Boer Nick: ‘Ek kies om deel te wees van die oplossing’

Nick Serfontein, hoof van die Sernick-groep. (Foto: Facebook)

Nick Serfontein draai nie doekies om as dit by grondhervorming kom nie. Veral nie wanneer hy die regering roskam oor hul versuim om suksesvolle grondhervorming te verwesenlik nie. Maar ook nie teenoor sy medeboere wat hy glo deel moet wees van die oplossing nie.

Serfontein glo nie in tou opgooi nie. “Ons ervaar ʼn land wat oorkook van rassisme, radikalisme en korrupsie. En die ergste kom nog. Maar hulle sê mos, as jy deur hel gaan, moet jy net aanhou. So, ons moet net aangaan,” sê hy.

Serfontein is ʼn Bonsmara-boer van die Vrystaat wie se naam verlede jaar bekend geword het nadat hy ʼn eerlike en openhartige ope brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het. In die brief kap hy Ramaphosa omdat die regering swart opkomende boere versaak het, ʼn mislukking wat hy toeskryf aan korrupsie, beleid en ʼn gebrek aan leierskap, kundigheid en politieke wil.

Dié brief het nie net daartoe gelei dat Serfontein ʼn persoonlike oproep van Ramaphosa ontvang het om die uitdagings in die landbou en Serfontein se voorgestelde oplossings te bespreek nie, maar ook dat Serfontein deur die president by die raadgewende paneel oor grondhervorming ingesluit is.

Serfontein was vandeesweek een van die sprekers by Laeveld Agrochem se Seil-Safari-landbouskou.

Hier het hy aan meer as 2 000 boere en ander landbourolspelers vertel hoe hy in 1983 begin het met ʼn stukkie grond naby Edenville en 30 Bonsmara-verse wat hy met sy inkomste as ingenieur gekoop het. Vandag is hy direkteur van die groot en suksesvolle Sernick-groep met ʼn reuse-Bonsmara-stoetery en sowat 550 werknemers. Dié boer ken van bloedsweet en klippe kou.

En dit is juis waarom hy soveel empatie het met die sukkelende swart opkomende boere in Suid-Afrika en die regering se versuim om hulle die nodige ondersteuning te gee. “Ek het self die hel waardeur hierdie mense gaan, ondervind. Soos afkophoenders hardloop hulle in hierdie land rond en probeer net iets regkry. Dit is mense wat regtig ambisie het, wat regtig ʼn passie het, maar wat verraai is deur ʼn korrupte stelsel.

“Dit is hoekom 90% van grondhervormingsprojekte in Suid-Afrika faal. Jy kan nie vir ʼn mens sonder ondervinding, sonder enige opleiding, sonder toegang tot finansiering, sonder diensverskaffing, sonder toerusting ʼn stuk grond gee en verwag hy moet ʼn sukses daarvan maak nie. Hy gaan sy g*t sien, dit is onvermydelik,” het Serfontein gesê.

Moeg gewag vir die regering om doeltreffende grondhervorming te laat plaasvind, het Serfontein besluit om self in te spring. In 2015 het die Sernick-groep begin om opleiding te gee aan swart opkomende boere waardeur hulle nie net geleer word hoe om volhoubaar te boer nie, maar ook leer oor finansiële bestuur, plaasinfrastruktuurbeplanning, verkryging van finansiering en toegang tot markte.

Serfontein sê 600 opkomende beesboere by twee opleidingsentrums ontvang vanjaar basiese landbouopleiding. “Uit hulle gaan ons 300 kies wat intensiewe opleiding sal ontvang, uit hulle gaan ons 50 boere vat van opkomende status na kommersiële status en volgende week plaas ons ons eerste beeste by ses boere.”

Oor skeptici wat skouers optrek en vra hoekom boere moet help om suksesvolle grondhervorming te laat plaasvind, het Serfontein ʼn reguit antwoord gehad. “Want dit is moreel reg om iets terug te gee aan iemand van wie iets met geweld weggeneem is. Waar kom Ramaphosa vandaan? Hy het grootgeword by Louis Trichardt. Hy is opgelaai met ʼn lorrie en aangesê ‘jy kan nie hier bly nie, ons gaan dump jou in Venda’. Kêrels, dis nie reg nie. Julle kan nou maar met my stry tot die dood toe, dit is nie reg nie,” het hy gesê.

