Boer neem eie lewe: ‘Banke, droogte’ druk landbouers

Die droogte eis sy tol op mens én dier. (Foto: Chris van Beljon/Facebook)

Die landboubestuurspesialis dr. Jaco de Villiers sê Suid-Afrikaanse boere moet die geleentheid gegun word “om weer wins te maak”.

De Villiers het ʼn ope brief aan onder meer banke, die georganiseerde landbou en regslui geskryf nadat Willie Viljoen, ʼn Wes-Vrystaatse boer, homself die afgelope naweek om die lewe gebring het. Die 58-jarige Viljoen het net buite Hoopstad saam met sy seun, WH, geboer. Die streek gaan al geruime tyd onder droogte gebuk.

Viljoen het Saterdag om 08:19 ʼn boodskap aan De Villiers gestuur waarin hy hom bedank vir sy pogings om beleërde boere by te staan. “Kwart voor tien (die oggend) was hy nie meer daar nie,” het De Villiers gesê.

De Villiers het Maandag aan Maroela Media gesê hoewel dit gesuggereer word dat die droogte ʼn rol in Viljoen se dood kon gespeel het, is dit ook die sogenaamde winsdroogte wat talle boere op hul knieë het.

Hy het gesê moeilike vrae gaan gevra moet word oor die rol wat instellings soos banke in baie boere se verknorsing speel. “Ons kan nie net die natuurdroogte blameer nie. ʼn Droogte dagvaar nie. Hy maak jou maer en hy maak jou nederig. Dis ʼn bank wat dagvaar. ʼn Droogte verkoop niemand uit nie, dis ʼn bank wat dit doen,” het De Villiers gesê.

De Villiers het gesê daar het ná 2018, toe die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding ʼn al hoe groter knelpunt geword het, ʼn “brutale verharding” teenoor boere plaasgevind. En terwyl ʼn moordende droogte in talle gebiede voortduur, waarsku De Villiers dat baie boere nie net slagoffers van die droogte is nie, maar ook van “winsloosheid”.

Hy het gesê hy het net Vrydag namens boere van die Bultfontein-streek die sakeplan van WVS Agri, ʼn nuwe koöperasie in die gebied, afgehandel. Viljoen was deel van dié inisiatief. Boere, werkers én lede van die gemeenskap vorm deel van die koöperasie, wat ʼn poging is om werk te skep en volhoubare winsgewendheid vir die streek te verseker.

Hy moedig ook soortgelyke koöperasies elders in die land aan.

De Villiers het gesê hulle wil graag met banke en landbou-ondernemings vergader – sonder ʼn voorafopgestelde agenda – oor oplossings vir die bedryf. “Kom praat net met ons sodat ons die geleentheid kry om sáám na ʼn plan te soek,” het hy gesê.

De Villiers het gesê die band tussen landbouers en verbruikers moet ook versterk word. Een manier is vir verbruikers om direk in boerdery-ondernemings te belê en deel van die produksieketting te word.

  • Begrafnisreëlings vir Viljoen was Maandagoggend nog nie afgehandel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

#Hartseer ·

Riv Willie. Van ń saggeaarde man vat dit baie! Sterkte aan familie

Lizelda ·

So, verskriklik hartseer om van die lyding van mens en dier te moet lees. Ek weet nie HOE doen die boere dit nie. My innige simpatie aan die familie.

Mb ·

Viljoen het saam met sy seun geboer. WH, ek is baie baie jammer vir jou want nou moet jy alleen die wa deur die drif trek. Dit is so hartseer. Mens verstaan nie al die dinge nie. Baie sterkte aan die familie.

Karlahari ·

Ai boere.
Ons harte gaan uit na julle.
Ons moet saam bid en glo vir uitkoms. In my opinie is n plaas boer een van die gelowigste mense. Want hy glo altyd dit gaan reën en beter gaan.
Kan daar nie n aanneem skema van stapel gestuur word waar vee sonder weiding uitgeplaas word na ander areas en die aanwins 50/50 verdeel word nie?
Ek verstaan karoo diere gaan nie by die kus aanpas nie. Maar kan daar nie plan gemaak word nie?

Pieter ·

Ja ons blankes moet ons boere by staan en help want die sleg ANC regering gaan dit nie doen nie wat my kwaad maak is dit is ons belasting geld as dink die ANC dit behoort aan hulle ek wens net ons blankes wil wakker skrik en standpunt begin in neem

Retha Basson ·

Uiters tragies. Dit moet wreed wees om jou diere te sien doodgaan.
Ag Here gee asb vir elke boer uitkoms vir sy ongunstige situasies. Here U is in beheer. Skenk genade waar dit nodig is.

Boxer ·

Hi MM. Wil net weet is dit nie onteiening sonder vergoeding nie. Sterkte aan die familie en al die boere wat swaarkry.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Boxer

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Poppie ·

Ag rerig nou… Moet MM nou elke keer reg gehelp word…. Goeie begripper het n halwe woord nodig.. Mens en dier gaan dood en ons warry oor n simpel woord ????

