Boer van Rawsonville op plaas geskiet

Argieffoto bloot ter illustrasie (Argieffoto: Maroela Media)

’n 52-jarige boer is Sondagaand op sy plaas in die omgewing van Rawsonville in die Wes-Kaap gewond toe daar skote op hom en sy volwasse seun afgevuur is. Die boer is tydens die voorval in die skouer getref en sterk in ’n hospitaal aan.

Mark Kuys, AfriForum se veiligheidshoof vir die Suid-streek, sê die pa en sy seun het na buite gegaan om ondersoek in te stel nadat die honde glo “anders as gewoonlik” geblaf het. Die voorval het vermoedelik tussen 20:00 en 21:00 plaasgevind.

Die mans het na die wingerde op die plaas gestap toe drie skote op hulle afgevuur is. Een van dié skote het die pa in die linkerskouer getref voordat die verdagtes op die vlug geslaan het.

Die polisie is intussen op die spoor van drie verdagtes. Kuys sê die verdagtes het vermoedelik in verskillende rigtings laat spaander.

Niks is tydens die voorval gesteel nie en die gewonde boer is na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling. Sy seun is ongedeerd.

Kuys sê dit wil voorkom of die verdagtes van plan was om die plaashuis te betree hoewel dit nog nie bevestig kon word nie.

Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media gesê die polisie ondersoek die omstandighede rakende ’n saak van poging tot moord.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

JohnnyS ·

Aai tog – wanneer gaan ons mense leer. Sterkte aan die beseerde

AmY ·

Baie mense gaan nie eens uit nie. Hulle word in hulle huise oorval.

Genis ·

Baie tragies…. mens moet jou eie eindom bekruip net om veilig te wees…

Anoniem ·

Ek sê telkens vir mense, moenie jou woning verlaat wanneer jy iets hoor of wanneer die honde blaf nie. Maak die huis donker, skakel alle ligte en tv af. Jy ken die binnekant van jou huis, die booswigte bes moontlik nie, tensy hulle inligting van binne die huishouding ontvang het. Wag dat die gevaar na jou toe kom, moenie jy na die gevaar toe gaan nie, jy en jou familie is veel beter beskerm binne jou woning.

jou gewete ·

raad en plan agterna waar jy omstandifhede nie ken is maklik. bietjie anders as jy in die situasie is

VaalDonkie ·

Mens kan ten minste ‘n vuurwapen gryp voor jy uitgaan om te loop ondersoek instel. En as jy nie ‘n vuurwapen het nie, moet jy eerder maar van die dorp af boer.

Deon ·

Hulle was onder andere daar om n mens te skiet, anders sou hulle laat spaander het sonder om op die mense te skiet

Perdeby ·

Ag nee wie is die boer, het daar skool gegaan en ken almal daar.

JohanCzu ·

‘n Haelgeweer met thundershot is die ideale ding. As ek reg onthou trek die “bom” so 80 meter en ontplof dan met ‘n helse slag. Dit is eintlik onskadelik, maar sal waarskynlik afgaan min of meer waar die bedreiging is, en hulle verwilder.

Dup ·

Probeer om ten alle tye paraat te wees.Hierdie lafhartige geweldenaars se doel is om die plaasgemeenskappe te terroriseer.Beskerm jou familie en eiendom en beveg vuur met vuur.

Catherina ·

Terwyl daar geen doodstraf is nie, sal dit aanhou. Dink aan familie

ES ·

Dis baie belangrik dat mense eers hulp inroep van naburige plase of selfs sekuriteitsfirmas as dit moontlik is voordat hulle uitgaan. Hierdie kon ‘n tragedie gewees het…

Sterkte en beterskap.

Gerhard ·

En nog steeds wil die boere glo dit sal nie met hul gebeur nie..Gaan uit om na geblaf van honde te kyk…Regtig…Bly in jul huise ….Julle bly vas glo die land gaan verander en die geweld sal stop…Geen kans nie…

Gerhard ·

Want julle is soft targets wat glo dit sal nooit met julle gebeur nie en dan gebeur dit..

Kneh Mokenah ·

Ek is baie goed bekend met die situasie van die boer en die voorval, Dit is ‘n baie parate familie. Die boer het uitgegaan omdat hy gedink het dit is sy ma en suster wat teruggekeer het vanaf die lughawe, waar hulle ‘n familielid opgetel het. Almal wat so bekuldigings en lesse wil uitdeel, vergewis julle van die feite voor julle alwetend optree.

Vlekkie ·

Hoekom hoekom hoekom gaan mense veral op plase buite toe as hul iets hoor?,!!! Hoeveel mense moet nog sò vermoor word voordat hul besef jy gaan nooìt buite toe nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.