“[Grondhervorming] is maatskaplikgewys die regte ding om te doen, want dit gee waardigheid aan iemand om iets te kan besit. En die mees tragiese van alles is: daar is goeie vordering gemaak met grondhervorming, maar die manier waarop dit gedoen is, verraai die mense vir wie dit juis bedoel was.”

Nick Serfontein.

Hy het uitgebrei oor die manier waarop grondhervorming tot dusver deur die staat aangepak is en hoe dit misluk het. Hy glo nie die regering is in staat om grondhervorming suksesvol te doen nie. Hy meen daar is egter geen kans dat die ANC nou kan terugkrabbel oor onteiening sonder vergoeding nie. “Hulle kan nie nou omdraai nie, dis te laat. Hulle gaan mos face verloor.”

Hy glo egter die ANC is deeglik bewus van hoe die onteiening van plase in Zimbabwe die eens suksesvolle Afrika-land die afgrond in gestuur het. “Gaan onteiening sonder vergoeding gebeur? Natuurlik gaan dit gebeur. Dit sál gebeur. Gaan dit gebeur op produktiewe grond? Ek sien nie dat dit sal gebeur nie. Ek sien dit net nie.”

Serfontein sê hy glo die private sektor het ʼn belangrike rol om nou te speel, “om die stukke op te tel en te hardloop met grondhervorming”.

Hy het verduidelik met kommersiële boere aan die een kant, ʼn groep ontevrede en woedende swart voornemende boere aan die ander kant, finansiële instellings wat verkies om die kat uit die boom te kyk en niks te doen nie en die regering wat nie in staat is om grondhervorming te laat realiseer nie, ontstaan daar ʼn lugleegte in die middel waarin daar niks gebeur nie. Dit is dáár waar Serfontein meen die private sektor ʼn rol het om te speel.

“Ons soek een organisasie om al die goed bymekaar te bring om dinge te laat gebeur. Die grond is daar, die grondhervormingsfonds is daar, die mentorskap is daar, die projekbestuur is daar, die landbou-organisasies is daar, almal is daar – ʼn one-stop-shop. Is dit ʼn droom? Dit is ʼn werklikheid en besig om te gebeur. En dit gaan landbou in Suid-Afrika verander. Dit gaan vir almal meer geleenthede skep. Ek glo daar is meer geleentheid vir kommersiële boere nou as voor grondhervorming begin het.”

Serfontein het gesê boere het nou een van twee besluite: Emigreer, of erken Suid-Afrika het probleme en wees deel van die oplossing. “Ons vra vir almal om tafel toe te kom. Jy kan tafel toe kom of jy kan op die spyskaart beland. En dit is nie ʼn dreigement nie. Dit is nie meer business as usual nie, dinge het verander.

“Ons vra vir elkeen om net ʼn bietjie te gee en deel te wees van die oplossing. Net ʼn bietjie, al is dit bietjie sweet, al is dit jou vaardighede, al is dit omgee. Stap na jou swart buurman toe en vra vir hom, is jy oukei? Daardie soort houding kan Suid-Afrika verander. En dit is al wat ek vra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

jy weet ·

Wat van die blanke opkomende boere wat geen hulp of kennis het nie en net dr google moet vra as hulle iets wil weet. Ek wens me se wil ophou gaan op kleur noem dit liewers opkomende boere. Dis nie net een kleur wat sukkel nie almal doen. Meeste opkomendes het mans wat werk en vrouens wat die boerderye hardloop!!

Anoniem ·

Baanbreker by Uitstek ! Sterkte Nick met Oompie Ramaphosa en sy ondeurdagte planne met grondhervorming ???

