Boer sterk aan ná Mpuma-plaasaanval

Argieffoto

Hennie Gerber (72) sterk aan in die hospitaal nadat hy Saterdagoggend omstreeks 03:00 tydens ʼn plaasaanval op sy plaas in Breswol in die Sundra-omgewing, Mpumalanga, geskiet is.

Gerber is in die maag geskiet toe vyf aanvallers op die plaas toegeslaan het.

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs, het aan Maroela Media gesê Gerber het reeds ʼn operasie ondergaan en die patroon is verwyder.

ʼn Buurvrou het aan Maroela Media bevestig Gerber is steeds in die hoësorgeenheid van die hospitaal en ʼn deel van sy dikderm moes tydens die operasie verwyder word. “Hy is in baie pyn,” het sy gesê.

Gerber se vrou was saam met hom in die huis ten tyde van die voorval, maar hy kon verhoed dat die aanvallers die huis betree toe hy vermoedelik een of meer van die aanvallers geskiet en hulle gevlug het.

Maroela Media verneem Gerber was in sy jong dae ʼn polisiebeampte.

Die egpaar se kinders staan hul ouers in die hospitaal by.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf mans, waarvan een Shangaan gepraat het, het die werkers op die plaas se huis deur die venster betree en hulle gyselaar gehou. “Hulle het een werker, die 70-jarige Elias Piet Skhosana, met ʼn vuurwapen gedreig en hom gedwing om aan sy werkgewer se deur te gaan klop.”

Volgens Hlathi was twee van die vyf verdagtes gewapen en hulle het omstreeks 03:00 aan Gerber se deur geklop. “Toe Gerber die deur oopmaak, het Skhosana hom gewaarsku daar is ‘tsotsi’s’ en ʼn skietery het gevolg.”

Gerber is in die maag geskiet en ER24 het hom na Parkland-hospitaal in Springs geneem.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Spyker ·

Alles van die beste oom!hulle dag sal kom,die Here slaap nie.ook mooi so aan Skhosana.

Boland ·

In protes teen plaasmoorde word versoek dat almal n stukkie bruin lint op hulle bors dra.

Chrisjan ·

‘n Bruin lint, ……….. rerig????
Boere kort wapens, opleiding, sekuriteit stelsels, gewapende wagte, finansies. Hulle word vermoor, verkrag, gemartel, geroof, gebrand, besteel. WAT gaan die lint help?

Willa ·

Moenie opgee nie witboere, julle word gemoor terwyl julle te wille van julle Jesus geloof sterf. Die klomp gaan binnekort in hulle eie gat val. Jesusliefde vir alle boere. ” Its Time

Spyker ·

Crisjan, ek verstaan wat jy se,maar daar is verskillende kleur linte vir verskillende doeleindes . Daar is tans geen bruin lint wat vir iets staan nie,so waar ookal ons,ons self bevind oor die wereld kan mense wat nie bekend is met plaasmoorde nie die vraag vra en ons kan uitwei. Sodoende nodige blootstelling gee aan DIE wreedaardige situasie.dankie boland vir jou idea. Elke klein bietjie help!

Jacques Venter ·

Dis hoog tyd dat getroue plaas werkers bewapen en opgelei behoort te word. Die lot van die boere is in hulle en hulle werkers se hande.
Die regering het geen belang om boere te beskerm nie.

Leahim ·

Sterkte oom jy is my held terug baklei en gewys dat die aanvallers nie altyd n boer in sy agter plaas gaan pak gee nie die uitvaagsels sal twee keer dink voor hulle weer kom probeer

Spyker ·

Selfde hier!!!!!!Sterkte aan al ons bore. Familie eerste,moet asb nie probeer braaf wees wanneer dit vermy kan word nie.

Leahim ·

Ek sal ook my bruin lint of lappie aansteek van vandag af?

Houtoog ·

Duidelik was hy paraat om sodoende weerstand te kon bied.
Par. 3: Ek het dit dat ‘n ‘patroon’ die huls, kruit en koeël is. So sê ook die HAT. Dus is dit die ‘koeël’ wat hier ter sprake is.

Leahim ·

En onthou Gerber is duitse herkoms so ek wed julle hy weet en ken van saamstaan en sy werkers het respek vir hom Dit is ook die rede hoekom daar omtrent nooit n plaas aanval in Duits wes (Namibia is nie)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.