Boer tien keer geskiet: Verdagtes vasgetrek

(Argieffoto: Maroela Media)

Altesaam ses verdagtes is Donderdag vasgetrek in verband met die aanval op ʼn boer Dinsdagaand op sy plaas in die Muiskraal-omgewing, Noordwes. André Marais (54) is tien keer tydens die aanval geskiet, maar het oorleef.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê ’n geïntegreerde operasie van die polisie, die Potchefstroomse polisie se dwelmtaakspan, trio-taakspan, veiligheidsmaatskappye en Carletonville se speurdiens het vroegoggend vier verdagtes in die Khutsong-nedersetting, digby Carletonville, in hegtenis geneem.

Een verdagte is in Oos-Driefontein, naby Carletonville, vasgetrek en een is op ʼn plaas in Muiskraal aangekeer. Een van die verdagtes het aanvanklik aan boere in die omgewing gesê hy was ook ʼn slagoffer van die vermeende aanvallers.

Die verdagtes het Dinsdagaand omstreeks 18:00 Marais se plaas betree. Maroela Media het vroeër berig hulle het eers die tuinwerker, Amos Mahlaba (68), by sy sinkhuis op die plaas sowat 100 m van die plaashuis oorval. Mahlaba is by sy huis ingeboender en vasgebind.

Marais is tien keer geskiet, twee keer in die een been en agt keer in die ander been. Sy hoofslagaar is ook in die proses afgeskiet waarvoor hy dieselfde aand inderhaas geopereer moes word.

Volgens Myburgh het boere van die gemeenskap tydens hul soektog na die verdagtes ’n man langs die pad aangetref en hom ondervra. Dié persoon (34) het aan die boere gesê dat hy ook ’n slagoffer van die drie verdagtes was. Hy is glo ontvoer, beroof en langs die pad afgelaai.

Myburgh sê ondersoeke het later aan die lig gebring dat die slagoffer inderwaarheid deel van die groep aanvallers was en dat die voertuig, ’n Volkswagen Golf, wat tydens die aanval gebruik was, in sy besit gevind was.

Volgens Myburgh is die verdagtes in hegtenis geneem vir poging tot moord, diefstal en vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Al ses verdagtes is tussen die ouderdomme van 30 en 40 jaar.

Die ses verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Carletonville-landdroshof verskyn vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die 34-jarige verdagte wat langs die pad gevind is, sal ook van meineed aangekla word.

Die verdagtes sal Maandag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris van Noordwes, het die polisie geloof vir hul goeie werk en vinnige reaksie om die skuldiges vas te trek. Hy het ook die veiligheidsmaatskappye en plaaslike boere bedank dat hulle die polisie gehelp het om die verdagtes aan te keer.

“Landelike veiligheid is ʼn prioriteit vir die polisie en ons sal seker maak geregtigheid geskied,” sê Kwena.

Die VF Plus sê hy verwelkom die inhegtenisneming van die verdagtes en bedank die lede van die verskillende polisie-eenhede wat onverpoos saamgewerk het om die aanvallers vas te trek.

“Hierdie samewerking tussen die polisiekantoor op Khutsong, die trio-taakspan, dwelm-eenheid en die plaaslike speurdiens, wys weer hoe suksesvol behoorlik gekoördineerde polisie-optrede is,” sê Fanie du Toit, VF Plus-LP in Noordwes. “Die rol van gemeenskapslede wat die aanvanklike leidrade aan die polisie verskaf het, is ook van onskatbare waarde.”

Du Toit sê hierdie soort optrede behoort die grondslag te vorm vir die polisie se landelike veiligheidsplan. “Die VF Plus doen ’n beroep op die polisie om ook die spesialiseenhede verder uit te bou en te versterk om te voorkom dat landelike gebiede in anargie en misdadigheid verval.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

lollapot ·

Uitstekende werk! Andre Marais, mag jy gou en suksesvol herstel!

Mariana ·

Voorwaar uitstekende werk, hoop die straf pas by die daad. Bly Andre Marais het oorleef en hoop hy herstel vinnig van sy trauma. Ten minste is die skuldiges vasgetrek. As alle plaasaanvalle maar so vinnig kon opgelos word.

Kerneels ·

S K I T T E R E D !!!

Uiters goeie werk deur al die betrokke partye. Trots op julle!

Kokerboom ·

Uitstekende werk mense. Dis die standaard wat ons van Polisie verwag. Die ander liggame wat saamgewerk het is nie jul vyand. Die sukses bewys dit

Dries ·

Mooi so! Net jammer daar moet soms soveel skade aan onskuldige boere en hulle familie aangerig word, al word die kriminele dan ook gevang.

Toktokkie ·

Uitstekend! Maar dis dalk tyd dat boere hulle werkers korps hersien. Elke liewe plaas aanval sover in die afgelope 2 maande wat in die nuus was, was werkers of hul familie wat informante was of wat direk daarby betrokke was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.