Boer sterk goed aan ná Kirkwood-aanval

Johannes de Lange (Foto: Johannes de Lange, Facebook)

Johannes de Lange, die boer wat verlede week ernstig beseer is tydens ’n plaasaanval in die Oos-Kaap, kan binnekort uit die hospitaal ontslaan word. Die VF Plus se provinsiale leier het De Lange Maandag in die hospitaal besoek en sê hy sterk goed aan nadat hy ʼn noodoperasie moes ondergaan.

De Lange is tans in die Netcare Cuyler-hospitaal in Uitenhage. Hy is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem en moes ’n noodoperasie weens ernstige steekwonde ondergaan. Hy is tans in ’n stabiele toestand.

“Die VF Plus is verlig dat De Lange mooi aansterk en binnekort sal kan terugkeer na sy plaas en gesin,” sê Piet Mey, VF Plus-LP en provinsiale leier in die Oos-Kaap.

Maroela Media het vroeër berig minstens vyf mans het verlede Woensdag omstreeks 02:30 die plaas Steenbokvlakte digby Kirkwood betree. Die verdagtes was met ʼn vuurwapen en messe gewapen. Hulle het De Lange en sy gesin oorval.

ʼn Struweling het tussen De Lange en die aanvallers ontstaan. Een van die aanvallers is in die proses doodgeskiet en een is gewond. Die res van die aanvallers het in ʼn silwerkleurige Toyota Avanza gevlug. Dit is nie bekend wat in die aanval geroof is nie.

Lede van die Kirkwood-gemeenskap en die polisie is ná die aanval ontbied en het gehelp soek na die verdagtes. Drie van die verdagtes is kort ná die aanval in hegtenis geneem. Die polisie het ook die Avanza op die R75-pad naby Uitenhage opgespoor en daarop beslag gelê.

Die aangekeerde verdagtes, Ntami Majola (50), Sibabalwe Bangani (23) en Mzuntsundu Palaza (46), het verlede Vrydag in die landdroshof op Kirkwood verskyn. Hulle sal na verwagting weer Vrydag in die hof verskyn.

Die polisie is nog besig om leidrade op te volg.

Mey sê die VF Plus is besorg oor die Oos-Kaap se boerderygemeenskap en sê plaasaanvalle, roof en veediefstal het ’n enorme impak op die Oos-Kaap se voedselsekuriteit, ekonomie en werkskepping.

“Sommige boere staak bloot hul boerderybedrywighede en dit lei tot groter werkloosheid in landelike gebiede. Dit bring ook mee dat plaaslike produksie aangevul moet word uit ander dele van die land wat die prys van goedere opjaag.”

Die VF Plus moedig inwoners van landelike gebiede aan om by hul plaaslike buurt- en plaaswagte asook gemeenskappolisiëringsforums aan te sluit en hul persoonlike sekuriteitsmaatreëls te verskerp.

“Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om die veiligheid van veral inwoners van landelike gebiede te prioritiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jana ·

Dis goeie nuus, ek is bly hy word beter. Sterkte vir hom en sy gesin en familie.

Annatjie ·

Baie bly om te hoor maar sou ook graag wou weet of sy seun ook seergekry het in die aanval?

pieter ·

Die klomp sal maar net aanhou om te moor en roof , useless anc regering met polisie wat sit en kyk

Regverdigheid ·

Sterkte vir hom en sy gesin ..Dankie die Vader dat jy okay is Amen

david ·

Ek sien hy kon dit reg kry om sy gesin te beveilig en daardeur een gedood en nog ene gekwes! Die ander was seker te vinnig weg na sy terug aanval!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.