Boer stuit ‘bankrowers’ met planter

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Vyf vermeende rowers wat Woensdag glo ʼn bank op Bethlehem in die Vrystaat beroof het, is ʼn bietjie meer as ʼn uur later deur die polisie en plaaslike boere in hul spore gestuit.

Volgens kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die Valke, het die gewapende verdagtes Woensdagoggend die Nedbank op Bethlehem beroof.

“Die bankbestuurder het gehoor hoe iemand skree dat die bank beroof word. Hy het na beeldmateriaal van die kringtelevisiestelsel gekyk en gesien hoe die verdagtes ʼn vuurwapen op die bank se veiligheidswag rig. Hulle het die wag grond toe gedruk,” bevestig Singo.

Volgens Singo het die verdagtes ʼn sak vol kontant – waarvan die bedrag nie bekend is nie – gebuit en in ʼn silwer Toyota Hilux op die vlug geslaan.

Die verdagtes het deur Lindley in die rigting van Petrus Steyn gevlug. Die polisie op Lindley is van die bankroof in kennis gestel.

Die polisie het die boere in die omgewing gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagtes.

ʼn Boer van die omgewing het op voorwaarde van anonimiteit gesê een van die boere het sy planter in die pad tussen Lindley en Petrus Steyn getrek om die pad vir die verdagtes te versper. Die boer het toevallig op daardie oomblik met sy planter op daardie pad gery.

Die verdagtes is op dié pad aangekeer omdat hulle nie verby die planter kon kom nie.

Volgens Singo het die polisie reeds die verdagtes se Hilux by Lindley gewaar en agternagesit. Nadat die verdagtes deur die planter tot stilstand gedwing is, het die polisie hulle ingehaal. ʼn Skietery het tussen die verdagtes en polisie uitgebreek.

“Een verdagte is doodgeskiet en een polisiebeampte is in die been gewond. Die beampte is later na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.”

Singo sê die vier oorblywende verdagtes het in ʼn stadium uit die bakkie geklim en te voet gevlug.

Volgens die boer het een van die ander boere ʼn helikopter in die lug opgestuur om die verdagtes te help soek.

“Drie van die verdagtes is kort daarna vasgetrek en een word steeds gesoek. ʼn 9 mm-vuurwapen is gekonfiskeer,” sê Singo.

Die aangekeerde verdagtes is tans in aanhouding en sal eersdaags in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dries ·

Dankie boere. Hulle sou nie so gou aangekeer gewees het nie.

Robert ·

Welgedaan aan almal wat gehelp het om die booswigte aan te keer.

Misky ·

Lekker om te hoor en lees dat sommige gemeenskappe se boere en polisie nog so ‘n goeie verhouding het en kan saamwerk. Dit is mos hoe dit hoort!!!! Welgedaan!

Toy ·

Dankie, baie dankie vir die boere en polisie dit is hoe dit gedoen moet word.

minnie muis ·

ja hul nou in tronk,,, tot die hoed vir hulle amnestie gee

Adeline ·

Baie geluk aan elkeen betrokke – hierdie is nou sommer BAIE GOEIE nuus en dit is lekker om te lees hoe almal saam gestaan het om die geweldadige “ras gebaseerde misdadige kriminele” vas getrek en gevang is – Stunning moenie ophou om die kriminele voortvlugtige ook te soek en te vang nie – hulle het geen reg op vryheid nie – verseker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.