Boer leef in vrees ná ontdekking van graf

Argieffoto

Argieffoto

Die ontdekking van ʼn ongemerkte graf langs die R24 buite Rustenburg in Noordwes het tot gevolg dat ʼn boer en sy gesin vrees vir hul lewens.

Anton Jonker, die seun van Mike (87) en Annabé (72), het aan Maroela Media vertel gerugte van ʼn sogenaamde “massamoord” op sy pa se plaas en bewerings dat plaaswerkers in die verlede daar sleg behandel is, het nou tot gevolg dat sy ouers vrees dat hul die teiken van ’n plaasaanval kan wees.

Anton het gesê die storie het begin nadat sy pa vroeër vanjaar ʼn gedeelte van sy plaas, wat aan die pad grens, aan Sanral verkoop het sodat hulle die pad kan verbreed. Padwerkers het kort daarna glo ʼn ongemerkte graf op die stuk grond ontdek en die saak is by die polisie aangemeld.

“Die graf behoort aan ʼn plaaswerker wat jare terug vir my pa gewerk het,” het Anton verduidelik. “Die man het blykbaar een aand in 2001 in Phokeng gaan kuier waar hy in ʼn bakleiery betrokke geraak het en van ʼn bakkie afgegooi is. Hy is op die toneel dood. Sy liggaam is na ʼn lykshuis in Phokeng geneem, maar nadat geen van sy familie opgespoor kon word nie, het ander werkers op die plaas my pa gevra of hulle hom op die plaas kan begrawe. My pa het vir sy kis betaal, ʼn begrafnisseremonie is gehou en hy is begrawe.”

Nadat die graf ontdek is, het die polisie vir Mike gevra om ʼn verklaring af te lê en toestemming te gee dat die graf na ʼn ander plek op die plaas geskuif kan word sodat die padwerke kan voortgaan. Volgens Anton het sy pa toestemming gegee, maar kort daarna het polisiebeamptes saam met joernaliste en lede van Cosatu op die plaas opgedaag. Cosatu eis nou ʼn ondersoek na die plaaswerker se dood, omdat hulle beweer dat Mike se verklaring verdag is.

“Die realiteit is dat my pa op 87 jaar oud nie meer so skerp is nie en sy geheue laat hom nou in die steek. Hy kan nie meer heeltemal onthou wat in 2001 gebeur het toe die plaaswerker daar begrawe is nie. Hy kan nie eers sy naam onthou nie. Hy vertel die gebeure soos hy dit onthou, maar hy onthou nie alles nie,” het Anton gesê. “Daar is egter nog mense op die plaas wat in 2001 ook daar was en hulle kan presies onthou wat gebeur het. Daar is dus absoluut niks verdag of duister omtrent hierdie storie nie.”

Solly Phetoe, Noordwes-woordvoerder van Cosatu, het aan Maroela Media gesê hulle eis dat die polisie die omstandighede rondom die werker se dood ondersoek aangesien dit baie verdag is dat Mike “heeltyd sy storie verander”.

“Ons vermoed daar was moontlik vuilspel betrokke by die dood van daardie plaaswerker, want die manier waarop die plaaseienaar reageer skep die idee dat alles nie pluis is nie,” het hy gesê. “Ons kan nie sê dat [Mike] die plaaswerker doodgemaak het nie, maar ons sê wel dat daar ondersoek moet word wat gebeur het. As iemand op jou plaas dood is, dan moet die saak mos by die polisie aangemeld word? Jy gaan begrawe mos nie net die persoon langs die pad nie.”

Boonop het Phetoe gesê daar is ander grafte van plaaswerkers op die plaas waarop “die nuwe plaaseienaar” glo kantore en verblyf gebou het. “Die grond waar daardie meer as 100 plaaswerkers begrawe is, behoort aan die families van daardie plaaswerkers. Daardie grond moet teruggeëis word deur die grondeiskommissie, want die plaaswerkers het daar gebly en daardie grond behoort aan hulle families,” het hy gesê.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die ongemerkte graf langs die R24 ontdek is en het gesê die oorskot sal Vrydag opgegrawe word. Hy het gesê daar is egter geen saak deur die polisie oopgemaak nie. “Die bene word opgegrawe sodat dit geskuif kan word. Sou die polisie iets ontdek wat verdag lyk, sal ons verder ondersoek instel. Maar vir nou word die oorskot bloot opgegrawe sodat werkers kan voortgaan met hul werk aan die pad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Chante ·

Wens ek kon sê wat ek wou! Maar sal net stil bly en my kop net skud, die land is ook op sy kop gedraai!

JoeV ·

Ditto, as die hart weer tot bedaring kom sal ek dit seker vergeet!

