Boer sterf nadat hy brand probeer blus

DP van Huyssteen. Foto: Facebook

DP van Huyssteen. Foto: Facebook

DP van Huyssteen, ʼn 42-jarige boer van die plaas Kalkput naby Viljoenskroon in die Vrystaat, is dood nadat hy Maandagmiddag ʼn brand op sy plaas probeer blus het.

Van Huyssteen en sy werkers was Maandagmiddag omstreeks 16:30 besig om mielies te stroop toe ʼn brand in die landery uitgebreek het.

Konst. Peter Kareli, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die man het sy buurman gebel en hulp ontbied om die brand te blus,” het hy gesê. “Die buurman het met ʼn waterkar na die plaas gery om te help om die brand te blus.”

Van Huyssteen het in die landery ineengestort en sy buurman het hom na ʼn hospitaal gejaag. Hy is op pad oorlede. “Hy is vermoedelik weens rookinaseming dood, maar ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om dit te bevestig. Die moontlikheid bestaan ook dat hy ʼn hartaanval gehad het,” het Kareli bygevoeg.

Die Viljoenskroon-polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Van Huyssteen word Vrydag om 10:00 uit die Afrikaanse Protestantse Kerk in Viljoenskroon begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Dis hartseer, die dood vra nie hoe oud is jy nie, en tog, 42 is nog baie jonk.

Ek wonder waarom het die brand ontstaan.

Innige simpatie aan elke persoon wat ‘n rol in sy lewe gespeel het.

Gert ·

Brand in die stroop proses ontstaan maklik. ‘n Verstopping in die stroper, waar daar baie mieliestof en brandbare materiaal teenwoordig is, ontbrand spontaan as gevolg van die hitte van wrywing. Algemene ding tydens die stroop proses. Gewoonlik is die boer of sy werkers darem in staat om dit vinnig te blus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.