Boer kom op goeie vriend se lyk in plaashuis af

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn Boer van Laingsburg is Sondagaand deur sy beste vriend dood in sy kombuis aangetref nadat hy vermoedelik met ʼn stomp voorwerp geslaan is.

Kapt. Bernadine Steyn, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Daniel van Wyk (57) is omstreeks 20:00 die aand deur sy goeie vriend, Attie Stadler en lede van die polisie aangetref. Twee verdagtes is kort ná die moord in hegtenis geneem.

Stadler het Van Wyk Sondag deur die loop van die dag verskeie kere gebel, maar hy het nie geantwoord nie. Hy is die aand na Van Wyk se huis waar hy sy liggaam in die kombuis aangetref het. Volgens Steyn het Van Wyk twee oop wonde aan sy kop en ʼn oop wond aan sy bors gehad.

“’n Kluis wat in die slaapkamer was, is buite die huis gevind. Die kluis was oopgebreek en twee vuurwapens, ʼn pistool en ʼn .22 geweer, word vermis,” het Steyn gesê. “Die .22 geweer is later gevind waar iemand dit in ʼn kas in ʼn huis in Bergsig versteek het.”

Volgens Steyn is Petrus Stuurman (28) Maandag vir die moord in hegtenis geneem. Sy medebeskuldigde, Elroy Plaatjies (33), is Dinsdag vasgetrek. “Albei verdagtes het reeds in die Laingsburg-landdroshof verskyn en hul saak is uitgestel tot 15 Julie. Hulle sal in aanhouding bly tot en met hul volgende hofverskyning,” het Steyn gesê.

Bertie van As, Van Wyk se buurman, het aan Maroela Media gesê Van Wyk het alleen op die plaas gebly en weens mediese probleme die afgelope paar jaar nie meer geboer nie. “Sy dood was so onnodig. Daniel was net daar op sy plaas en het niemand iets aan gedoen nie. Ons het baie goed oor die weg gekom. Dit is tragies dat hierdie soort goed gebeur. Ons gemeenskap is nie gewoond daaraan nie,” het Van As gesê.

Hy het gesê Van Wyk het slegs ʼn broer gehad en geen kinders nie. “Sy vriend Attie is tans besig met die begrafnisreëlings,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ig ·

Gaan die plaasmoorde ooit ophou? My opinie is dat daar iemand iewers is wat die moorde aanhits .

KG ·

Ek dink nie dis noodwendig in alle gevalle aanhitsing nie, ek dink ongelukkig het kriminele ook agtergekom dat boere sagte teikens is vanweë die feit dat die plase gewoonlik ver van mekaar af is en baie afgeleë is.
Dit sal altyd vir my ‘n hartseer saak wees, want ‘n plaas het my altyd gevoel van vryheid & rustigheid gegee so in die hartjie van die natuur. Maar nou ja die kriminele element moet mos orals kop uitsteek!!

Winston ·

Plaasmoorde word ondersteun deur 1. n Regering wat dit nie prioritiseer nie 2. n Regstelsel wat die hele land se mense faal.
Dit sal uitbrei en al meer gebeur, ongeag watter maatreëls boere ook al probeer. Ons behandel die simptome en nie die oorsaak nie.

Kobus van Staden ·

Groot hartseer dat ons land so agteruitgaan. Dit is grotendeels die oorsaak van swak bestuur deur “mense” wat nie die vermoeë het en ook nie die integriteit om nee te sê wanneer hulle ‘n pos aangebied word waarvoor hulle nie opgelei is nie. Die polisie kan nie behoorlik hulle werk doen as die hoof nie ‘n idee het van polisiewerk nie. Zuma stel kaders aan wat hom goedgesind is. Ons wag almal dat die dag aanbreek wanneer mense aangestel sal word oor hulle kennis en bestuursvermoeë en nie omdat hulle “mense” ken nie. Die gesegde “Dis nie wat jy weet nie , maar wie jy ken” is duidelik in al die regeringsaanstellings.
Suid Afrika treur oor nog ‘n onnodige moord.

Dawid Geldenhuys ·

Die Plaas moorde en al die ander gebeure in ons land is brutaal. Almal moet eendag rekenskap gee vir hul optrede. Die tyd sal kom. Soos die spreek woord sê, die wiel draai stadig maar die sirkel moet voltooi word. Alle mèegevoel vir nog ‘n boer wat vermoor is en aan al daardie boere se familiese wie ‘n geliefde afgestaan het aan die dood. Baie hartseer. Staan saam en bid opreg God sal ingruip en ‘n uitkoms gee aan die wat in hom vertrou.

Elsabe Potgieter ·

As dit nie plaasmoorde is nie dan is dit kaping met mishandeling dan moord, en ons word geteiken, o ja ek stem saam, iewerste is daar agter die gordyn n gekongkil, ek wil al die boere bemoedig en aan moedig, onthou wie ons is, onthou dit wat ons geleer is 30 en meer jaar terug, onthou jy MAG jouself beskerm en vir die wie jy lief het, baie jamer aan die famiielie, my inige simpatie met julle….ekt my boetie vrydag aand verloor deur n kaping.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.