Boer sterf ná bye toesak

Wilhelm van Zyl (48). (Foto: Verskaf)

ʼn Bekende en geliefde boer van De Aar is Vrydagmiddag dood toe hy deur ʼn swerm bye op sy plaas toegetakel is.

Wilhelm van Zyl (48), wat met merinoskape boer, het deur ʼn hek op die plaas Varkfontein (tussen De Aar en Britstown) gery en het uit sy bakkie geklim om die hek weer toe te maak toe die bye onverwags op hom afgepyl het. Die byekorf was sowat 300 m van dié hek.

Sy broer, Karl, sê Wilhelm het in sy bakkie teruggespring om van die bye weg te kom, maar al die ruite was oopgedraai.

“Die bakkie was natuurlik toe ook vol bye en hy het uitgespring en weggehardloop. Die bye was egter net te veel. Dit was ʼn groot swerm en hulle was baie aggressief. Hulle het hom verskriklik gesteek.”

Karl was eerste op die toneel nadat Wilhelm se naaste buurman, André Snyman, hom gebel het. Wilhelm het Snyman gebel om te sê “hier’s moeilikheid, ontbied ʼn ambulans”. Snyman was egter in die Kaap en het dadelik vir Karl gebel.

Karl was in dié stadium in die dorp en het toe dadelik iets vir sy broer, wat allergies is vir bysteke, by die apteek gekoop voordat hy hom na die plaas gehaas het.

Snyman het Wilhelm se ander buurman, Deon Oberholzer, ook vir hulp gebel. Toe Karl by sy broer gekom het, was dit egter reeds te laat. Teen daardie tyd het die swerm bye reeds “soos ʼn stofwolk weggetrek”.

“Ons het met hom hospitaal toe gejaag, maar dit was reeds te laat,” het Karl aan Maroela Media gesê.

Wilhelm, wat in die dorp op De Aar gewoon het, het ook sy eie onderneming besit. Met sy sonarmasjien het hy dragtigheidsondersoeke op kleinvee vir verskeie boere in die omliggende gebiede, waaronder Hanover, Philipstown, Britstown, Richmond en al die pad tot in Colesberg en Carnarvon, gedoen.

“Hy was ʼn groterige ou, maar hy het die kleinste hart gehad.

“Hy sou altyd eerste iets vir iemand anders doen voordat hy aan homself sou dink. Hy was ʼn goeie ou wat baie goeie goed gedoen het,” het Karl aan Maroela Media gesê.

Surinda Fourie, ʼn jare lange kennis en vriendin van Wilhelm, het in ʼn Whatsapp-boodskap aan Maroela Media gesê hul harte is seer en dat hulle nie verstaan waarom die tragedie gebeur het nie. Wilhelm het al die jare skanderings op die skape op die Fouries se plaas uitgevoer.

“Ons scan-dae op Wolwekuil sal nooit weer dieselfde wees sonder jou nie. Jou unieke sin vir humor, ons middagetes saam, ons lekker cappuccino’s in die sonkamer, ons geselsies oor jou honde wat so spesiaal vir jou was, en dan die keer toe my hart so seer was en ek in trane uitgebars het oor my dormerooie wat swak skandeer het, het jy nie geskroom om jou sagte hart te wys en ʼn spesiale olyfolie vir my uit jou bakkie te gaan haal nie.

“Jy laat ʼn groot leemte in die boerderygemeenskap. Jou liefde vir jou werk, passie vir God se diere en jou spesiale houtbankie sal altyd in ons harte wees. Jy was en is vir ons baie spesiaal.”

Wilhelm was ongetroud en het alleen gewoon. Sy vriendin, Olivia Swiegers, woon in Victoria-Wes.

Wilhelm was die oudste van drie broers en het die dag voor sy dood sy 48ste verjaardag gevier. Karl sê hulle is ʼn hegte familie wat almal naby mekaar woon en mekaar gereeld sien. Hul pa, Helm (76), het sy grond ʼn paar jaar gelede aan Wilhelm, Karl en hul jongste broer, Johan, uitgedeel. Hul ma, Hildegard, is twee jaar gelede dood.

Wilhelm sal Vrydag op die familieplaas, Swartkoppies, naby De Aar begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nettie ·

Dis verskriklik!! Die arme, arme man. Innige simpatie en meegevoel aan sy familie en geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.