Boer skuldig aan moord op begrafnisganger

(Argieffoto)

ʼn 69-jarige boer van KwaZulu-Natal is vandeesweek skuldig bevind aan die moord en poging tot moord van begrafnisgangers op sy plaas in die Cramond-omgewing naby New Hanover.

Die Pietermaritzburg-hooggeregshof het Dinsdag gesê Edward Philip Walter Solomon het inderdaad vir Mothi Ngubane in Desember 2017 doodgeskiet en Mondli Lembethe se lewe probeer neem toe hy skote in sy rigting afgevuur het.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die provinsie, sê Solomon het saam met die oorledene en die klaer op dieselfde plaas gebly.

Die betrokke plaas is na bewering sedert 1836 in Solomon se familie se besit en die Lembethe-gesin is sedert 1950 op die plaas woonagtig. Die opstal waar dié familie woon, is sowat 25 jaar gelede deur die Solomons aan hulle toegeken, berig News24.

Die hof het in 2018 tydens Solomon se borgtogaansoek gehoor dat Ngubane, wat voorheen vir Solomon gewerk het, ʼn begrafnis by die opstal op die boer se plaas bygewoon het ten tyde van die voorval.

Solomon het oënskynlik die begrafnis probeer stopsit, aangesien die begrafnisgangers na bewering nie toestemming gekry het om enigiemand op die plaas te begrawe nie. Solomon het in ʼn woordewisseling betrokke geraak wat tot die dood van Ngubane gelei het. Hy is drie keer geskiet.

Twee ander mans, van wie een Lembethe is, het op ʼn “dreigende wyse” op Solomon afgekom en hy het twee skote voor hulle in die grond afgevuur wat hulle gestuit het, berig Sunday Times.

Volgens Solomon se beëdigde verklaring, wat in die hof voorgelees is, het hy tydens die woordewisseling bedreig gevoel deur die begrafnisgangers en was hy genoop om sy vuurwapen te gebruik om homself te beskerm.

Kort ná die skietery het Solomon na sy huis op die plaas gevlug. Polisie het meer as ʼn uur lank met hom onderhandel om uit die huis te kom en hom oor te gee.

Ramkisson-Kara sê die boer se saak is tot 3 Oktober uitgestel vir voorvonnisverslae. Sy borgtog is ook teruggetrek en hy sal in aanhouding bly tot sy vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Hy het ter self verdediging opgetree want hierdie dat die mede landsburgers dink hul kan jou grond betree net wanneer hul wil en vir wat hul wil is ongehoord en behoorlik dadelik stop gesit te word. ‘n Mens vra toestemming om iemand se grond te betree , vir watter rede ookal. Niks in hierdie lewe is vanselfsprekend nie.

Maritza ·

Gee hom nog steeds nie die reg om iemand se lewe te neem nie. Daarvoor moet hy nou maar betaal

Swerwer ·

As iemand my grond betree, gedurende die dag of snags en ek het hom nie toestemming gegee nie, moet hy vir hom kry. Die man sou nie onnodig iemand doodgeskiet het nie. ‘n Saak en altyd 2 kante en die 3de die waarheid.

Madz ·

Jy kan NET saampraat as jyself al in so ‘n situasie was…. andersins sal ek jou aanbeveel om eerder stil te bly.

piet ·

Daar staan hy het 2 waarskuwingskote in die grond afgevuur wat hulle gestop het. So hoekom skiet hy dan nog die man dood?

Hennie ·

Ek onthou die video greep van die ou oom en maklik 20 plus mense wat baie geweldadig opgetree het, hy het in self verdediging opgetree, hulle kon hom maklik dood gemaak het

Gene ·

Ek ook, en toe ek ‘n jaar of wat later probeer navraag doen, is alle video-opnames van die internet verwyder. Maroela kon nie eens onthou waarvan ek praat nie. Ek onthou die bebaarde oom wat deur 2 of 3 van hulle die bosse in gedwing is nog asof ek die video nou net gekyk het.

Petrus Albertus ·

Kon die Solomons werklik al in 1836 op ‘n plaas in Natal gewoon het? Selfs voor die einde van die Groot Trek? Baie interessant, sou graag meer wou hoor.

Oom ·

Die eerste Engelse handelaars was reeds in 1823 in Durban. So die 1836 is heel moontlik korrek. Die Voortrekkers het elkgeval eers in 1838 in Natal aangekom.

Petrus Albertus ·

Dankie vir die inligting. Laat mens nogmaals dink m.b.t die veralgemenende stellings rakende die grondkwessie.

SjN ·

Dit is darem verbasend hoe vinnig die polisie opdaag in so n geval waar n oortreder gedood word op private eiendom deur die bejaarde wat homself beskerm , gewoonlik het hul nie voertuie beskikbaar nie.

Swerwer ·

Dit is al hoe jy vandag die SAP in die hande kry as jy hul laat weet jy het iemand geskied op jou eiendom, want dan kan hul jou toesluit en voel baie belangrik, verder stel hul nie belang om ut te kom nie.

Swerwer ·

Al hoe jy reaksie uit die SAP kry is as jy sê jy het iemand geskied wat jou eiendom sonder toestemming betree het want dan is jy die skuldige en die indringer die slagoffer.

Hippi ·

Die grondeienaar het wel die reg om sekere redelike en billike voorwaardes te stel, rakende die graf en die begrafnis reëlings. Die okkupeerders moet ook hierdie voorwaardes nakom. Dit is wel belangrik dat hierdie voorwaardes billik moet wees en ook in ooreenstemming met die okkupeerder se kulturele oortuigings.
’n Paar voorbeelde van billike en redelik voorwaardes wat die grondeienaar kan vereis is soos volg:
die grondeienaar kan aandring dat die datum en tyd, asook enige ander reëlings van toepassing op hierdie begrafnis met hom ooreengekom word;
die grondeienaar mag voorskryf watter ingang roete die begrafnisgangers moet gebruik;
vreemdelinge of begrafnisgangers mag nie op die plaas rondwandel nie;
dit mag nie die landboubedrywighede beïnvloed nie; ens.

Weereens, die wet verander van gelang waar dit een nasie pas.

Chris dupreez ·

As ek vir Eskom werk en Eskom het vir my n huis gegee, beteken dit nie ek kan iemand op Eskom se grond begrawe en n dreigende houding inneem as hulle nie wil hê ek moet nie.

Faidan ·

Dis lekker maklik
Sit ‘n boer agter tralies wat homself en sy land probeer verdedig het.
Regering vat die grond
Nog ‘n plaas in sy m@#r in
Mense sit sonder werk
Nog verdere verhoging in ons alledaagse leefstyl

Harley Davidson ·

Baie lief vir die woord boer vir sensasie maar as julle die woord boer wil gebruik gee asb beter beskrywing van plaasmoorde se verdagtes.

Geert ·

Daar was een ander ding in plek dat iemand wat op jou plaas gewoon daar begrawe kon word, maar vreemdelinge het sommer opgedaag sonder enige toestemming en begrawe. Nie so baie jare gelede nie was daar sterk sprake dat as jou voorvaders op n spesifieke plaas begrawe is jy kon aanspraak maak op die grond. En ek verseker julle die mense het erg aggresief geraak as jy hulle belet, ek verwys na tuurlik na vreemdelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.