Boer met graaf aangeval: ‘Dis ʼn wekroep vir die Noord-Kaap’

WAARSKUWING: ‘n Foto in die berig is grafies en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die toneel waar John Byles op ‘n plaas buite Hartswater in die Noord-Kaap aangeval is. Foto: Verskaf

Die wrede aanval op ʼn boer van die Hartswater-omgewing in die Noord-Kaap is ʼn wekroep dat die “tradisioneel veilige provinsie” nie meer die vlaag van landelike geweld ontkom nie.

Só sê dr. Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, ná John Byles (81) Woensdag buite sy huis op ʼn plaas met ʼn graaf aangerand en onkruidgif in sy gesig gegooi is.

Boshoff meen die aanval is aanduidend dat veiligheid al meer ʼn gemeenskapsaak is waartoe elke individu sy deel moet bydra. “ʼn Man van 81 jaar oud wat steeds vroeg opstaan om sy boerderytaak aan te pak, is ʼn voorbeeld in ʼn land waar werkloosheid epidemiese afmetings aanneem. Pleks dat hy gevier en waardeer word, is hy op só ʼn wrede manier aangeval.”

Boshoff wys daarop dat die landelike gemeenskap van Tadcaster tussen Jan Kempdorp en Hartswater deel is van die groot Vaal-Harts-besproeiingskema. “Dié verbeeldingryke ontwikkeling is in die dertigerjare van die vorige eeu aangepak om die vrugbare maar dorre Hartsriviervallei vanuit die Vaalrivier te besproei. Duisende arm Afrikaners het hulself hier aan hulle skoenveters opgetrek,” sê hy.

John Byles nadat hy aangeval is. Foto: Verskaf

“Hulle afstammelinge is vandag reg oor die land op alle vlakke van die samelewing te vinde, asook in die ‘skema’ self. Daar produseer hulle graan, lusern, olywe, pekanneute en wyn vir die plaaslike en oorsese mark.”

Byles is ná die aanval in ʼn kliniek opgeneem waar onder meer ʼn wond aan sy kop met steke toegewerk moes word. Sy oë is ook erg geswel weens die aanranding en die gif. Johan Cloete, ʼn vriend van Byles, het Woensdag aan Maroela Media gesê Byles is vasbeslote om terug te keer na die plaas en boerdery, maar dat die veiligheid op die plaas opgeskerp sal word.

Byles woon alleen op die plaas nadat sy vrou verlede jaar oorlede is. Daar word met pekanneute op die plaas geboer.

“Die regering neem aanstoot as plaasaanvalle vir spesiale aandag uitgesonder word, maar dit is moeilik om nié ʼn verband tussen openbare aanvalle op wit grondbesit en aanvalle soos hierdie te lê nie,” het Boshoff gesê.

Hy het Byles spoedige beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jerry ·

Dit is n bitter pil om te sluk, maar ons lewenswyse gaan ons moet aanpas na veiligheid eerste en dan boer.

Karien ·

Dis vreeslik, ek wonder of die oom se oë skade het en of hy darem nog sal kan sien. So aan die gang en gesond nog op 81 en hul gun hom nie eers on sy laaste jare rustig en op sy manier uit te leef nie. Hartseer om sulke goed te sien, veral op ons ou mensies. Watse krag het hulle om te verdedig en terug te veg teen iemand jare jonges as hulle.

Penellope Jones ·

Ai oom, so jammer om te lees wat gebeur het – alle sterkte, voorspoed en gebede!

GP ·

Baie moeilik vir boere om hul self te verdedig veral as hulle buite moet wees.

Die boek “Oorwin plaasaanvalle” het goeie inligting.
Ek dink goeie honde buite is goud werd, nie so seer oor wat hulle kan doen teen aanvallers nie maar om hulle gedrag dop te hou. Mens sal vining sien as hulle ongemaklik is en dan is kanse goed dat iets nie reg is nie.

As mens net vermoed iets is nie reg nie, gaan na veiliger area en kry hulp. Sit emergency app op selfoon, Panic button kan op home screen wees en kan nood boodskap stuur na soveel mense jy wil, en dit stuur ook jou posisie uit wat met google opgespoor kan word.

Wees eerder oor versigtig, en moenie dink jy wil mense nie onnodig pla nie, hulle gaan heel waarskynlik dankbaar wees as jy vra vir hulp. Niemand wil iemand so sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.