Boere dreig met hofstappe oor veilingverbod

(Argieffoto)

ʼn Groep boere en ander betrokkenes in Noordwes dreig om die minister van landbou, Thoko Didiza, hof toe te sleep nadat ʼn verbod verlede week op veilings in verskeie provinsies geplaas is.

Dít nadat bek-en-klouseer wéér in die provinsie uitgebreek het. Die uitbreking is dié keer in die Molemole-distrik. Alle produksiefasiliteite, voerkrale en slagpale in die Molemole-distrik en omliggende gebiede word gemonitor.

Die streek is digby die Vhembe-gebied waar bek-en-klouseer in Januarie vanjaar uitgebreek het. Die departement het vroeër gesê daar kon dus vinnig op die uitbreking gereageer word en alle vorige beheermaatreëls vir die provinsie bly steeds van krag.

Andreas Peens, die groep se regsverteenwoordiger, het gesê die minister het tot Dinsdag om 12:00 om op die skrywe te reageer.

Die verbod is op 14 November geplaas op veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes en is boonop onbepaald gedoen. Die departement het ook onder meer beveel dat diere onder veearts-toesig vervoer moet word en dat enige verskuiwings tot die minimum beperk word.

“Dis bitter onregverdig. Hulle het die veilingshuise toegemaak, maar nie ʼn verbod op die vervoer van diere geplaas nie,” het Peens gesê.

Dit beteken in praktyk ʼn boer in ʼn provinsie waar veilings opgeskort is, kan bloot sy diere na ʼn provinsie vervoer waar die verbod nié geld nie.

(Argieffoto: Hartebeestloop)

Peens het gesê behalwe vir die feit dat daar geen einddatum vir die verbod bekend gemaak is nie, geld dit omtrent vir die helfte van die land. “Dit is heeltemal onbillik. Hulle kan onmoontlik so ʼn groot gebied doeltreffend monitor.”

In hulle brief sê die groep hoewel die departement reeds op 1 November bewus geword het van die uitbreking, is daar bykans twee weke lank geen stappe gedoen nie. Die situasie is volgens hulle ook nie met rolspelers in die bedryf bespreek nie, ten spyte van die “verreikende gevolge” wat dit inhou.

“Die besluit beteken dat die hele veilingbedryf [van geraakte diere] tot stilstand gaan kom. Dit gaan lei tot die sluit van veilingshuise, enorme werksverliese en vooroordeel aan ander in die bedryf.”

Hulle sê voorts die besluit plaas verdere druk op boere wat betref hul kontantvloei, met die feestyd en plantseisoen op hande en beskou die besluit boonop as onwettig. “Die maatreëls wat ingestel is om die siekte te beheer is uiters hardvogtig, te drasties, buite proporsie tot die risiko en nie in ooreenstemming met ʼn soortgelyke besluit wat in Januarie 2019 geneem is nie.”

Volgens die departement sou die besluit in die Staatskoerant afgekondig word, maar dit is oënskynlik ook nog nie gedoen nie.

Hulle vra dus die minister om te bevestig dat sy wél die verbod ingestel het, op watter gebiede dit van toepassing is, óf – en indien wél, wanneer – die besluit in die Staatskoerant afgekondig is en hoekom die besluit geneem is. Hulle wil ook weet wanneer die besluit opgehef gaan word.

Peens het gesê as die minister wél reageer, maar hulle nie tevrede met haar reaksie is nie, gaan hulle oorweeg om die hooggeregshof nader en vir ʼn dringende bevel vra om die verbod te laat opskort.

Dit blyk intussen dat die bedryf, ten spyte van die verbod, met veilings voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Arie

Dit is omdat vertraagdes in beheer is

marous

Hulle het die klok hoor lui maar dink dit is ‘n roomys kar …

Pampoen

Ek is ‘n leek as dit by beeste, bek-en-klouseer en veilings kom. Dit sou vir ons baie werd wees as die mense wat kla vir ons ook alternatiewe voorstel om die siekte te bekamp.

Judge Dredd

As verbod nie in staatskoerant geplaas is – gaan voort soos altyd.

Scalla

Gaan bepaal jul eerder by die rondloper beeste rondom plakkerskampe wat van plastieksakke lewe en nooit gedoseer of ge ent word nie, dit is deel van die probleem. Die ligte is aan maar daar is niemand tuis nie.