Andreas ·

Diesulkes soos Ramaphosa wat boere is, is almal ge-BEE, dis hoekom hulle ook geen kundigheid het om ander van daar te bedien of oplossing kan bied nie, hulle het nie op die swaar manier deur die ‘ranks’ gekom nie. Dit is die kruks van die storie.

Andreas ·

Maroela, kom ek sê verder so, enigiemand wat nie deur die stelsels is nie, of dit nou landbou of industrie is, het n groot agterstand om oplossings vir probleme te vind. Kom ek spel dit vir julle verder so uit, juis omdat mense ge-BEE is, is hulle daarvan ontneem dat hulle kundig is betreffende probleme en oplossings, dit is NIE omdat hulle swart is nie, maar omdat hulle ge-BEE is.

Andreas ·

Michelle Hopkins beduie oor ‘n ander onderwerp hier langsaan, sy moes die pad stap om te verstaan. As mens ge-BEE is, het jy nie die pad gestap nie!

Andreas ·

Dit is in effek nie SEB nie, dit is SEO = Swart Ekonomiese Ontmagtiging, dit wat die resultaat nou al vir oor die 20 jaar is. Die ANC stelsel het hulle versaak en ontmagtig.

Judge Dredd ·

My persoonlike mening is dat hierdie tipe boere wat meelopers van ANC se grondhervorming planne – suksesvolle boere/megaboere is.

1) Hoe meer ander boere hulle kan oorreed om hul grond weg te gee, hoe veiliger is hul eie stuk grond.
2)Gewoonlik het hulle stukke grond wat hulle nie hoef te gebruik nie, en dus kan weggee of kan bekostig om ‘n stuk grond te verloor.
3) Hulle is redelik belangrike rolspelers wat betref voedsel sekuriteit wat hulle dan kan gebruik as rede om beskerming.(regering nie aan hulle grond moet raak)

Moenie vergeet AgriSA wat baie van die die ryk wynboere verteenwoordig , was vroeer ‘n meeloper van Cyril se plannetjies.

Vraag is – wat van die gewone minder suksesvolle boer wat nie bogenoemde kan beskostig nie?

Stem ·

@judgd dredd. Ek stem heeltemal saam, net jammer daar is so min mense wat dit sien.

Haan ·

Maar natuurlik! Hulle is nodig om voedselsekerheid te verseker terwyl die kleiner boere geteiken word. ANC het in dié opsig uit Zim se foute geleer.

Andreas ·

Judge, als begin by ondervinding, daaaar van die grond af, dis hoekom Cyril wat ook ‘n kommersiele en wildboer is nie die oplossings het nie, hy is Ge-BEE. Daardie ouens het nie deur die stelsel gekom nie, soek die antwoord daar.

Wow! ·

Wel gedaan Nick. Voorspoed met hierdie besonderse taak wat aan jou toegeken is. Ek ondersteun jou denkwyse ten volle en glo dat politici jou insig en raad ter harte sal neem.

Jan ·

Dankie Mnr. Serfontein vir die voorbeeld wat jy stel . Jy gaan kritiek kry van n klein groepie mense maar dit sal nie opweeg teen die sukses wat jy tentoonstel nie

Ilze Mostert ·

Wow Nick Serfontein. Dis absoluut awesome. Ek glo en vertrou dat als baie goed sal verloop vir AL ons land se mense.

Buite Stander ·

Wonder hoeveel van sy sowat 550 werkers is veiligheidsbeamptes wat tot die tande toe bewapen is en sy plase 24/7 beveilig. Die res van ons moet maar wakker slaap of uitgemoor word.

W W Rsa ·

Sterkte jy het dit in jou om te kan boer dit is n leefstyl en in jou hart.Wel as hul niks kon bereik op gekonsolideurde grond van verlede ook nie in die tyd.Vir alles wat ek besit moes ek voor gewerk het niks was verniet Mnr Nick as plan A nie werk probeer ons maar plan B.Goeie vraag wat gaan gebeur as plan B ook nie werk STERKTE!!!! Ek weet waar van ek praat.

