Boer sterf maande ná plaasaanval

WAARSKUWING: ‘n Foto in die berig is grafies en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die toneel waar John Byles op ‘n plaas buite Hartswater in die Noord-Kaap aangeval is. Foto: Verskaf

John Byles (81), die boer wat in September op ʼn plaas naby Hartswater in die Noord-Kaap aangeval en met ʼn graaf aangerand is, is Maandagoggend in ʼn hospitaal in Kimberley oorlede.

Johan Cloete, ʼn vriend van Byles, het aan Maroela Media bevestig Byles het omstreeks 02:00 in die Mediclinic Gariep gesterf.

Volgens Cloete is Byles ná die aanval op 5 September uit die hospitaal ontslaan, maar het hy twee weke gelede in sy huis geval en is hy toe weer in die hospitaal opgeneem. “Hy het voorverlede Donderdag ʼn noodoperasie ondergaan en was daarna heeltyd in die waakeenheid.”

Cloete sê hy verneem die drukking op Byles se brein het verband gehou met die beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het – die moontlikheid bestaan dus dat sy dood die polisieondersoek na die voorval kan beïnvloed.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media Byles se afsterwe bevestig. “‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel. In dié stadium word ‘n saak van huisroof ondersoek,” het Kock gesê. Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

John Byles kort nadat hy aangeval is. Foto: Verskaf

“Dit is net tragies en hartseer,” sê Cloete.

Maroela Media het vroeër berig Byles is die oggend omstreeks 07:00 buite sy huis deur twee mans oorval. Die aanvallers het Byles aanvanklik met die vuis bygedam voordat hulle ʼn graaf gebruik het om hom mee aan te rand. Hulle het ook onkruidgif in sy gesig en oë gegooi.

“Hy het onder sy bakkie ingekruip en probeer om sy kop so hoog moontlik te hou sodat hulle hom nie nog met die graaf oor sy kop kon slaan nie. Dit is regtig ʼn wonderwerk dat hy leef,” het Cloete destyds aan Maroela Media gesê.

Dr. Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, het enkele dae later die aanval ten sterkste veroordeel en gesê die voorval is ʼn wekroep dat die Noord-Kaap as “tradisioneel veilige provinsie” nie meer die vlaag van landelike geweld ontkom nie.

Boshoff het Maandag by navraag nog nie kennis gedra van Byles se dood nie.

[Red] Hierdie berig is gewysig sedert dit oorspronklik gepubliseer is om kapt. Sergio Kock se kommentaar in te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gelukkig ·

Oom jy is baie beter af as ons. Oom is nou op n plek waar nie moord en haat is nie.
Rus in vrede.

Foxi ·

Ai jinne tog…..ek voel nou so hartseer. Liewe Heer, wat kan ek nou sê. So jammer oor sy heengaan. Wat gaan van ons mense word….ons kindertjies?
Dit raak net erger en erger.??

Adrian ·

Het jy gelees Cyril neem sommer die Maroela berig saam met jou oorsee en spog oor die rampokker vrye SA

ES ·

Self-beskikking – dit is al wat ons kan doen. Dit moet hul grootste vrees wees om ons eiendom te betree sonder ons toestemming, nie anders om nie… As jy my eiendom betree sonder my toestemming is ek reg vir jou.

Sterkte aan sy naasbestaandes, dit is tragies dat die lafaards altyd weerlose ou mense teiken omdat hul te swak is om terug te baklei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.