitelik illustreer. En let asb op dat ras geen rol speel nie, maar bloot meriete en geregtigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.