Ben Prinsloo ·

Baie dankie vir jou onbaatsugtige hulp Nick. Net jammer om jou teleur te stel ou maat maar ek weet van boere hier op boontoe in Afrika wat dieselfde projek probeer het. Jy sal ons maar self antwoord oor hoe suksesvol hulle met hulle projekte was. Een ding weet ek, as dit nie vir die buitewereld was nie dan was Afrika al effens leeg van mense. Sterkte Nick ou maat maar ek dink daar is mense wat dalk n klein bietjie beter weet en nie alles met oogklappe sien nie.

dejager ·

Die skrywer is iemand wat al baie vermag het in die landbou.Ek respekteer hom daarvoor.Ek werk elke dag met mense en vir baie delades al en daarom glo ek nie sy plan sal slaag nie.Die plan dien ń ideologie en nie die werklikheid nie.Sy 50 boere sal hy moet ondersteun tot by die graf.Die beginsel is dat as jy deur eie inisiatief en vermoëns die geld kon bymekaarkry om die plaas te koop,te bewerk en uit te bou dan het jy die vermoë tot sukses .Indien nie,dan nie.
Hierdie mense het goeie bedoelings maar dit is onrealisties.
Hulle gaan vir n paar jaar met genoeg geld goed laat lyk word en voorgehou word as ‘tokens’ van suksesvolle bemagtiges .
Jammerhartigheid het nog nooit beskawings gebou nie.

SHL ·

Serfontein maak tog seker dat hulle die grond dan weer oorhandig aan die wat hulle van daardie grond verdryf het nl. die San mense. Belaglike redenasies waarmee onkundiges belieg word. Hoeveel van jou kapitaal is reeds in oorsese banke, net vir die dalk iets gebeur?

BlinkStephaans ·

Nick… ek, en ek is seker n hele klomp ander mense hou van hoe jy dink. Ek hoop net van harte jou insluiting by hierdie paneel is nie net n poging van oom cyril om die boere stil te hou. Baie voorspoed met jou taak. Dit is groot en opdraend. Iewers moet iemand net n begin maak… en hierdie is daai begin. Ek hoop net jou stem is genoeg om die regering van die dag se oë te laat oopgaan…want 90% van “our piepol” dink steeds die plaas sorg vir homself en die boer sit op die stoep en tel geld. En so is dit maar deur die bank… nienand… en dit sluit die regering in… dink hulle moet werk ook nie…jy moet net kan scheme…dan gaan jy groot geld maak. En weereens is dit maar die Suid~Afrikaner met die europese velkleur wat met ñ werkbare plan vorendag kom en graag die land wil sien werk… vir almal wat daarin bly….terwyl die regering die een fiasko na die ander optoor en politisie daaruit verryk word. Wanneer jy uiteindelik iewers die insig laat opvlam het en die wiele van jou plan kom aan die beweeg… gebruik asb jou invloed om die ou en die nuwe boere op hul plase te beskerm.

Adam ·

Welgedaan Mnr Serfontein en sterkte met jou taak. Slegs ‘n boer wat self deur die trauma is van ‘n suksesvolle plaas opbou in ‘n land waar die regering letterlik geen hulp aan boere verskaf nie, kan met so’n kreatiewe plan vorendag kom. Dit terloops was nog altyd my argument dat slegs suksesvolle boere met jare se bloedsweet agter die rug, die grondkwessie kan oplos en nie ‘n klomp laventelhaan-politici nie.

Veritas ·

Wat Mnr Serfontein nêrens meld nie is die verskil tussen werklike boere en plakkers.
Enige boer kan jou vertel dat boerdery nie kinderspeletjies is nie en net dié wat in hart en siel boer is, sal dalk ‘n sukses daarvan maak.
Die regering se plan is duidelik net om politieke munt uit die situasie te slaan. Die verkiesing is om die draai en die ANC is maar bewerig oor die uitslag, daarom die gehamer op die grondhervormingsplan.
Net die landbougrond, wat onbewerk lê en besit word deur persone wat geensins belangstel om te boer nie, sal genoeg wees om die werklike swart boere te akkomodeer. Die res van die grond gaan in staatsbesit bly en sodoende word die ANC se sosialistiese plan verder gevoer.
Natuurlik sal die EFF en BLF raas en skreeu daaroor maar innerlik is dit wat hulle graag wil hê. Soveel as moontlik grondbesit vir die staat is tog waarheen hulle mik.

