Boere bly in aanhouding ná skietvoorval op plaas

(Argieffoto: Maroela Media)

Die vier boere van Mpumalanga wat verlede week in hegtenis geneem is in verband met ’n skietvoorval op ’n plaas in die omgewing van Piet Retief, sal nog ’n week in aanhouding moet bly voordat hulle aansoek om borgtog kan doen.

Mgcini Amos Coka en Zenzele Coka is Vrydag tydens die voorval op die plaas in die omgewing van Dirkieskop doodgeskiet. Dit is nog onduidelik oor wat presies dié noodlottige dag plaasgevind het en verskeie weergawes van die gebeure doen sedert Vrydag op sosiale media die rondte. Nie een van die belanghebbendes kon of wou egter tot dusver met Maroela Media in gesprek tree nie.

Daniel Cornelis Malan (38), Cornelius Lourens Greyling (25), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) het Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn in verband met die broers se dood. Groot getalle polisielede was Maandag by die hof waar talle betogers saamgedrom het. Volgens ’n lid van die publiek is die betogers lede van die EFF wat woedend is oor die broers se dood.

Die saak is tot 19 April uitgestel vir verdere ondersoek. Die vier boere word luidens die klagstaat wat Maroela Media onder oë gehad het elk van twee aanklagte van moord aangekla.

Malan word ook aangekla van dwarsboming van die gereg nadat hy glo geweier het om sy vuurwapen te oorhandig.

Volgens die polisie het die slagoffers glo na die eienaar van die betrokke plaas gegaan om met hom te praat oor werksverskaffing aan seisoenale werkers. Mpumalanga Landbou (ML) het egter in ’n verklaring gesê soos hý verstaan, het die voorval voortgespruit uit ’n beweerde onwettige optog deur lede van ’n naburige gemeenskap. “Die lewens van werkers, bestuur en die plaaseienaar was na bewering tydens die gemelde optog deur die optoggangers bedreig.”

Luidens die verklaring het die plaaseienaar blykbaar ’n noodoproep aan sy bure uitgestuur vir hulp.

“’n Skermutseling het volgens berigte uitgebreek waartydens een plaaswerker doodgeskiet, ’n optogganger noodlottig gewond, een boer skedelbreuk opgedoen en verskeie ander boere ernstig beseer is.”

ML sê hy dra geen kennis van enige betogers wat in hegtenis geneem is in verband met die beweerde onwettige optog nie.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het Dinsdagoggend by navraag aan Maroela Media gesê hy gaan nie enige verdere inligting rakende die voorval bekend maak nie aangesien die saak nog in die hof aangehoor moet word.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen ’n beroep op die publiek gedoen om kalm te bly en nie gevolgtrekkings as die waarheid te versprei voordat ’n deeglike ondersoek nie gedoen is nie.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat daar uiteenlopende weergawes bestaan oor wat tydens die voorval gebeur het. “Emosies word nou opgestook sonder dat die feite bevestig is. Die feit dat twee mense dood is en een persoon in die hospitaal is moet betreur word, ongeag wat gebeur het. Daar is egter te min bevestigde inligting beskikbaar op grond waarvan gevolgtrekkings gemaak kan word oor wat tydens die voorval gebeur het. Die verskillende weergawes is ook so uiteenlopend dat dit onverantwoordelik is om sommer net gevolgtrekkings te maak en dit as die waarheid te publiseer voordat die nodige feite bekom is.”

ML het die lewensverlies betreur en reeds ’n dringende vergadering met Mandla Msibi, die nuutaangestelde LUR vir landbou, landelike ontwikkeling, grondsake en omgewingsake aangevra om die voorval te bespreek.

Maroela Media probeer van Maandag af om meer inligting rakende die gebeure op die plaas in te win en het reeds verskeie belanghebbendes in die omgewing gekontak. Hulle wou egter nie kommentaar lewer nie en Maroela Media is gevra om te wag op ’n verklaring van die boere se regspan. Dié verklaring is egter nog nie beskikbaar nie en Maroela Media sal dit publiseer sodra dit in ontvangs geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

En weer is die aandagsoekerige eff daar om die mense op te sweep.

Blikkies

Hulle moet borg kry en hoef ook net R500 borg te betaal. Dit is net regverdig.

Dup

Doen jy niks,dan gaan hulle jou van jou eie plaas verdryf……doen jy iets en beskerm jou eiendom en lewe,dan sluit die SAPD jou toe en die EFF wil die dorp afbrand…..ñ regte verloor-verloor situasie waarin ons boere hulle bevind.

Kokerboom

Die landbou unies asook Afriforum sal dringend planne moet optrek om diesulke situasies te hanteer en om sulke eindresultate te verhoed. ‘n Hulplyn vir boere moet , indien nie reeds, ge-implimenteer word. Hierdie is ‘n kruitvat wat dreig om te ontplof en EFF/ ANC gaan meer en meer subtiel hiervan gebruikmaak!! Sodra grondeienaar optree word hy die vark in die verhaal en gewenste resultate word verkry

Deon

Daar neem die hele saak nou n ander rigting in, ek kon nie glo dat enige persoon n ander sommer net gaan skiet as hy werk vra nie, in die vorige berigte het 2 van die 3 agter gekom die een is nou nie meer daar nie en het toe terug gegaan om hul maat te gaan soek, hoe was dit moontlik om weg te loop en nie te sien jou maat is nie meer daar nie? Jy het gehardloop soos n vlakhaas in alle rigtings, dit is al hoe so iets kon gebeur…. In elk geval, die is nou… Lees meer »