Boer verjaag aanvallers wat hom wou skiet

Die plaashuis (Foto: Verskaf)

ʼn Boer het Saterdagaand ʼn groep van vyf aanvallers teëgesit op sy plaas in die Roedtan-omgewing in Limpopo nadat hulle hom twee keer probeer skiet het, maar die vuurwapen vasgehaak het.

Volgens Heritage Protection Group (HPG) het die boer se krag in die huis omstreeks 19:30 afgegaan. Hy het uitgegaan om ondersoek in te stel en bevind dat die krag by die kragpaal, sowat 30 m van sy huis af, afgeskakel is. Hy het na die paal gestap, die krag aangeskakel en omgedraai om terug te stap huis toe. Dit is toe dat vyf verdagtes op hom afgestorm het.

“Een van die aanvallers het ʼn kleinkaliber-handwapen in sy besit gehad en wou die boer daarmee skiet. Die wapen het egter vasgehaak. Hy het die sneller ʼn tweede keer probeer trek, maar sy poging het weer misluk,” het ʼn HPG-bestuurslid aan Maroela Media gesê.

“Dit is net genade dat die vuurwapen twee keer agtereenvolgens vasgehaak het.”

Die boer het toe een van die aanvallers met die vuis bygekom, waarna hy en sy makkers laat spaander het.

“Die boer het in die huis ingehardloop, sy 9 mm-vuurwapen gegryp en op die aanvallers geskiet terwyl hulle probeer vlug het. Hy het daarna hulp ontbied.”

Lede van HPG was omstreeks 19:50 op die toneel.

Spore (Foto: Verskaf)

HPG Mokopane, Mookgopong en Modimolle het saam met die polisie van Roedtan, omliggende boere en plaaswagte na die aanvallers probeer soek.

“Spore is gevolg en ʼn selfoon is by die draad, waardeur hulle vermoedelik gekruip het, gevind. Volgens die spore lyk dit asof hulle tot by die aangrensende wildplaas gevlug het.

“Die soekspan het in ʼn stadium agtergekom dat die aanvallers moontlik hul skoene uitgetrek en verder op hul kouse geloop het.”

Die spore het toe in die lang gras verdwyn.

Nog items wat moontlik aan die aanvallers behoort het, is langs die pad gevind.

“Ons het goeie inligting oor die aanvallers se identiteit ingesamel en is positief dat ʼn inhegtenisneming binnekort sal plaasvind.”

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

modiglianigirl ·

Dankie God vir u beskermende hand oor hiérdie dapper Man. Amen.

Maggies ·

Ek glo ‘n Hoër Hand het daardie koëls gekeer. Genade is baie groot.

Agter die skerms ·

Ook baie bly die boer is ongedeerd. Dank U Vader.
Ook reg dat hy op hulle geskiet het want dinge kon net onderstebo gedraai het.

Paul ·

Ek sit glad nie my pote na buite na sonsondergan.
Merk ek iets verdags bel ek sekuriteit.

fs ·

Hopelik is daar lekker INTEL op daardie foon oor die beplanning van plaas aanvalle….. dit sal sommer baie help hoop ek!

Deon ·

Kom ons hou duim vas daarvoor en dat hulle ook dan die rica stelsel kan gebruik om die lot vinnig vas te trek.

Francois Johannes ·

Een geluk by hierdie ongelukkige aanval is dat die aanvallers nie SAW, SAP of vuurwapen opleiding gehad het om te leer hoe om “n vuurwapen te onderhou nie. Gehoor van ‘n paar gevalle waar die aanvallers se vuurwapens storings gegee het tydens die aanval en so mense se lewens gered het met hulle onkunde oor vuurwapen onderhoud.

Derek ·

Ons sal aanhou bid dat die kinders van die Lewende God sy beskerming sal geniet, soos in hierdie geval. Ons het dit nodig in die tyd van vervolging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.