Boerboel-model wil ‘kitsroem’ ten goede aanwend

Dié Boerboel Wear-advertensie het duisende Facebook-gebruikers laat swymel.

“Ek weet nie watse materiaal julle hier gebruik nie, maar dit lyk vir my soos troumateriaal.”

Só skerts Bianca Corbett, een van die duisende Facebook-gebruikers wat die afgelope week liries geraak het oor ʼn advertensie vir die buitelug- en sportsdraghandelsmerk Boerboel Wear.

In die advertensie poseer ʼn fris boerseun met ʼn stewige paar bruingebrande bene en sy agterstewe in ʼn eina-klein broekie om die handelsmerk se nuwe hemde te adverteer. Die advertensie het soos ʼn veldbrand op Facebook versprei en is reeds byna 5 000 keer gedeel, met sowat 10 000 kommentare.

Reinard van der Vyver, die model in die foto, is ʼn 22-jarige landboustudent van die Vrystaat wat tans op sy oupa se plaas hand bysit met die boerdery.

Hy is onlangs aangewys as die wenner van die Boerboel soek ʼn boer-kompetisie, waarin ʼn geskikte model gesoek word om die gesig (en bene) vir die handelsmerk te wees.

Van der Vyver vertel hy is “oorbluf” oor die reaksie wat die advertensie op sosiale media uitgelok het. “Ek is self nie baie aktief op sosiale media nie en het nie regtig van die geweldige reaksie geweet tot iemand dit vir my uitgewys het nie.”

Hy bieg dat dit nie in sy geaardheid is om soveel aandag te geniet nie en dat hy sy “kitsroem” eerder ten goede wil aanwend. Van der Vyver sê hy wil graag mense aanmoedig om AfriForum se Wilmien Potgieter-fonds te ondersteun.

Die tweejarige Wilmientjie en haar ouers is in Desember 2011 wreed op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor.

“Die veiligheid van ons boere lê die boeregemeenskap baie na aan die hart en elke plaasmoord raak ons direk,” verduidelik Van der Vyver.

Of hy weer voor die kameras sal pryk, weet hy egter nie. “Ek is nie regtig een vir die kamera nie. Ek het aan Boerboel Wear se kompetisie deelgeneem omdat daar lekker pryse op die spel was, maar ek ag myself nie ʼn model nie.”

Volgens Stephan Hugo, bemarkingsbestuurder van Boerboel Wear, was die enigste vereiste om in te skryf vir die kompetisie dat jy ʼn boer in jou hart moes wees, al is jy nie ʼn boer op ʼn plaas nie. “Reinard voldoen aan al dié vereistes,” sê hy.

Die foto is in Pretoria by Monte de Dios geneem tydens die wenner se amptelike fotosessie. “Wanneer ons die foto’s neem, maak ons seker ons lê klem op die model se beste eienskappe – in dié geval sy bene en boude,” skerts Hugo.

Die grappige byskrif by die foto waarin die kleremaatskappy skerts oor die detail op die sak van die hemp, is tong-in-die-kies gemaak.

“Ons skryf die byskrifte na gelang van die sin van humor wat uit die mense se reaksies op die advertensies deurskemer. Ek tel baie dinge op in die goed wat die mense kwytraak en speel dan daarmee.

“Ons plaas elke Vrydag ʼn foto as deel van ons #VleisWysVrydag-veldtog en die asters sit en wag vir die foto’s.”

Volgens Hugo het die sukses van die advertensie ongetwyfeld bygedra tot die verkope van die Boerboel Wear-produk. “Die advertensie het die verkope van al ons produkte deur die bank ʼn hupstoot gegee.”

Hy voeg by die uitreiking van Jan Jan Jan se nuwe enkelsnit “Gooi mielies” het ook tot die styging in Boerboel Wear se verkope bygedra. Dié musiekgroep het destyds ontstaan nadat ʼn foto van drie jong manne in Boerboel-klere ook op die internet versprei is en mense aangemoedig is om aan ʼn kreatiewe naam vir dié nuwe groep te dink.

“Ná die foto het Boerboel se bemarkingsbestuurder besluit ons moet ʼn musiekvideo maak, en hy het die liedjie ook geskryf. Toe ons drie weer kyk – hier sit ons!” het Riaan Venter, oftewel Fris Jan, destyds in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

“Ek dink dit is maar ʼn sameloop van omstandighede. En die dames wat die klere aankoop, hoop dalk hulle mans lyk ook só daarin,” voeg Hugo laggend by.

Duisende Facebook-gebruikers het hulle gedagtes oor die advertensie gedeel. “Hierdie is wat alle Suid-Afrikaners byeen sal bring, welgedaan!” skryf Mbalenhle Zimande.

“Ek het seker tien minute na die foto gekyk voordat ek besef het dit is ʼn advertensie vir klere,” skryf Yolande Rooker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Martie Smartie

Kan Malema poseer vir n Bull Massive advertensie asb, Dink net, Bull Massive Wear. Of rooi overalls vir EFF No Wear & Tear Wear …

ElizeK

Maar kyk so n pragtige jongman. Tot hierdie ouma het gekyk en weer gekyk.

lodewyk

Dit is nou n boere seun met n fantastiese hart

Tarien

Hemde? Wie sou kon raai :)

Misky

Sjoe en nogmaals sjoe….. moes my asma pompie dadelik nader trek