Lewis ·

Die invloed en realiteit van die droogte op mens en diere word deur hierdie berig en foto duidelik uitgespel. Dis hartverskeurend. Sal die Vader nie maar asb uitkoms gee nie. Jou ope brief dr. Willie verklank baie van die lesers se gemoed op hierdie stadium in SA. Dit raak slegs diegene met ‘n gewete. Die wat dit nie het nie verstaan dit nie. Dankie vir jou pogings om ‘n verskil te maak.

Maxi ·

Banke is harteloos, ek weet, ek werk vir een. Hul sal nooit tegemoetkomend wees nie. Hul sal die laaste bloed uit jou suig.

Johan ·

My hart is so naby aan ons boere hier in Suid Afrika.

My oom het geboer daar in Sannieshof, hy was die persoon na wie almal met hul probleme gegaan het om bemoediging te kry. Sy woorde was telkemale aan my; “Onthou more sal die son weer skyn”

Tog het hy vroeg in Desember 2009 sy familie almal gegroet die oggend en sy lewe geneem in Sannieshof polisie stasie.

Dis eers na die tyd dat ons moes uitvind Absa hom gedreig het met die afneem van sy plaas weens skuld wat die oorsaak was van 6-jaar agtereenvolgend droogtes.

Waar is die droogtehulp wat so mildelik aan ons boer beloof word? is daar geen manier hoe ons-ons boere REGTIG kan help teen droogte teespoed? iets wat ons almal gaan voel as ons boer val?

Sterkte aan al die opregte Boere van Suid Afrika en mag God jul seen met genade en voorsoed!

* Onthou altyd; die son sal more weer skyn!

– In herhinnering, Oom Carel

Dries ·

En die hartseer van alles is dan word die boer se plaas om trent weg gegee meeste van die tyd koop die mense se vriende wat in die bank werk die plaas die banke is soos die regering kyk net na hulle self en hulle vriende skande

Diere ·

Jammer oor Mnr Vijoen en alle boere wat deur dit trauma gaan. Maar my hart bloei vir die arme diere. Net om die pic te sien van die skapie wat by die bak le het vir my ‘n geweldige knop in my keel gegee en toe vloei die trane net. Dit is so so sad.

Anja van der Merwe ·

Dagsê Frederik

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Siener van Melbourne ·

Ai, baie hartseer. Hier in Australieë is ook n droogte aan die gang. Die regering het maar lank gevat om in te spring met hulp. Maar tenminste is die regering ondersteuned. Sterkte vir alle boere van n gewese landbouer.

Desperaat ·

Waar is jou bydrae aan Burre Burger? Eks oud en afgeleef maar kan darem n paar sente gee. Komaan daars baie rykes hier onder ons!!!!!! Maak n verskil

My mening ·

Dit moet seker lees “onteiening sonder vergoeding” en nie andersom nie.

Moeggeploeg ·

Dis nie net “wins” droogte wat druk nie.
Daar is ander goed wat bydra soos:
Geweld teen boere,
Uitsprake teen boere,
Veediefstal,

Met alles wat druk, raak man se emosionele standvastigheid swak.

Baie landsburgers help ongelooflik vir boere tov voere, kospakkies ens.

Laat dit rugbaar word, en laat politisie asb hul optrede en uitsprake teenoor boere diensooreenkomstig verander.

susan ·

Diere ja. ‘n Boer word emosioneel afgetakel om sy diere en mense te sien swaarkry. So ja Diere was jy Al op ‘n plaas die afgelope maand?

Wonner ·

Ek wil graag weet wat gaan die banke met al die grond maak.Hulle wil nie die boet help om dit te behou nie maar hulle gee nuwe lenings aan ouens om dit te koop…verstaan dit nie.

Ella ·

Ko-operasies is net so hard met boere wat swaarkry en ly onder die droogte.
Hulle gee lenings totdat n boer nie meer kan nie dan lê hulle beslag op die plaas. Daar is geen kopers want eintlik kry die meeste boere swaar.
Bose kringloop wat in die land aangaan.
My innige simpatie aan die familie met hulle groot verlies.

schaun ·

Sjoe dis vreeslik hartseer nou moet hulle nog bakhand staan sodat die anc regime hulle kan bystaan ,ons moet ons eie onafhanklike tuis staat kry dan kan ons doen wat gedoen moet word

Hasie ·

Ons eie tuisland sal ons enigste hoop wees. Ons moet dit kry!!!

JP ·

Hierdie bittereinders se skuld behoort af geskryf te word, dit is mense soos hulle wie kos op my en jou tafels sit, sterkte aan al die groot hartseer in ons land Suid-Afrika

Pieter ·

Nee jp die banke is mos soos die ANC regering kyk net na hulle self

Christien vd Westhuizen ·

Dis die korrupte geldgierige ANC regering wat die oorsaak van al die ellende in SA is punt

Erica ·

Asof die droogte nie erg genoeg is nie moet die boere nog elke dag vir hulle en hulle vee se lewe vrees. Here gryp asb. in!!

