Boer ná brand: ‘Wonderwerke gebeur steeds’

Junior Ferreira, ‘n boer van Bethlehem sê dit is net gebed wat sy mielie-oes gered het. (Foto: Facebook.)

Junior Ferreira (30), ʼn boer van Bethlehem in die Vrystaat, sê dit is net gebed wat sy mielie-oes en bale voer gered het verlede Donderdag ná ʼn voorbrandvuur buite beheer geraak het.

“Ek deel vanaand die foto’s om erkenning te gee aan my Skepper. Indien iemand twyfel of wonderwerke nog gebeur, en of gebed werklik krag het, kyk mooi na die foto’s en besluit self,” sê Ferreira in ʼn inskrywing op sy Facebook-blad, wat reeds 262 reaksies ontlok het en 61 keer gedeel is.

Volgens Ferreira was hy juis die dag besig met voorbrande om veldbrande op sy plaas te voorkom toe die wind opsteek en die vuur onderdeur die pad met ʼn stormwaterpyp na sy mielielande versprei het.

“Toe ek uiteindelik by my mielieland kom, kon ek niks meer doen nie. Ek moes staan en toekyk hoe vlamme so hoog soos ek op my mielies afstorm. Die wind het heeltyd gedraai en die brandslaners kon dit nie naby die vlamme waag nie, want ʼn mens het net nie geweet na watter kant die vuur volgende sou draai nie,” vertel hy.

Uit pure magteloosheid het hy begin bid. “Ek weet dat nie net ek nie, maar ook my familie en werkers in dié stadium ewe hard gebid het.”

Hy vertel dat daar in daardie oomblik ʼn rukwind opgesteek het wat hy gedink het die finale nekslag vir sy oes sal wees.

Die vuur het nêrens verder as 50 m in sy landerye ingebrand nie. (Foto: Facebook.)

“Ek het gedink minstens die helfte van my mielies is daarmee heen. In werklikheid het dié wind nie die vlamme in die mielies aangehits nie, maar eerder doodgeblaas soos ʼn mens ʼn kers sal doodblaas.

“Dit kon net die hand van die Here gewees het.”

Die brand het nêrens verder as 50 m in sy landerye ingebrand nie.

Ferreira sê nog ʼn onverklaarbare ding is dat die bale, waarmee hy sy beeste in die laat winter moet voer, ook glad nie vlamgevat het nie. Hy het dit eers later die dag raakgesien toe hy begin rondry om die werklike skade van die brand op sy plaas te bepaal.

“Daar is net geen rede hoekom die bale nie sou brand nie, dit is nie asof hulle op kaal grond gestaan het wat die vuur nie kon voed nie. Inteendeel, die vuur het reg rondom die bale gebrand en ons het agterna smeulende gras naby die bale doodgeslaan.”

Die bale op die plaas het ook glad nie vlamgevat nie. (Foto: Facebook.)

Ferreira sê hy boer al tien jaar lank en hulle het in 2015 erge droogte in dié omgewing ervaar. “Intussen was ons so geseënd gewees dat ek selfs voer kon laat aflewer by die droogtegeteisterde boere in die Oos-Kaap.”

Oor sy inskrywing op Facebook sê Ferreira hy het gevoel dit is iets wat hy net móét deel.

“Daar is soveel slegte nuus elke dag, veral nou met die Covid-19-pandemie. Ek het myself afgevra hoekom het die Here juis my mielies gered, en het gevoel dit is juis sodat ʼn inskrywing soos hierdie weer hoop kan skep.”

Ferreira sê hy glo daar gebeur nog elke dag wonderwerke, ʼn mens moet net op die uitkyk wees daarvoor.

“Die Here sorg nog elke dag vir ons en as nuus soos hierdie vir een persoon weer ʼn rede kan gee om môre op te staan, dan is dit ʼn goeie ding.

“Ons dien ʼn almagtige God, die enigste lewende God, die Skepper van hemel en aarde, ʼn God van wonders. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daleen ·

Amen ons dien ‘n Almagtige God wat nog gebede verhoor. So dankbaar saam julle dat julle die verwoesting gespaar is.

piket ·

Nooit, maar nooit ooit mag ons die Almagtigheid van ons Skepper in twyfel trek nie! Hy kan en SAL verlos!

Willem ·

Ons Heer is groot en dankie dat jy dit met ons deel in hierdie moeilike tye. Nou moetvons saam net dankie sê vir ons Grote Heer

agnes ·

Ja ek beaam dit, wonderwerken gebeur nog steeds. Ons het dieselfde ondervinding gehad. God hoor en verhoor. Dankie dat jy dit met ons deel

Frieda ·

Dankie Vader dat U omsien na U kinders en U hand om ons hou.

Elize ·

Ons dien ‘n groot en almagtige God. Sy hand van beskerming sal altyd daar wees as opreg gebid en gevra word. Hier kan mens weer sien dat Hy die Lewende God is wat nie Sy rug draai op Sy kinders in nood nie

Herman ·

Daar is niks wat Hy nie kan doen nie. Al wat jy moet doen is BID enGLO. HY is daar vir ons.Self het ek en my gesin deur baie gegaan, elke keer het HY vir ons n uitweg ge openbaar. Bid en glo net, in die slegte tye, maar ook in die goeie tye. Hy is die enigste ware God en Verlosser. Amen, Dankie Vader

Yvonne ·

Dankie Here vir U groot genade…en dat hierdie wonderwerk met ons gedeel is sodat die wat moeg en moedeloos geword het weer versterk kan word…U Naam ter ere.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.