Henry ·

Ja en so is daar talle boere wat eweneens met bloedsweet, trane en ‘n groot skeut goeie geluk, vandag suksesvolle boerderye bedryf. Sommige groter bedrywe as andere, maar wat nietemin lewensvatbaar en winsgewend is. Soos met enige besigheid die geval is, skop jy nie ‘n winsgewende boerdery agter elke bankkrot bossie uit nie.

Waarom boere eensklaps vanweë een of ander ‘skuldgevoel’ oor sg onregte van die verlede, nou die agtergeblewe kallers uit die putte van hierdie droewe land moet trek, weet nugter.

Geld dieselfde vir alle suksesvolle besighede, bedrywe, vervaardigers, korporasies en so aan? Word hulle ondernemings deur soortgelyke bedreigings as die van die boere geteister?

“Grondhervorming” ruik, proe en klink in ieder geval alhoe meer na ‘n ‘oulike’ plaasvervangende beskrywing vir kommin nasionalisering.

Moet ons nie hierdie lastige olifant eers eerlik beloer, alvorens daar met groot gebaar en allerlei PK sprokies vorendag gekom word nie? Soos die geval met enige suksesvolle besigheid, het die boer en/of sakeman/vrou, weinig tot geen tyd om opleiding te verskaf, terwyl die wolf dag vir dag voor die deur staan nie.

Subsahara Afrika is vol valse verwagtinge en gefaalde Utopiese drome.
In meeste gevalle is emigrasie die enigste uitweg wanneer nasionalisering, oftewel ‘grondhervorming’ soos in ons buurland en verder noordwaarts toegepas word.

ZAR ·

Jy praat die waarheid Henry, hulle manipuleer die Boer deur met sy gevoelens te speel.
Ek hoop die meeste mense sien raak waarnatoe dit op pad is.
So terloops, ek was vir baie jare in die konstruksie bedryf, daar was ook vir ons aangesê dat ons die werk kan kry as ons swartmense met jong maatskappye touwys maak. Ons maatskappy het ingestem, want ons wou werk hê. Ons het hierdie klein maatskappy gehelp en opgelei, binne 1 jaar het ons teen hierdie maatskappy gekwoteer. Hulle het van toe af al die werk gekry op die myne en op Eskom.
Leer uit ons foute uit.
Hulle kom by jou voordeur in.

Stoffel ·

Die stomme opkomende boere moet besef hulle saal ‘n moeilike perd op en moet dalk gehelp word om eerder iets anders te probeer, anders staar hulle groter ellende in die gesig. Klimaatverandering en watertekorte gaan landbou ook baie hard slaan in die dekades wat kom en selfs huidige mega boere gaan erg geraak word. Staatsplase moet eerder gestig word om voedsel teen lae pryse aan arm mense in staatswinkels te verkoop. Geen luukses nie, net die basiese om pense vol te hou en onrus te vermy. Dit klink wel soos die ou USSR, maar om ‘n kapitalistiese stelsel in die landbou te vestig gaan problematies wees.

Gaitsigubib ·

Baie goeie insiggewende kommentaar bo, waarop ek moeilik iets kan bylas. Ek hoop Nick lees dit en besef hy het n opdraande tryd. Sterkte Nick.

GBlitz ·

Wat Serfontein doen is sekerlik prysinswaardig. Maar gaan dit die EFF stop, gaan dit die BLF stop, gaan dit plaasmoorde stop? Ek twyfel. Want die term grondhervorming beteken iets gans anders wanneer dit deur hierdie ekstremiste gebruik word as wanneer Serfontein dit gebruik. Vir Malema en kie. is grondhervorming n eerste stap na die vernietiging van private eiendomsreg wat weer n belangrike stap sal wees in die rigting van n sosialistiese Suid-Afrika. Doen goeie dinge en mooi dinge vir ander as jy dit kan doen, MAAR nie met n simplistiese, eendimensionele visie nie. Daar is n groter doel agter grondhervorming. Mnr. Serfontein, gaan praat bietjie met die EFF en kyk of hulle jou projek wil ondersteun. Vra jouself dan af hoekom nie? as hulle jou die deur wys.

