Boer se ‘ontvoering’ in Paraguay neem nuwe wending  

Daan Coetzee. (Foto: Verskaf)

Die dood van die Vrystaaste boer Daan Coetzee (75) in Paraguay het nou ʼn nuwe wending geneem nadat internasionale media onthul het dat Coetzee dalk nooit ontvoer was nie, maar eerder op ʼn “teregstellende wyse” doodgeskiet is. Die Paraguayaanse poniekoerant Diario Popular voer ook aan dat ʼn familielid van Coetzee, wat ook in Paraguay woon, glo nou ʼn polisieverdagte is.

Coetzee se broer Mauritz van Moreletapark in Pretoria-Oos het egter Sondag aan Maroela Media gesê dat hierdie bewerings “ongegronde bespiegelings” is, en dat sy broer inderwaarheid aan ʼn hartaanval dood is.

“Kyk, hy is waarskynlik deur die boosdoeners in die suikerrietlande ingevat nadat hulle hul eis aan Martie [Coetzee se vrou] gestel het. Ek glo hy was intensief met hulle [die vermeende ontvoerders] in gesprek. Maar voordat hulle hom kon skiet, het hy waarskynlik inmekaargesak en het hulle hom net daar gelos,” het Mauritz gesê.

“Dit is deur die naastes, die polisie wat op sy liggaam afgekom het, sowel as die patologie bevestig dat daar geen koeëlwonde of ander tekens van marteling of geweld aan sy (ver ontbinde) oorskot was nie.

“Martie het my gister [Saterdag] vertel dat sy by die pataloë in Asunscion die oorsaak van sy dood mondelings gekry het, terwyl die verslag nog opgestel word. Dit was natuurlik in Spaans. Dit stem ooreen met die eerste uitkenning wat op hul tuisdorpie Velarica gedoen is, en waar ʼn naby buurman en vriend ook ʼn ooggetuie was.”

Maroela Media het vroeër berig dat Coetzee se liggaam Vrydag in ʼn suikerrietplantasie naby sy plaas in Paraguay gevind is. Hy is vermoedelik verlede Sondag ontvoer toe hy oudergewoonte gaan stap het.

Sy vrou, Martie, het glo ʼn oproep van haar man ontvang dat twee mans in “polisiedrag” hom met vuurwapens aanhou en ʼn lossprys van $300 000 (meer as R5 miljoen) eis voordat hulle hom sal vrylaat. Sy kon glo hoor hoe hy aan die mans sê dat hulle hom in daardie geval maar eerder moet skiet.

Mauritz het bevestig dat sy broer, ’n voormalige skaapboer van Smithfield in die Vrystaat, se ontbinde liggaam in ʼn ruigtetjie naby sy plaashuis opgespoor is. Dit is naby die dorp Colonia Independencia waar Coetzee al sowat 30 jaar woon. Coetzee het afgetree en sy dogter bedryf ʼn varkboerdery op die plaas. Hy het ook drie ander kinders en is die skoonpa van die oud-Springbokstut Daan Human.

Luidens Diario Popular se berig was die beweerde ontvoering dalk net ʼn rookskerm aangesien daar geen verdere kommunikasie van die vermeende ontvoerders was nie. Kommissaris Nimio Cardozo van die polisie se teenontvoeringseenheid in Paraguay het glo aan Diario Popular en die koerant ABC Color gesê dat twis oor bepalings in Coetzee se testament tot die moontlike betrokkenheid van die familielid kon lei. ABC Color berig ook dat Coetzee ʼn aanbod van iemand anders ontvang het om sy plaas te verkoop, maar dat hy geweier het.

Daar word verder in dié koerante aangevoer dat Coetzee kort na sy verdwyning moontlik op ʼn “teregstellende wyse” doodgeskiet is.

Dieselfde koerante het egter Saterdag laat berig dat die oorsaak van Coetzee se dood nie bepaal kon word nie weens die toestand van sy liggaam, wat deur hitte en reën vererger is.

Dr. Pablo Lemir se forensiese ontleding het glo bevestig dat daar egter geen skiet- of steekwonde aan Coetzee se liggaam gevind kon word nie.

Verdere toetse is glo tans onderweg om die oorsaak van sy dood te bepaal.

Mauritz sê in die lig van hierdie “mediaspekulasie” is dit belangrik om die werklike feite ter tafel te lê.

Hy was glo reeds in gesprek met ʼn persoon wat omvattende kennis van Coetzee se finansiële en administratiewe sake gehad het.

Volgens dié persoon sou die betrokke familielid geensins daarby baat om van Coetzee ontslae te raak nie.

Mauritz sê dit is normaal dat die persone naaste aan die slagoffer eerste ondersoek word, maar dat die betrokke familielid op grond van feite nie ʼn verdagte is of kan wees nie, en dat hierdie bewerings nie in ʼn hof sal slaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

Lyk my die polisie en media in Paraguay is net so laakbaar soos hier aan eie bodem. Sodra jy eers ‘n saadjie van twyfel geplant het is dit baie moeilik vir die publiek om die regte (en dikwels meer vervelige) feite te aanvaar en hou die spekulasies nooit op nie. Dit verwoes dikwels mense se lewens en niemand neem verantwoordbaarheid vir die aanvaklike sensasiesoekery nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.