Boerbok spring offerande net-net vry

Hilda, soos sy intussen gedoop is, is met ’n dolk in haar rug tussen rotse op Kampsbaai se strand aangetref. Foto: Stad Kaapstad

ʼn Boerbok wat die afgelope naweek ʼn rituele slagting in Kampsbaai in die Wes-Kaap vrygespring het, sal na verwagting ten volle herstel.

Hilda, soos beamptes van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Kaap die Goeie Hoop-tak die ooi intussen gedoop het, is Saterdagoggend tussen rotse op die gewilde swemstrand aangetref met ʼn dolk stewig in haar rug geplant.

Wayne Dyason, woordvoerder van die Stad Kaapstad se wetstoepassingsafdeling, sê die beamptes wat op haar afgekom het, het die DBV ontbied. Hilda het toe reeds heelwat bloed verloor.

“Een van ons veeartse het die dolk verwyder en die wond behandel om ontsteking te voorkom,” het Belinda Abraham, DBV-woordvoerder, Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê. “Ons monitor haar vir sekondêre infeksie, maar sy sterk mooi aan op ons plaas in Grassy Park.”

Abraham sê die prognose is “uiters positief”, want dit lyk asof Hilda ten volle sal herstel. Die volgende uitdaging is om ʼn goeie huis vir haar te vind. “Dit sal iemand baie spesiaals moet wees wat haar aanneem en ons sal hulle natuurlik streng keur.”

Gevra van waar die naam Hilda, sê Abraham: “Dit het maar net vir ons gevoel dit pas by haar.”

Sy sê dit lyk asof Hilda so hittete die slagoffer van ʼn rituele offerande kon gewees het en gelukkig is om lewend daarvan af te kom. “Daar was ʼn stuk rooi materiaal aan die dolk waarin hare geweef was.”

Dis onmoontlik om vas te stel wanneer of waar die offerande veronderstel was om plaas te vind, maar Abraham sê om ʼn dier leed aan te doen of nie in te gryp wanneer iemand anders dit gedoen het nie, kom neer op ʼn oortreding van die Dierebeskermingswet.

Die DBV vra enigeen met inligting wat hulle kan help om genoeg bewyse bymekaar te kry om ʼn klag by die polisie in te dien, moet die Kaapse DBV tydens kantoorure by 021 700 47158/9 of ná ure by 083 326 1604 bel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mrs H ·

Noem dit by die naam. Satanistiese rituele. Hopeloos te veel van die gemors in SA.

Melktert ·

Noem dit op die naam! Watse geloof vra so ‘n offerhande? Politieke korrektheid is gif man!

Mariska Meyer ·

Hier by ons aan die KZN Suidkus doen die Zioniste afrika groepe ook gereeld diereoffers op die strand. Gewoonlik hoenders.
Maar jys reg, kom maar alles neer op okkultiese offers. Hilda hoop jy kry iemand wat jou soo gaan liefhê en bederf bok se kind!

Barend ·

Offerande, Abraham en ‘n dolk. Moes hulle die ooi se naam nie Isak gegee het nie?

Piet ·

Nou is ons al 4000 jaar terug in SA. En die mense het gedink evolusie beweeg vorentoe!

Challa ·

Hoera vir Hilda. Laat jou lig skyn. Laat weet as julle blyplek soek. Sal n voorreg wees.

Elsa ·

By my sou sy ‘n liefdevolle huis en ‘n liefdevolle ma gekry het. As ek nader aan die Kaap gebly het, sou ek Hilda met graagte wou aanneem. Op my werf kry alle diere name en hulle sal van ouderdom doodgaan, maar word nie geëet nie. Mag jy volkome herstel liewe Hilda en mag jy iemand baie spesiaal vind om jou aan te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.