Boer met sappigste lamsvleis aangewys

Skaapvleis in oorvloed (Foto: Du Preez de Villiers)

Vyftig lammers op 50 spitte is ʼn gesig om te aanskou en Pretoria is dié naweek daarop getrakteer. Skaapboere van reg oor Suid-Afrika het elk ‘n lam ingeskryf om aan die Lamb Champs-kompetisie deel te neem, wat deur Saai en Buffelsfontein Brandewyn aangebied is.

Maroela Media het sy vleistande aangetrek en die dag bygewoon.

Saai is ʼn jong organisasie wat hulself as ʼn netwerk van familieboere geposisioneer het en is bekend daarvoor dat hulle vindingryke projekte van stapel stuur om die verskillende landboubedrywe te help, of bewusmaking daarvan te skep. Hierdie naweek was dit skaapboere se beurt.

Feesgangers is amper omring deur 50 spitte, waarvan hulle deur die dag kon eet. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die geleentheid is by die Harlequins‑rugbyklub aangebied en 2 000 kaartjies is spoedig verkoop – ʼn besondere prestasie in ag genome dat dit die eerste Lamb Champs is.

Die sterk tema wat uitgedra is, is skaapboere se bydrae tot voedselsekerheid.

Die eerste snit van die eerste lam, ingeskryf deur Tiaan Theron van Beaufort-Wes. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Braaivleis kom nie van winkelrakke af nie. Agter die winkelrak is daar ʼn wêreld van logistiek, verwerking en verpakking, en uiteindelik ʼn boereplaas waar ʼn plattelandse familie met geslagtelange ervaring met groot sorgsaamheid hul veekuddes afrond tot die beste tjoppies op jou kole,” het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, tydens die geleentheid gesê.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbou-organisasie, sê skaapvleis kom nie van winkelrakke af nie. Minki van der Westhuizen was die programaanbieder. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die 50 lammers was deur die loop van die dag tien op ʼn slag gereed vir proe, sodat feesgangers op hul tyd kon gaan skep en aan elkeen van die 50 spitte kon proe (as hulle daarvoor kans gesien het). Elke lam is individueel deur tien kos- en vleiskenners beoordeel.

Enige goeie fees het natuurlik goeie kunstenaars nodig en Ichnus Wait, Juan Boucher en Adam Tas het deur die loop van die dag die feesgangers vermaak. Die bekende model Minki van der Westhuizen is genooi om die feesprogram te lei.

Tradisie bepaal dat dit belangrik is om die hele skaap te benut en derhalwe is ʼn skaapkopeetkompetisie aangebied. Ernstige vleiseters kon meeding om te kyk wie kan ʼn kop en ʼn halfliter bier die eerste kafdraf. (Foto: Saai)

 

André Duks Stoltz van Kroonstad (links) is as die wenner van die skaapkopeetkompetisies aangewys. Toeskouers kon sommer dadelik sien dat hy ʼn veteraan-skaapkopeter is en sy wenwoorde was dat dit een van die beste skaapkoppe is wat hy al geëet het. Kwagga Boucher van Saai deel ʼn oomblik saam met hom. (Foto: Saai)

Einde laaste is Nathan Naudé van Nitique Boerdery aangewys as die familieboer in Suid-Afrika wat die lekkerste en sappigste skaapvleis produseer. Naudé boer met Merino-skape in Kriegerspoort in die Noord-Kaap.

Die tweede plek is opgeraap deur Gawie van Heerden van Consortium Merino uit Dombietersfontein in die Noord-Kaap en die derde plek deur Hennie Jonker van Kroonstad in die Vrystaat.

“Ons as Nitique Boerdery en Karoo Treasures wil baie dankie sê vir ’n wonderlike dag. Dit was vir ons ’n groot belewenis en ’n lekker ervaring. Dit gaan baie vir ons bemarking beteken en dit het vir ons ’n groter netwerk geskep,” sê Naudé.

Saai het oor die afgelope drie maande saam met Meyer le Roux van die Buffelsfontein-groep nege boere en deelnemers aan die funksie in al nege provinsies besoek. Dié besoeke is opgeneem in ’n Lamb Champs-sosialemediareeks wat op Facebook en YouTube beskikbaar is.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, (derde van links) het die spogtrofee ter waarde van R80 000, wat deur die beeldhouer Nic van Rensburg gegiet is, asook die wengeld van R50 000, aan Nathan Naudé (tweede van links) oorhandig. Links staan Meyer le Roux, eienaar van Buffelsfontein Brandewyn en regs is Minki van der Westhuizen. (Foto: Saai)

“Die doel van hierdie epiese tog deur die hartkamers van ons pragtige land was drieledig. Eerstens wou ons vasstel hoe skaapboere hul eie lammers op hul eie akker op hul eie manier grootmaak, vetmaak, afrond en gaarmaak. Tweedens wou ons weet hoe boerderypraktyke van boer tot boer verskil, en laastens wou ons bepaal wie die beste lamsvleis in die republiek produseer,” sê Le Roux, wat ook die aanbieder van die program was.

“Wat hierdie geleentheid so spesiaal gemaak het, is dat ons verbruikers kon voorstel aan die boer agter die winkelrak. Die boere het werklik baie moeite gedoen en lammers is uit alle oorde ingeskryf, onder andere van Carnarvon, Rietbron, Steynsrus, die Moordenaarskaroo, Utrecht en Groblersdal,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die borge wat die dag moontlik gemaak het, was Santam, Agri Online, Case, Bosveld Charcoal, Chad-O-Chef, Andre Kock & Seun, Kalahari Cuts, Vellie Boutique, Obaro, FNB, Agility, Farm to Table Meats en Halewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alfred E Neuman ·

Teen hedendaagse pryse kyk ek maar na die prentjies van skaapvleis.

Andriette ·

Was ‘n baie lekker dag saam met Saai en die boere. My seun in die bruin hemp het goed gedoen met die skaap kop eet kompetisie. Baie geluk aan Saai met die suksesvolle dag. En ook dankie aan al die boere vir julle bydrae tot ons lekker vol pensies.

Marius ·

Al die plaas aanvalle en plaas moorde wys daarop dat die anc niks voel vir ons boere nie.

OppieProvince ·

Sooo spyt ek het hierdie ekskursie gemis, hoop en glo Saai en die span sal vir nog ‘n gellentheid sorg. Welgedaan aan almal!

Jywilwat ·

My mond water. Wonder hoe mens hierdie familie boerderye kan ondersteun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.