Boer verlam ná ongeluk

Izak en sy vrou, Sonja, se lewe gaan ook nou onherroeplik verander noudat hy ’n kwadrupleeg is en niks meer vir homself kan doen nie (Foto: Verskaf)

’n Plaasbestuurder van Noordwes is van sy nek af verlam ná hy in ʼn motorongeluk betrokke was wat vermoedelik verband hou met ’n hartaanval. Izak Potgieter (52) lê al vir byna drie weke in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp en sy toestand is steeds kritiek. Volgens sy vrou, Sonja, vat hulle dit dag vir dag.

Izak en sy vrou, Sonja, se lewe gaan ook nou onherroeplik verander noudat hy ’n kwadrupleeg is en niks meer vir homself kan doen nie. Hy gaan moontlik ook nie weer kan werk nie.

Izak, wat tussen Hartbeesfontein en Ottosdal woon, het op 6 Augustus ’n hartaanval in sy bakkie op pad huis toe gekry. Hy het boere in die omgewing gehelp om ’n veldbrand te bestry.

Volgens Sonja het Izak sy bakkie omstreeks 21:00 so ongeveer twee kilometer van hul huis af gerol. Hy het op sy nek geval en van sy nekwerwels in die proses gebreek.

“Ons is nog nie seker of hy voor of tydens die ongeluk ’n hartaanval gekry het nie. Izak sal ons kan sê sodra die ventilator se pyp uit sy mond is en hy weer kan praat,” vertel Sonja.

Sonja sê volgens die dokters kan rookinaseming moontlik die hartaanval veroorsaak het omdat hy so naby aan die vlamme was. Hy was ook tussen twee tot drie ure aan die vlamme en rook blootgestel.

“Izak het hoë bloeddruk gehad, maar dit was onder beheer gewees. Hy het ook nooit vantevore ’n hartaanval of beroerte gehad nie,” vertel Sonja.

Izak is Saterdag in die teatersaal ingestoot waar die dokters sy nek gestut het.

“Die dokters wou die operasie aanvanklik doen direk nadat Izak in die hospitaal opgeneem is, maar sy se toestand was te onstabiel. Hulle kon hom toe eindelik Saterdag opereer en die operasie was ’n sukses.”

Volgens Sonja kan Izak sy skouers en kop al effens beweeg. Hy kan egter nie sy arms of bene beweeg nie.

Izak Potgieter (52) lê al vir byna drie weke in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp en sy toestand is steeds kritiek (Foto: Verskaf)

Izak is verlede Woensdag vir die eerste keer uit die geïnduseerde koma wakker gemaak sodat hy self kan begin asemhaal.

“Die dokters wou hom Maandag stadig van die ventilator afgehaal het, maar hy het ’n terugslag beleef. Sy longe is nog baie swak.”

Izak is vandag, ’n week later, al helder wakker, maar kan nog nie praat nie weens die ventilator se pyp wat in sy mond is.

“Hy probeer met sy oë met my kommunikeer. Dit moet vir hom vreeslik frustrerend wees om nie te kan praat of sy arms of bene te kan gebruik nie. Ek kry hom so jammer.”

Die egpaar beskik nie oor ’n mediese fonds nie en moes R300 000 vir Izak se operasie insamel. Sonja sê hulle sit nou met hande in die hare oor die reusagtige bedrag van mediese uitgawes wat hulle nog moet betaal.

“Ons kan hom nie nou na ’n staatshospitaal skuif nie, omdat hy moet stil lê en sy nek nie te veel mag beweeg nie. Dit sal ’n fout wees om hom nou te skuif.”

Izak sal na die Witrand-rehabilitasiesentrum in Potchefstroom oorgeplaas word.

“Daarna begin ons nuwe realiteit. Ons hele lewe gaan verander. Maar ek sal Izak elke tree van die pad bystaan, soos hy my die afgelope 30 jaar van ons getroude lewe bygestaan het.”

Sonja sê hulle sal ’n rolstoel vir Izak moet aanskaf en ook iemand kry wat permanent met Izak sal kan help.

“Die realiteit is dat ek nie vrou-alleen vir Izak sal kan sorg nie. Daar is baie uitdagings wat daarmee gepaard gaan.”

Sonja sê Izak sal ook dalk nooit weer sal kan werk nie.

“Dit is verskriklik hartseer, want hy was nog altyd ’n besige boer wat almal altyd probeer help het.”

Sonja kan by [email protected] gekontak word vir enige finansiële bydra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skappie ·

Kan maar net vir jou en Izak sterkte toe wens. Wie weet, dalk kan hy weer leer om te loop.

Danie ·

Nie n mediese fonds nie.
Hoe kan iemand dit regverdig in vandag se tyd

Spookasem ·

Omdat meeste van ons sukkel om kos op die tafel te sit, nevermind a mediese fonds. Waar is jou menslikheid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.