Boere bitter oor hulle self vir spuitwerk moet betaal

Daar word nou al weke lank gespook om die sprinkaanplaag in bedwang te bring. (Foto: Verskaf)

Talle boere en diegene betrokke by die bespuiting van ʼn reusesprinkaanplaag in veral die Noord-Kaap, is woedend omdat die departement van grondhervorming, landbou, natuurbewaring en omgewingsake in die provinsie hulle maande laas vir die spuitwerk betaal het.

Twee van die boere met wie Maroela Media gesels het, sê die departement skuld hulle naastenby R100 000 elk vir dienste wat hulle reeds gelewer het.

“Van Desember tot op hede het ons nog nie ʼn sent gekry nie,” sê een van die boere wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie uit vrees dat hy uiteindelik nie ʼn sent gaan sien nie.

Dié skaapboer dok duisende rande van sy eie boerdery se geld op om die bespuiting te doen, betaal die werkers wat help met die bespuiting uit sy eie sak, gebruik sy eie voertuie en brandstof en verskaf self persoonlike beskermingstoerusting.

Boonop is die pompe wat die staat verskaf om die bespuiting te doen, dikwels oud en in ʼn vrotsige toestand, sê hy. Boere koop self passtukke vir krane, asook pype vir die pompe – en doen herstelwerk aan hul beskadigde voertuie uit hul eie sakke.

Die staat verskaf ten minste ook die gif wat vir die bestryding gebruik word.

Nag ná nag durf hulle rowwe terrein aan om die plaag te help bestry. “Daar is geweldig baie breekskade aan voertuie, ons ry op veldpaaie en die slytasie en brandstofverbruik is uiters hoog.

‘n Mielieland in die omgewing van Victoria-Wes nadat ‘n swerm sprinkane daardeur is. (Foto: Verskaf)

“En die departement het geen benul wat gaan gebeur as ons nou onttrek nie.”

Dit is presies wat ʼn ander boer – vir wie die departement ook duisende rande skuld – gedoen het.

“Ek spuit nie meer nie en ʼn groot rede hiervoor is omdat ek nie betaal word nie. Ons werk weke lank aaneen, 18 uur per dag, sewe dae per week. Jy het ses uur om te eet, te slaap en te was.

“As jy nie sprinkane spuit nie, moet jy na jou boerdery kyk. Ek moet my aandag nou by my boerdery bepaal. Ek kan nie aangaan met ʼn ding wat my kontantvloei so belemmer nie,” sê hy.

En ja, daar ís betaling betrokke en dié geld is welkom – veral in ʼn gebied wat jare lank onder droogte gesteier het en waar boere soms net-net hul ondernemings aan die gang kon hou.

“Die bespuiting is ʼn moeilike, harde en ondankbare werk. Die meeste van die geld wat die departement my skuld, gaan vir koste wat ek reeds aangegaan het. Baie mense wil nie meer vir die staat spuit nie.”

Die departement het nou die dienste van twee helikopters bekom om lugbespuiting te doen, veral in gebiede wat die meeste geraak word, asook op plekke met onbegaanbare terrein. Een van die helikopters is gevestig op Upington en die ander een op De Aar.

Die boere met wie Maroela Media gepraat het, sê die gebruik van helikopters en vliegtuie word verwelkom en is ʼn uiters doeltreffende manier om die sprinkane te bestry, maar dit moet in samewerking met bespuiting per bakkie en te voet gedoen word om werklik deurslaggewend te wees.

Boere het tussen hulle al honderde swerms bespuit.

“Ons het nie ʼn ander keuse nie. Die sprinkane vreet my geld op. Die swerms is vreeslik gekonsentreerd. Hulle eet ʼn kol sodat daar nie een blaar op een takkie oorbly nie. Dit is nie soos skape of beeste wat ʼn hele kamp stelselmatig bewei nie. Die sprinkane vernietig voor die voet.”

Die veld in sommige gebiede neem boonop geweldig lank om te herstel. “In die Noord-Kaap is ons plantegroei geweldig sensitief vir oorbeweiding, veral ná die droogte. As jy ʼn bos verniel, kan dit vier of vyf jaar duur om te herstel.

“Op makrovlak is dit ʼn kwessie van voedselsekerheid, maar op mikrovlak word ons weiding verniel. As die sprinkane ʼn kol werklik kaal gevreet het, bly dit so vir tot vyf jaar.”

Departement doen wat hy kan

Zandisile Luphahla, departementele woordvoerder, sê die plaag is steeds nie in bedwang nie en minstens 33 dorpsgebiede in die Karoo-gordel loop deur.

“Die meeste gebiede word geraak deur vlieërs – volwasse sprinkane – en daar is ook nuwe berigte van ʼn nuwe generasie voetgangers,” sê hy.

“Ons werk saam met belanghebbendes soos boerderyverenigings en individuele boere om die verspreiding te stuit.”

Luphahla sê al hoe meer boere ontvang opleiding om die sprinkane te beheer. Opleiding is die afgelope ruk op onder meer Jan Kempdorp, Prieska, Niekerkshoop, Kliprand, Vosburg, Carnarvon, Britstown en omliggende gebiede gedoen.

Die departement het ook reeds lugbespuiting in gebiede soos Marydale, Groblershoop en Kenhardt gedoen.

Transnet en verskeie mynmaatskappye in die gebied is ook aan boord omdat die voetgangers ʼn regstreekse uitwerking op die veiligheid van spoorlyne kan hê. Paaie moet ook skoongemaak word nadat bespuiting gedoen is.

Luphahla het ʼn beroep op grondeienaars in die gebied gedoen wat nie op die plase woon nie om die departement te nader sodat bespuiting ook op hul eiendom gedoen kan word indien nodig.

Hy sê egter sommige mense wat bespuiting doen, gebruik dit as ʼn “werkskeppingsinisiatief”.

Diegene betrokke word per kilometer vergoed.

“Die departement hou aan om mense te betaal, maar die situasie het nie verbeter nie.

“Dis nie die rede hoekom die departement nie betaal nie; ons moet ook na die impak van die beheer kyk en bepaal of dit doeltreffend gedoen is.

“Sommige van die plaagbeheerders dink ons vertraag die proses doelbewus, maar dit is belastingbetalers se geld dié en ons moet toesien dat die werk na wense gedoen word. Soms gaan ons terug na ʼn gebied en dan is daar steeds ʼn probleem. Ons probeer die situasie ten beste bestuur.

“Ons is bewus van die klagtes en vra om verskoning. Die proses neem tyd.”

Luphahla sê hulle besef dit is uiteindelik die boere in die gebied wat aan die kortste ent trek, maar as die bestryding as ʼn werkskeppingsprojek beskou word, is die pogings bloot nie doeltreffend nie. Hy sê ook soms eis die plaagbestryders vir bespuiting wat nie gedoen is nie.

Een van die boere het teruggekap en gesê gʼn mens sal wil deel wees van ʼn werkskeppingsprojek waar jy nie betaal word nie.

“Ons het sewe jaar lank droogte in die gebied gehad. Ek sou beter daaraan toe gewees het as ek nié met die bespuiting help nie,” sê een van die boere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Wat het julle verwag ouens? Hierdie sogenaamde regering stel net belang in hoeveel geld hulle in hul eie sakke kan steek, en verder gee hulle niks vir niemand anders om nie.

SlinkseKoljander ·

Het hulle gedink die regering gaan hulle help?? Die regering soek hulle eerder dood as om hulp te verleen. Sterkte daar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.