
Argieffoto: Reint Dykema
Die polisie in Bela-Bela in Limpopo het drie verdagtes in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval Sondag net buite die dorp.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die aanval het omstreeks 16:00 by BK-boerdery in die Roodekuil-omgewing plaasgevind.
“Agt gewapende verdagtes wat met twee motors gereis het, het die huis binnegestorm en drie slagoffers vasgebind,” het Ngoepe gesê.
Verskeie items waaronder vuurwapens, kontant, juweliersware, rekenaars, selfone en elektriese toestelle is tydens die aanval gesteel.
“Terwyl hulle gevlug het, het die boer hulle gesien en agternagesit op die Roodekuil-grondpad. Die verdagtes het verskeie skote op die boer afgevuur en hy het teruggeskiet. Een verdagte is gewond en twee ander is in die bosse naby die Platrivier-winkel in hegtenis geneem,” het Ngoepe gesê.
Die gewonde verdagte is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.
Volgens Ngoepe is daar tydens die inhegtenisnemings op van die gesteelde goedere beslag gelê. “Die polisie soek nog na die ander verdagtes en die vuurwapens wat tydens die aanval gesteel is.”
Die verdagtes, tussen 25 en 37 jaar oud, sal binnekort voor die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en poging tot moord.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Uitstekend gedoen! Maar wat op deesaarde is Bela-Bela?
Great die boere is besig om terug te baklei en dit is al wat die aanvallers gaan stop want die afgelope tyd het die boere net na sagte maklike teikens gelyk ek hoop die gety begin draai vir die aanvallers?????
Darem bietjie goeie nuus, dat die boer hulle sommer self agterna gesit is en hy nie geboet het met sy lewe nie.
Kan iemand my as leek asb met die volgende help: die verskil tussen die volgende terme:
Huisbraak, roof, “huisroof??” en gewapende roof? En of dit te doen het met waar die huis gebou is? Help my ek verstaan nie
En nou gaan die boer ook seker aangekla word vir poging tot moord.