Basie ·

Verlede jaar was daar ‘n paar berigte in die internasionale media oor 15 duisend SA boere wat na Rusland wil emigreer. Moet seker wees omdat hulle nie die ‘oplossing’ binne SA sien nie.

Francois in NZ ·

Sterkte oom Nick,
Ek en Jan en nog n hele paar van oom se oud kollegas bou nou pad in NZ. Baie makliker om hier met die Herfords te Boer as in die Noord Vrystaat en gaan dit goed!

Johannes F ·

Sterkte Nick.
Ek persoonlik het nie veel hoop vir jou projek nie maar sal graag verkeerd bewys wil word.
Toe jy in 83 begin het, was jy en die mense met wie jy besigheid gedoen het meestal eerlike mense met integriteit wat absoluut noodsaaklik is vir sukses. Dit is gladnie meer die geval vandag nie. Almal is net agter maksimum persoonlike gewin ten alle koste.
So ek sal verstom wees as jou opkomende boer 5 jaar nadat jy hom ophou help het nog n bees, trekker, impliment of pomp oorhet.
Ek het dit self beleef in meer as 1 lewensfasette. Hieruit dus my slotsom dat bittermin van die mense die vermoe het om hulself verder op te bou sodra hul op hul eie gelaat word.
Sal graag oor 20 jaar jou opinie wil hoor.

OOP OE ·

Oom Nick. Jou intensies is suiwer. Dit gaan ‘n opdraende stryd wees. Hou geloof.

Grondloos ·

Die problem is oorbevolking. Maak nie saak hoeveel grond weggegee word nie, daar gaan altyd nog mense wees wat grond wil he! Wat gaan jy dan doen?

Gaitsigubib ·

Grondloos ja dit is ‘n probleem, maar verstedeliking is eintlik ‘n algemene wereldwye tendens. Mense wil normaalweg nader aan ‘n stad wees want daar is skole, dokters, winkels, werk, ens. Om die plateland aanloklik te maak vir jongmense, veral vir jong boere, is in ander wereld dele ‘n probleem. Die tendens is verder om by die kus te gaan woon. Dis net in SA waar die regering dink dis baie romanties om ‘n klomp mense op ‘n afgelee gebied, sonder dienste aan hul eie lot te gaan oorlaat. Hulle sal nog die wrang vrugte van hul eie obskure agenda pluk. Mense sukkel reeds om bo die broodlyn te lewe, nie agv n loon wat te laag is nie, maar agv die feit dat die rand besig is om sy waarde te verloor. Jy sal soos in Zim n kruiwa gebruik om jou beursie rond te stoot as jy gaan ‘n brood koop!

George in Bloem ·

Good luck with that. Let me know in ten years time how that’s working out for you.

T.de Wet ·

Nie alle grond in Blanke besit is met geweld verkry nie . Moet dan slegs die grond wat met geweld verkry is terug gegee word ? Wat van die grond wat op n eerbare wyse deur Blankes bekom is maar met geweld van hulle vervreem is bv. die grond wat Retief bekom het ?Gaan dit aan die Blankes terug gegee word ?
Die grond waar Ramaphosa van verwyder is is nie sonder vergoeding gevat nie maar hulle
is na n alternatiewe stuk grond verskuif.Gaan die eienaars van grond wat sonder vergoeding vervreem word ook alternatiewe grond kry ?

Klip in die bos ·

Die grond waarop ons staan is Heilige grond. As almal net dit wil raaksien. Ons het ons roeping ontvang, vanaf. 1652 af . Jan van Riebeeck moes n skynende lig in n donker wereld wees. Wat gaan ons met die roeping maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.