Boer steeds kritiek ná aanval

Kallie van Heerden en sy vrou, Thelma. Foto: Facebook

Kallie van Heerden (62), wat verlede week op sy plaas in die Hartbeesfontein-omgewing in Noordwes verskeie kere geskiet is, is steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

Marle van Heerden, Van Heerden se dogter, het aan Maroela Media gesê haar pa word steeds in die waakeenheid van die Anncron-hospitaal in Klerksdorp behandel. Volgens Marle is Van Heerden wakker, maar het hy erge pyn.

“Hulle het hom voos geskiet en vreeslik, vreeslik seergemaak,” het sy gesê. “Hy is darem nou van die ventilator af, maar hy kry nog steeds suurstof en baie pynmedikasie. Ongelukkig is hy nog heeltemal te swak om te opereer.”

Maroela Media het vroeër berig Van Heerden is op 11 Junie omstreeks 16:00 buite sy motorhuis deur drie aanvallers oorval. Hy is in die huis in gedwing waar die aanvallers hom gedwing het om die kluis oop te sluit voordat hulle sy voete vasgebind het.

Van Heerden is vyf keer geskiet en het koeëlwonde aan sy hand, bors en arm opgedoen. Een van die koeëls het in sy long vasgesteek. Dokters het egter besluit om nie te opereer om dié koeël te verwyder nie, aangesien Van Heerden tans te swak is.

Pieter du Preez, AfriForum se takvoorsitter in Stilfontein, het gesê sover sy kennis strek is niemand nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie. Die betrokke polisiewoordvoerder kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Marle sê die familie klou vas aan hul geloof in dié uiters moeilike tyd. “Ons bid hard vir volle genesing van ons Almagtige Vader in die hemel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Deloris ·

Hoe word hulle opgespoor ….
Nooit nooit
Baie sterkte aan die familie

RONEL ·

Nee wat nou praat ek nie meer nie hoe kan hul nog nie opgespoor wees nie. Ekskuus waar is die polisie ens ens. Ek raak nou meer opstandig.

Adam ·

Hoekom so verbaas? Die destydse NP Volksraadslid Robert Smit en sy vrou is al amper 4 dekades gelede vermoor en nog steeds is daar geen verdagte nie.

PJC ·

Adam dit is al baie lankal bekend deur wie Robert en Cora vermoor is. As gevolg van wie betrokke was is daar nooit ń poging aangewend om iemand te arresteer nie. Name was in sekere koerante genoem. Hierdie is ń lekker onderwerp om om die braaivleisvuur te bespreek. Intussen hoop ek Kallie van Heerden word gou en volkome gesond. Hy het hom baie dapper gedra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.