Boer se koeie in die veld geslag

Foto: Niel Bierman

Foto: Niel Bierman

Niel Bierman, ʼn boer van Ogies in Mpumalanga, het gesê hy is baie hartseer oor sewe van sy koeie wat deur veediewe geslag en hul ingewande in die veld gelaat is.

Bierman het aan Maroela Media gesê die trop koeie het buite in die veld geslaap, en toe die veewagter Vrydagoggend by hulle aankom, het hy die ingewande en pense van twee koeie in die veld opgespoor. Hy het Bierman dadelik ontbied en hulle het uiteindelik op nog vier koeie se ingewande afgekom. “Een van die koeie se agterpote is gesny en sy het nog in die veld bly lê,” het hy gesê. “Ek moes haar dadelik op die bakkie laai vir ʼn noodslagting. Ek het dus altesaam sewe koeie verloor.”

Volgens Bierman word die koeie se haksening gesny sodat hulle nie meer kan staan nie, en dan word hulle vir hul vleis geslag. “Ons het van die koppe ook in die veld gekry,” het Bierman gesê.

Hy sê die beeste word geslag en die vleis word dan verkoop. Die polisie het die toneel ondersoek en DNS-monsters van die ingewande geneem. “Hulle vergelyk dit met vleis wat verkoop word, om te bepaal of dit van dieselfde koeie af kom,” het Bierman bygevoeg.

Hy sê hy veediewe het vyf jaar gelede ook toegeslaan en ses maande gelede het hy drie beeste verloor. Van sy bure het glo al vyf bulle op dieselfde manier verloor.

“Mens raak geheg aan jou vee,” sê Bierman. “Mens ken hulle, al is daar baie. Jy onthou ʼn storie van elkeen.” Hy sê hulle moet al die beeste bymekaar kry om die nommers te lees sodat hy kan bepaal watter koeie hy verloor het. “Hulle was tien teen een dragtig ook. Hulle het in die veld gestaan, gereed om te kalf.”

Die waarde van die koeie word op sowat R49 000 beraam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anno ·

Wreed, dis wreedaardig. Woorde ontbreek, mens en dier se lewe beteken vir hierdie wreedaards minder as niks. Daar moet net een keer ‘n persoon wees wat reg in eie hande neem en dieselfde met hulle doen sodat hulle weet hoe dit voel om te ly.

VerVanRyn ·

Ek lewer kommentaar op hierdie stelling met die aanname dat u ‘n Christen is. Om reg in eie hande te neem is net so erg soos om beeste in die veld aan hul bene te begin slag en later eers die bees te dood. Dit is wreed wat hierdie mense doen, ekt dit al self ervaar en gesien en die kwaad het in my ook gebruis, maar die antwoord lê nie by wraak nie. Hierdie land is soos die sterwende beeste en as ons deur die oë van ‘n boer kyk is die enigste uitweg om die bees van kant te maak. As Christen is dit nie ons werk nie, ons moet die Lewe verkondig, verlossing en vergewing, nie nog bloed soek nie.

Grassie ·

Sedert 1994 het honderde duisende (miljoene?) mense uit ander Afrikalande ons land onbeheersd ingestroom. Verder het die instelling van kindertoelae ‘n abnormale bevolkingsaanwas veroorsaak. Ons land kan hierdie wanbalans van inwoners nie dra nie. Met ‘n syfer van 30% (?) werkloses is daar miljoene sonder inkomste. Hierdie spul gaan al hoe meer begin plunder om te oorleef. Die boere gaan al hoe meer deurloop. Ek dink ook dat winkelsentrums vorentoe deur groot groepe van hulle gepluder gaan word.
Aan Niel Bierman – ek het voorheen ook ‘n bietjie met beeste geboer, pragtige Santas. My simpatie, vriend. As dit my oorgekom het – ek sou dit nie op ‘n verstandige wyse kon hanteer nie.

Jasper ·

Hoekom lewer die liberaalgesindes by Kurt Darren se berig nie ook hier kommentaar nie ?

Jandri' Venter ·

By my in Machadodorp 3 beeste gekap en slag verlede Maandag aand nog twee gekap en Sondagaand een langs N4 geslag by Belfast

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.