Boer se moordenaar gevonnis

Freddie Tolman

Freddie Tolman (52) se gesin is verlig dat een van sy moordenaars gevonnis is, maar het nog baie onbeantwoorde vrae.

Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê Lamlani Booi is in die rondgaande hooggeregshof in Mosselbaai tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord. Regter Robert Henney het Booi tot ’n verdere 15 jaar gevonnis vir ’n kaping na afloop van die moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en vier jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Eugene Tolman, Freddie se seun, het gesê hulle hoop om nou afsluiting te kry. “My pa se moordenaar het nooit gepraat nie, so ons weet nie wat die motief was nie. Ons hoop hy sal nou praat en dat dit tot die inhegtenisneming van sy medepligtiges kan lei.”

Tolman is op 17 Desember 2014 buite Hartenbos vermoor. Eugene het destyds gesê sy pa het omstreeks 06:20 die oggend by sy plaashuis gery om sy werkers in Mosselbaai te gaan oplaai. Tolman se aanvallers het hom in ʼn lokval gelei en ʼn stomp in die pad geplaas. Die ses verdagtes het op hom losgebrand toe hy nie stilgehou het nie.

Eugene het gesê sy pa het sowat 1 km verder gery voor hy naby die Brandwag/Hartenbos-pad sy bewussyn verloor het. Hy is in die bolyf geskiet.

ʼn Paartjie wat van Brandwag na Hartenbos gery het, het Tolman se bakkie langs die pad gesien en stilgehou om ondersoek in te stel. Volgens Eugene het sy pa se aanvallers die ruit van die paartjie se Chev Avio uitgeslaan en die voertuig gekaap.

Die polisie het vroeër bevestig die gekaapte motor is naby die Danabaai-afrit in Mosselbaai gevind. Die paartjie is nie beseer nie.

Booi was reeds in aanhouding toe hy met die moord op Tolman verbind is. Hy is in hegtenis geneem in verband met ’n rooftog by ’n sakeperseel in die Heidelberg-omgewing. Vingerafdrukke het hom aan Tolman se moord verbind. “Ons sal graag die ander verdagtes in hegtenis wil neem,” het Pojie gesê.

Lees alle vorige berigte oor Freddie Tolman op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.