Boer sterf in heli-ongeluk: ‘Hy het na aan die Here geleef’

Benjamin Osmers. Foto: Facebook

Benjamin Osmers. Foto: Facebook

ʼn Enjinprobleem was vermoedelik die oorsaak van die tragiese helikopterongeluk waarin Benjamin Osmers, ʼn bekende wildboer en vlieënier van Limpopo, Woensdag gesterf het.

Zander Osmers, Benjamin (31) se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê die helikopter was ongeveer 25 km van die plek waar hulle brandstof ingegooi het op pad na Gravelotte toe dit naby Tzaneen neergestort het. “Ons vermoed daar was ʼn probleem met die enjin wat veroorsaak het dat die helikopter hoogte verloor het. Die helikopter het met die val ʼn paar bome getref en in ʼn droë rivierbedding neergestort,” het Zander gesê.

Die ongeluk word deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

ʼn Provinsiale polisiewoordvoerder het vroeër gesê dat die helikopter in vlamme uitgebars het nadat dit neergestort het. Gerdus Korb, wat saam met Benjamin in die tuig was, kon daarin slaag om uit die wrak te kruip.

Volgens Zander is Korb vanoggend geopereer om interne bloeding te stop en het hy erge beenbreuke opgedoen. “Hy is stabiel en dit gaan onder die omstandighede goed met hom,” het hy gesê.

Benjamin was ʼn ervare vlieënier met meer as 5 500 vliegure agter sy naam. Hy was die hoofvlieënier van Big Game Heli, waarvan Zander die eienaar is. Hy het ook sy eie onderneming, Benjamin Osmers Wildlife, besit waardeur hy onder meer met swartwitpense en ander wild geteel het.

Benjamin en sy vrou, Susan, het minder as twee weke gelede hul tweede pienkvoet verwelkom. Hul eersteling, Eliah, is nou 15 maande oud terwyl Jordan net 13 dae oud is.

“Benjamin was altyd iemand wat baie omgegee het vir sy medemens. Hy sou altyd ander mense en behoeftige skooltjies en so finansieel help en wou altyd uitreik na ander,” het Zander gesê. “Ek het nooit gehoor dat hy enige vyande gehad het nie. Hy het altyd baie na aan die Here geleef en was ʼn groot Christen.”

ʼn Gedenkdiens vir Benjamin word Donderdag om 10:00 vanuit die NG Kerk op Gravelotte gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anoniem ·

Ai my vriend n man is nie gemaak om jou seun te begrawe nie. Sterkte.

Uys ·

Soos oom Zander sê het jy ń mooi vol lewe gehad my maat.
Bennie ek sê vir jou dankie vir jou vriendskap. Ek sal jou vir die mooi onthou, “Uys jy kan saam vlieg as ek op Fumes is”
Ek is heel te swaar vir sy R22 gewees. Saam met Bennie in sy R44 het hy my die Blydedam asook die Olifantsrivier Canyon gewys want die Oliefants was vir Bennie baie mooier as die Blyde.
Laaste ding wat my altyd sal blyby is die dag met die Buffel vangs.
Ek het gesukkel met die sleepwa waarin ń Buffel was wat afgehak het oppad na die Boma. Ek het buite gestaan en hoop die wildvang span kom moontlik verby om te kom help wat ek het net ń Koevoet om die deur toe te hou wat die Buffel wil oopmaak om uit te klim.
Jy is in my rigting gestuur en jul het uit die lug gesien daar is fout en het sommer naby geland om te kom help.
Daardie dag sal ek nooit vergeet nie.
Rus in vrede Bennie en vroutjie sal sterk wees om na jou twee om te dien en groot te maak met die familie aan haar sy.

marie visser ·

ons bid vir die gesin en familie! God SAL jul behoed en bewaar.

Elmien ·

My innige medelye… Mag julle troos vind in ons Hemelse Vader se arms… Dis so hartseer…

Jan Oosthuizen ·

Dit is baie tragies dat so jong man op so manier aan sy einde moes kom,Baie sterkte Zander en familie in hierdie hartseer tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.