Boer sterf ná plaasaanval  

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

ʼn Man is dood nadat hy en sy vrou op hul plaas tussen Rust de Winter en Hammanskraal, noord van Pretoria, aangeval is.

Die egpaar is Maandagmiddag aangeval maar is eers Woensdag te hulp gesnel. Casper Liversage, voorsitter van die Hammanskraal-polisiëringsforum (GPF), sê ʼn voertuig van die egpaar is tydens die aanval gesteel en is later verlate in die Temba-area gevind.

Die polisie het die GPF gevra om te help om die voertuigeienaar op te spoor en na verdere ondersoek is daar vasgestel aan wie dit behoort. GPF-lede is na die plaas waar hulle gesien het die egpaar is aangeval en die polisie en nooddienste is dadelik ontbied.

Die vrou is glo in die badkamer van die huis toegesluit en kon eers Woensdag daarin slaag om die deur oop te breek. Die man is vasgebind op die kombuisvloer aangetref en hy is na ʼn hospitaal in Pretoria geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het. Dit blyk die egpaar is erg aangerand. Die vrou is nie in ʼn hospitaal opgeneem nie en sterk by familievriende aan.

Volgens Liversage is niemand nog in hegtenis geneem nie, maar word daar onverpoosd met die polisie saamgewerk om die verdagtes vas te trek.

Maroela Media verneem daar is ook vuurwapens tydens die aanval gesteel. Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê daar word na vier verdagtes gesoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.