Bruno Stef ·

As n mens n hond wil slaan is dit vinnig om n stok te kry.Op wat hoop Cosatu dat hulle belaglike aantygings aandag gaan kry en hulle dan beslag op die plaas kan le of dat die bygelowige mense so opgestook kan word.

Alicia ·

Help my asb reg. Ek verstaan – 100 plaaswerkers het daar gebly omdat hulle vir die Boer gewerk. Die grond het nie aan hulle behoort nie, hulle het daar gewerk…………..Nou hoe behoort die grond nou aan hulle familie?

Moeraskoei ·

Die man is ook nie op die plaas dood nie. Hy het in Phokeng gaan kuier en die lyk is terug gebring en op die plaas begrawe! Ai, verstaan hulle dit nie??

Moeraskoei ·

Die werker is ook nie op die plaas dood nie. Hy het in Phokeng gaan kuier waar die voorval gebeur het en die lyk is toe slegs op die plaas begrawe? Hoe moeilik kan dit wees??

SNEL ·

Dis vreeslik dat sulke ou mensies nou deur so iets moet gaan wat hul senuwees vreet. Hoop regtig die ding word op n mooi manier opgeklaar. Baie sterkte!

Moeraskoei ·

Die man is nie op die plaas dood nie, hy is slegs daar begrawe. Die voorval het in Phokeng gebeur. Wat verstaan hulle nie??

Marléne ·

Moeilik vir een wat nie wil verstaan nie.
Eintlik maklik, die liggaan is na Phokeng lykshuis geneem. Sekerlik gaan daar papierwerk met innames saam? “Iemand” moes “aansoek” gedoen het vir die verwydering vd liggaam en “iemand” moes sekerlik die appropriate goedkeuring daarvoor gee, weereens papierwerk..
Volg dit op en sien wat was die storie voor aantuigings gemaak word.

Winston ·

Dis hoekom die land lyk soos hy nou lyk. Tipies. Sleep altyd onskuldiges in en moenie dink die regsreël ( onskuldig tot skuldig bewys) is op die boer van toepassing nie. Klaar skuldig bevind deur dom onnosele mense wat net altyd iewers moeilikheid soek om iemand te blameer. Het hulle so tekere gegaan toe hy in Phokeng van n bakkie afgegooi is? Nee. Is dit ondersoek? Nee. Sterkte aan die boer en sy familie. Gaan hulle so tekere oor die moordsyfer deur hulle EIE mense? Nee.
Ek moet nou my bek hou………

Mica ·

uitstekende geleentheid om n onskuldige BOER se grond wèèr te vat!!! Lees tussen die lyne…..

Ou krokkedil ·

As die plaas eienaar swart was, sou geen haan daaroor gekraai het nie.

Nico ·

‘n 87 jarige word uitgebuit omdat sy geheue hom in die steek laat. Waar is die “wonderlike” menseregtehandves en duur ministerie wat veronderstel is om bejaaardes te beskerm nou? Politieke klug!

Nico ·

‘n 87 jarige word uitgebuit omdat sy geheue hom in die steek laat. Waar is die “wonderlike” menseregtehandves en duur ministerie wat veronderstel is om bejaardes te beskerm nou? Politieke klug!

zeebs ·

Kan nie dink dat die boer n gedeelte van sy plaas aan Sanral sal verkoop as hy weet dat daar op massa grafte afgekom sal word nie. Ek stem saam dat dit n slim set is om die arme boer se plaas van hom af te vat…sinneloos!

Sarie ·

Ek wil bittergraag kommentaar lewer, maar weet ek moet liewers nie want wat ek wil se gan my gewis in die hof laat beland. Al wat ek wel wil se is “daar is hoegenamd geen manier hoe ons OOIT weer in vrede en rus in ons eie land kan leef nie.”

Winston ·

Snaaks dat die graf nie tussen die ander op die plaas is nie.

ladybug ·

Veroorsaak nou net stress by die ou mensies! En dit gaan alles oor die feit dat hulle wit is … as die bordjies verhang was, sou geen haan daarna gekraai het nie!

VickusCronje ·

Dit is hartseer. Die oom het hom ontverm en die werker op sy plaas begrawe en die kostes gedra, nou wil hulle sy grond eis oor ou bene

Ben ·

Hoe noem Annabe jou? O ja, Gielie. Hulle sê mos “what goes around, comes around”. Hoe voel dit om so ‘n bietjie aan die ontvang kant te wees. Mense wat woedend teenoor jou optree soos jy meer as wat ek kan tel teenoor mense opgetree het, teenoor Annabe, Anton, myself en soveel ander werkers by jou fabriek in Mogwasie. Ek sê nie jy het dit gedoen nie, maar die voorval is ‘n ondersoek werd. Stres by die ou mensies?, ja ek kry vir Annabe jammer, maar vir Gielie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.