Boer weer op die been ná tweede plaasaanval

Wildboer Pier Schutte is weer op die been nadat hy verlede maand op sy plaas aangeval is. (Foto: Verskaf)

“As ek nie my vuurwapen by my gehad het nie, was ek dood.”

Só sê wildboer Pier Schutte (43) wat weer op die been is nadat hy verlede maand in ’n tweede aanval op sy plaas naby Beestekraal in Noordwes geskiet en ernstig gewond is. Die eerste van twee skote het onder meer skade aan sy long, diafragma, milt en maag aangerig.

Maroela Media het berig dat Schutte op 5 Mei om 18:00 deur twee mans by ’n stoor sowat 800 m van sy huis oorval en geskiet is. Hy het teruggevuur en hulp in ’n stemboodskap ontbied nadat die aanvallers, wat aan Schutte bekend is, gevlug het.

“Ek dra gewoonlik ’n koeëlvastebaadjie, maar het nie op dié betrokke aand een aangehad nie,” sê Schutte.

Dit was die tweede keer in vier maande wat hy aangeval is. Hy het tydens die eerste aanval ook teruggevuur en ongedeerd daarvan afgekom.

Dié keer was egter anders.

Schutte vertel hy was besig om die stoor te vee toe hy onraad vermoed het.

“’n Entjie verder is geriewe en drie ongebruikte kamers waar werkers voorheen gebly het.”

“Hulle het een van dié kamers oopgebreek en daar weggekruip.”

Schutte sê die aanvallers het uit die kamer gehardloop en dadelik begin skiet. Hy het teruggevuur, maar is twee keer deur die aanvallers in die rug geskiet voordat hulle gevlug het.

“Dis die eerste skoot wat die ergste skade aangerig het.”

“Die koeël het gesplit en my long, diafragma, milt en maag beskadig.”

’n Erg beseerde Schutte het weggehardloop en in ʼn bos weggekruip.

“Ek het ’n stemboodskap op ’n veiligheidsgroep op Whatsapp gelaat. Ek wou so gou as moontlik by my bakkie kom sodat mense my maklik kan kry sodra hulle hier aankom.”

Schutte se bure was binne ses minute nadat hy die boodskap gestuur op die toneel en binne 30 minute was daar reeds meer as 50 voertuie met mense om te help.

Van die plaas is Schutte per noodhelikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer waar hy ʼn noodoperasie ondergaan het en vir sowat vier dae onder verdowing gehou is.

“Ek is innig dankbaar vir elke persoon en instansie se hulp en ondersteuning, asook my familie.”

Wees paraat

Die vinnige reaksie van veiligheid- en nooddiensspane, sê Schutte, beklemtoon die absolute noodsaak om by veiligheidstrukture in landelike en afgeleë gebiede ingeskakel te wees.

Schutte is ’n lid van die Krokodil Gemeenskapsbeskermingsgroep (KGBG) waar hy ’n sektorleier is.

Dié groep werk onder meer nou saam met ander organisasies en veiligheidstrukture soos AfriForum, Heritage Protection Group (HPG), sekuriteitsmaatskappye en die polisie.

“Jou handwapen en kommunikasie is broodnodig.

“Maak ook seker dat die mense met wie jy kommunikeer naby jou woon. Hulle gaan baie vinniger as byvoorbeeld die polisie by jou uitkom.”

Hy sê verder dat dit nie net belangrik is om jou handwapen by jou te dra nie, maar dat jy moet weet hoe om hom te gebruik.

“Jy moet met jou wapen oefen en paraat wees. ’n Handwapen wat in die kluis lê gaan waarskynlik gebruik word om jou mee te skiet.”

“Dis ook belangrik om te alle tye jou selfoon of tweerigtingradio by jou te hê.”

Schutte sê voorts dat geweerskote ook nooit geïgnoreer moet word nie en dadelik op veiligheidsgroepe aangemeld moet word.

Wat sy aanvallers betref weet Schutte baie goed wie hulle is. Volgens Schutte is die aanvallers in hegtenis geneem, maar sedertdien weer op borgtog vrygelaat.

Hy sê dat stropery ’n groot probleem in die omgewing is en dat onwettige stropers bekend is vir hulle misdrywe in die gebied.

