Boer vir tweede keer op plaas aangeval

Die Heritage Protection Group (HPG) se lede het die aanvallers se spore tot by ‘n nabygeleë nedersetting gevolg (Foto: Heritage Protection Group (HPG), Facebook)

’n 48-jarige boer is Woensdagmiddag op sy plaas in Tinmyne buite Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo deur ʼn groep mans oorval en aangerand. Dit is die tweede aanval op Albertus Kotze binne die bestek van twee maande.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het ongeveer vyf mans Kotze glo Woensdag om 16:13 op sy plaas, Belleview, by sy beeskraal ingewag. Die plaaswerkers by die kraal was reeds vasgebind.

Mojapelo sê toe Kotze by die kraal aankom, is hy deur die mans oorrompel. Hulle het vuurwapens op hom gerig en hom ook met ʼn tou vasgebind. Hulle het geld en vuurwapens van hom geëis.

Volgens Mojapelo het hulle Kotze se selfoon en gelaaide vuurwapen gesteel. Hy sê Kotze het beserings aan sy kop opgedoen. “Die aanvallers het ook ‘n 21-jarige plaaswerker vasgebind en sy selfoon gesteel,” sê hy.

Mojapelo sê die aanvallers is na die plaashuis toe, waar hulle die huis probeer oopmaak het, maar dit was gesluit. Hulle het toe teruggegaan na die beeskraal en Kotze en die plaaswerkers op Kotze se bakkie gelaai en die pad gevat. Kotze en die plaaswerkers was steeds vasgebind en is ‘n ent van die plaas langs die pad afgelaai.

Die polisie het later die voertuig ‘n paar meter van die plaas gevind.

Nog niemand is in verband met die plaasaanval in hegtenis geneem nie.

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, sê die plaaswerkers het iets verdag by die plaashuis opgemerk en Kotze se neef gebel om te kom help.

Die misdaadbestrydingsgroep, Heritage Protection Group (HPG), was ook na die toneel ontbied. Die HPG het in ʼn inskrywing op hul Facebook-blad gesê hul lede het die aanvallers se spoor gevolg tot by ʼn nabygeleë nedersetting. “Hulle is daar by die teerpad deur ʼn ander voertuig opgelaai,” lui die inskrywing.

Volgens Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, was dit die tweede aanval op Kotze se plaas binne twee maande. Maroela Media het vroeër berig ʼn groep van minstens nege verdagtes het op 24 Mei op Kotze se plaas toegeslaan. Die verdagtes het met geld en ander items ter waarde van nagenoeg R500 000 op die vlug geslaan.

Van die aanvallers se spore op plaas (Foto: Heritage Protection Group (HPG), Facebook)

Die aanvallers betrokke by die tweede aanval is glo as dieselfde aanvallers wat by die eerste aanval betrokke was, geïdentifiseer.

“Dit is duidelik dat die polisie in die landelike gebiede, soos in die omgewing van die Mogalakwena-munisipaliteit (waar Potgietersrus geleë is), nie voldoende toegerus is om plaasaanvalle doeltreffend te hanteer nie. Dit is hoekom daar ʼn tweede aanval op dieselfde plaas plaasgevind het,” meen Smalle.

Smalle sê in Julie was daar ook plaasaanvalle by die Percy Fyfe-natuurreservaat en Dwaalboom in die Mogalakwena- munisipale gebied in Limpopo.

Die DA het in Junie ʼn omvattende veiligheidsplan bekend gestel om aanvalle op boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe te bekamp. Dié party het ook ’n debat in die Nasionale Vergadering aangevra om lig op die landwye toename in plaasaanvalle en -moorde te werp.

“Ons doen ’n beroep op inwoners van landelike gebiede om waaksaam te wees en die nodige veiligheidsmaatreëls te tref tydens die afsonderingstydperk. Dit is tyd dat die provinsiale regering ernstige aandag aan plaasaanvalle in ons provinsie gee. Boere en plaaswerkers moet kan veilig voel in hul huise,” sê Smalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hercules ·

die naam, All National Criminals, pas uitstekend, ek “leen” dit by jou :-)

Plaaskind ·

Die arme man en werkers, watter trauma en vrees ervaar hulle nie. Dankbaar dat hul nie dood gemaak is nie. Ek hoop die aanvallers word gekry en dieselfe manier behandel. Ons moenie toelaat dat hierdie soort nuus alledaags word nie – dit is al lankal ‘n oorlog wat teen boere gevoer word.

Mrs H ·

Ek wonder op hoeveel vuurwapens n mens sal afkom, sou daar n ‘soektog operasie’ in die nedersetting (plakkers wat geen eiendom of belasting betaal nie en in der waarheid onwettig bly met die vermeutelheid om dienste te DEMAND) Ek glo jy gaan n klein berg van vuurwapens bymekaar maak…

Mariana ·

Hulle sal heel waarskynlik weer terugkom. Nog nie gekry wat hulle soek nie. Maar kriminele is mis belangriker as die res van die inwoners van die land.

Ysgodin ·

Wie het ooit kon droom dat die gevaarlikste werk op aarde ‘n plaasboer in Suid-Afrika sou wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.