Boer sterk aan ná hy van bakkie val, brand

Brande in die Schweizer-Reneke-omgewing. (Foto: Cornie van den Heever)

ʼn Boer van Noordwes is steeds in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal in Klerksdorp nadat hy Woensdag van sy skoonpa se bakkie afgeval en ernstige brandwonde opgedoen het.

Wimpie Koenig (36) en sy skoonpa, Cornie van den Heever (66), het die middag in die Schweizer-Reneke-omgewing brande help blus toe hulle sien hoe die vlamme elders versprei.

“Die brand het in ʼn reguit lyn voor ons gebrand met die wind reguit van agter,” sê Van den Heever. “Wimpie het links voor die bakkie geloop en die vlamme wat ongeveer drie meter regs van die bakkie was, gespuit.

“Die volgende oomblik het die wind begin dwarrel en binne sekondes het dit om die bakkie gebrand.”

Wimpie het op die enjinkap gespring en Van den Heever het deur die vlamme gejaag. “Hy het gegly en langsaan op die polle gras geval wat klaar gebrand het, maar steeds gegloei het.”

Van den Heever sê Koenig het vinnig opgespring en gehardloop, maar steeds tweede- en derdegraadse brandwonde opgedoen.

(Foto: Cornie van den Heever)

“Dit gebeur in ʼn paar sekondes. Hy het in daardie oomblik bitter baie pyn gehad.”

Hulle het ʼn ambulans vanaf Klerksdorp ontbied en gereël dat hulle die nooddienste net ná Wolmaransstad sou kry.

“Hulle het sy wonde verbind en ʼn drup opgesit, waarna ons hom oorgelaai het in die ambulans van Klerksdorp. Hulle het hom hospitaal toe geneem waar die dokters vir hom gewag het.”

In die omstandighede gaan dit eintlik baie goed met hom, sê Van den Heever.

“Hy was nou al twee keer in die teater waar hulle sy wonde skoongemaak en weer verbind het.”

Koenig se arms, hande en bene het brandwonde opgedoen. Hy het derdegraadse brandwonde op sy bene en tweedegraadse brandwonde aan sy bolyf.

“Wimpie is my regterhand en boer al 12 jaar lank saam met my. My dogter, Corlize, Wimpie se vrou, boer ook met my skape. Hulle albei doen sulke goeie werk.”

Van den Heever en Koenig was besig om die brande op hul bure se plase te help blus tydens die voorval.

“Ons almal gaan help waar ons kan, want jy weet nie wanneer is dit jou plaas wat brand nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

En eff geniet dit! Sterkte Wimpie dink aan jou!

Trotse Boervrou

Ons bid vir jou. Sterkte.

Annette

Sterkte Wimpie. Ek bid vir jou vir spoedige en volkome herstel.