Weens die sensitiewe aard van die polisieondersoek kan Schutte nie meer oor die saak uitbrei nie.

“Ek sal nie sê ons is bang nie, dis ongelukkig ’n realiteit waarmee ons in Suid-Afrika moet saamleef. Ons is egter versigtig en paraat.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ovelia ·

Jy is my hero. Skiet razk en jy weet wie hul is. Jy mut asb ni sonder jou baadjie laat buite wees nie. Ons mense mut saam staan.. . Toe ons bedryg was op di plaas. Ons kon hul in di veld sien wegkruip en hul ht di honde geslaan. Die polisie was binne 7 min op di plaas.

Di ·

Gaan my verstand te bowe dat hierdie kriminele borgtog toegestaan word. Die kriminele in hierdie land word meer beskerm deur die ANC as die burgers. Pateties, hier moet ons self baklei om te oorleef, kan nie staat maak op polisie of regering se hulp nie.

Dirk ·

En dan wil hulle voorkom dat ons vuurwapens besit om onsself te verdedig…

Werner ·

Dit is hoekom ou Bheki jy nie eers in jou drome my wapen sal kry nie.

Misky ·

So dankbaar jy sterk so goed aan en het dit oorleef. Gaan egter my verstand te bowe dat die moordenaars borg gekry het? Hulle gaan mos net weer terug gaan en het niks om te verloor nie. Dis daai ouens se beroep om te moor en stroop.

Anthony ·

“Jy moet met jou wapen oefen en paraat wees. ’n Handwapen wat in die kluis lê gaan waarskynlik gebruik word om jou mee te skiet.”

“Dis ook belangrik om te alle tye jou selfoon of tweerigtingradio by jou te hê.”

En dalk jou koelvaste baadjie te dra?

Sêmanet ·

Dalk moet ons maar ook almal koeëlvaste baadtjies koop en dra soos ons die maskers dra. Elke oomblik. Hy is voorwaar gelukkig om die storie te kan vertel. Hierdie storie oor die vuurwapenwet wat hul wil verander, gaan maar net doodeenvoudig veroorsaak dat ons eerlike burgers in oneerlike burgers gaan verander. Die skelms het nie eens lisensies nie, maar hulle skiet links en regs.

Anel ·

Dis net verstommend dat boer nou koelvastebaadjies moet dra om te boer. Hulle voed die moordenaars. Nou word dit ons ontneem om ons self te verdedig. Die boer weet wie hulle is en so waar as vet hulle word weer vrygelaat . Wat het die wapens geword wat hulle gehad het? Boer, jy moet nou paraat wees. Hulle gaan defnitief teruggaan. Maak jy net seker jy jy maak klaar wat hulle probeer en nie anders om nie. Baie sterkte.

Grassie ·

Ek is bly mnrSchutte het die aanval oorleef. Om twee maal deur so ‘n beproewing te gaan en dan nog te besluit om voort te boer verg mannemoed. Ek haal my hoed af vir hom. Ek hoop net hy bring ‘n bietjie meer tyd op die skietbaan deur.

Erika ·

En dan wil die bevoegde Goverment die wet verander Sodat jy as minority nie wapens kan he vir selfverdediging nie.. en oorleef nie..maar die skuldiges kom weg…-daar is n slang in gras..

Althes ·

Dis n goeie idee om ñ koeelvaste baadjie te dra, want hul kan jou met die mes steek ook. Dan is mens nie so kwesbaar nie.
Sterkte, ek is bly jy is gespaar. Ek bid elke dag vir julle boere.

Persheks Adri ·

Baie dankbaar hy leef nog!

Om te dink hoed wil ons ontwapen. Ons is nêrens veilig nie en sal NIE ontwapen word NIE! Hy kan werklik van dit vergeet.

Samuel ·

Eersdaags gaan hy miskien sonder vuurwapen moet klaarkom. Sterkte boer Schutte. Ons witmense sal baie meer paraat moet wees en saamstaan.

Klipkop ·

As minister Cele en sy oormag terroriste hulle sin kry , dan is jou en my doppie geklink en sal daar nie nog ‘n keer wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.