Boer stabiel, onder verdowing ná plaasaanval

Pier Schutte (43), ’n boer van Beestekraal, naby Brits in Noordwes, is in ʼn bestendige toestand nadat hy Woensdagaand op sy plaas aangeval is. (Foto: Facebook)

Pier Schutte (43), ’n boer van Beestekraal naby Brits in Noordwes, is in ʼn bestendige toestand maar onder mediese verdowing nadat hy Woensdagaand tydens ’n aanval op sy wildsplaas, Xaxaba, geskiet is.

Maroela Media het vroeër berig dat Schutte Woensdagaand om 19:00 deur twee mans op sy plaas oorval is toe hy na sy vee by ’n stoor sowat 800 m van sy huis af omgesien het. Hy is twee keer, in sy bors en rug, geskiet.

Die aanvallers het gevlug nadat Schutte teruggevuur en hy hulp in ’n stemboodskap op Whatsapp ontbied het.

Volgens Schutte se broer, Tiaan, is hy onmiddellik geopereer ná sy aankoms by die hospitaal waarheen hy met ’n noodhelikopter vervoer is.

“Hulle het sy beskadigde milt verwyder en gate in sy diafragma en maag herstel. Hoewel hy stabiel is, sal hy vir die volgende paar dae onder verdowing gehou word om hom die beste kans op herstel te gee,” sê Tiaan.

“Die chirurg is voorlopig tevrede met die operasie se sukses.”

Tiaan sê sy broer is ’n geliefde persoon in die gemeenskap en by vriende, familielede en sy plaaswerkers.

“Soveel mense het hulle onmiddellik na die toneel gehaas en begin help. Die gemeenskap het ons verskriklik onderskraag en ons is só dankbaar.

“Ons het ook baie ondersteuning van plaaslike veiligheidsinisiatiewe, die polisie en nooddienswerkers ontvang,” het hy gesê.

Volgens Tiaan was Pier reeds onder mediese verdowing toe hy en hulle ander broer, Ernst, van Johannesburg op die plaas aangekom het.

“Hy was egter nog by sy volle bewussyn toe sy buurman, Frans Kruger, en nooddienswerkers op die toneel aangekom het. Ons is baie dankbaar aan AfriForum wat die noodhelikopter so vinnig gereël het.

“Ons is vol hoop dat ons binnekort sy 44ste verjaardag saam met hom sal vier,” sê Tiaan.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie die voorval ondersoek. Die verdagtes is egter steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

Baie sterkte – hoop jy herstel spoedig. Ek is regtig bly jy het die aanval oorleef. Dis hartverskeurend waardeur ons mense gaan in hierdie land.

Tiptol

Nóg ‘n poging tot moord. Nóg ‘n boer. En die regering gaan net aan met hulle gemors. Baie sterkte daar.

Misky

Ek weet nie meer wat om te sê nie en ek begin al soos ‘n plaat wat vashaak te klink. Dit raak nou net tè erg!!!!! Sterkte aan Pier en spoedige herstel

Harry

Wanneer gaan iemand verklaar dat oorlog daar buite is en die boer die reg gee om volgens sy diskresie alle middele gebruik om homself/haarself te verdedig. Dit is die eerste bedoeling van menseregte…..die mens wat in vrede verkeer het die eerste reg.

gatgogga

En die hoofstroom TV media weier steeds om te rapporteer.
Dit moet wees dat Ramaphosa instruksies uitgevaardig het om rapportering te verbied, want hy het mos vir Trump gelieg dat hier geene plaasaanvalle is nie.