Hendrik ·

Droogtes was daar al lankal ook. Dis die totale landbou onvriendelikheid vanaf regeringskant wat mismoedig maak. Ek boer maar net 25 jaar, maar dis nou moeiliker as ooit. Ons samelewing ly aan ernstige siekte. Wat reg was is nie meer nie. Kyk maar net “Boer soek ‘n vrou”. Ons het God gelos.

Boer ·

My oupa was ‘n boer. Ek lees hierdie goed en dis net so tragies. Boer is in jou bloed. Dis ‘n vreeslike innerlike stryd om dit te los. Ek kan net sê sterkte WH. Vra hulp as jy sukkel. Vra bemoediging en volhard in die gebed. Baie sterkte ook aan sy vrou en die res van sy gesin. Ons bid daagliks vir reën. Soos die Bybel sê: kom ons bemoedig mekaar en help waar ons kan.

Bamsie ·

Die man moes baie pyn (fisies, emosioneel) oor n lang tyd deur gemaak het. Enige een van ons kan knak. Die arme familie.

Nog n Boer ·

Boere is n spesie op ons eie. Ons glo elke dag dat reen more sal kom en dat dit volgende week beter sal gaan. Ook het ons n trots wat maak dat ons sal vrek voor ons vra vir hulp. Dit veroorsaak dat teen die tyd dat ander besef daar is moeilikheid is omdraaipunt reeds verby. Bid vir reen en vir elke boer in hierdie land asb. Die fisiese,emosionele,finansiele en godsdienstige krisis is oorweldigend

[email protected] ·

Die bevolking het vanaf 1994 tot 2019 toegeneem met 17miljoen mense. Hoeveel nuwe damme is in die tyd gebou? Hoeveel rioolstelsels werk nie meer nie en riool beland in riviere. Baie mense kan die verval nie meer aanvaar nie.

Tharina ·

Aletta, WH en Jane, baie sterkte vir julle. Mag die Here julle vashou in hierdie moeilike tyd. RIV Willie. Ons sal jou altyd onthou.
Antoon en Tharina Powell

Vryheid ·

Ek het vanmiddag voer gaan koop, n sakkie mielies R190 ex btw. Hulle verkoop sakkies 50kg wat al die gemorste voer wat op die grond val wat hulle dan opvee en dan in sakkies sit- dit kos R260 ex btw. Hoe kan enige mens dit bekostig om vee te voer teen die pryse!

Johan Maritz ·

Vryheid onthou die kapitalis maak sy meeste geld uit die persoon in nood. Hy sal die laaste bietjie uit jou suig en jou dan nog druk vir n druppel.

Talita ·

Volhard in geloof. Staan sterk deur die lyding en hartseer. Hy sien ALLES. Mag God met ons wees.

Thomas Robbertse ·

Absoluut waansinning! Hierdie was ‘n Anker Boer en ’n Groot Man in die gemeenskap wat kos én werk verskaf het! Die finansiële instellings dóén hulle deel met die vernietiging van boere en landbou in Suid Afrika. Dis ‘n hartseer dag! ????

My ope vraag is: …nadat jy jou tafelgebed gedoen het wat die Hemelse Vader bedank vir die kos en die hande seën wat dit voorberei het,… hoe ruïneer dan jy die boere wat dit geproduseer het, sê my hoe?

Dis tyd dat daar ‘n Indringende Beraad van Banke gehou moet word om te besin! Hier bestaan ’n totale diskoers, kom vertel vir die gemeenskap en die boere van julle jaarlikse resultate en winste wat voortspruit uit die verbruiker en die boer, kom gee in dieselfde asem vir hierdie mense hoop en uitkomstes in ‘n tyd van nood en ongekende droogte, dit is immers nie hulle toedoen nie. Hou op om geld op regskoste en uitwinning te mors.

Come and show your worth and true colors!

Boer Maak 'n Pla ·

Geen kommentaar van niemand oor gelddruk wat deur banke op boere geplaas word nie! Skitterende voorstel dat boere en publiek saam kan belê en investeer. Die eerste boer wat met ‘n werkbare voorstel kom: Ek is in.

Jacoline ·

Dan is daar banke wat men’s weg wys en weier om te help! Omdat ons deur n moeilik tyd op die plaas gaan, Ons is al jare by hulle.
Was uit die veld geslaan.

Pieter ·

Maar as jou bank kostes moet af gaan dan kan jy maar in die minus gaan dit is ok

Heksie ·

Dis tragies … maar ek hou aan bid vir reen vir ons hele land … en veral vir ons boere!

Johan Malan ·

Ons sal werklik moet begin om te bid sonder ophou soos Paulus vra in 1 Tes 5:17. Die Here het alle mag Hy kan en wil help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.