Boere en beurtkrag: Eskom wil help

Boere het Vrydag in die Noord-Kaap opgeruk teen beurtkrag. (Foto: VF Plus Siyancuma/Facebook)

Die moontlikheid bestaan dat boere dalk van hoër fases beurtkrag kwytgeskeld gaan word.

Eskom se topbestuur het Sondagoggend onthul dat hulle samesprekings voer met verskeie boere, landbouorganisasies en die minister van landbou om te probeer verstaan wat dié sektor se uitdagings is.

Eskom hoop om eindelik broodnodige verligting te bewerkstellig om te verseker dat die landboubedryf met sy bedrywighede kan voortgaan om “voedselsekerheid te bewerkstellig en die nodige buitelandse inkomste te genereer”.

Boere het Vrydag in die honderde in die Noord-Kaap opgeruk in ʼn vreedsame protes teen die voortslepende beurtkragkrisis. Die boodskap was duidelik: Besproeiingsboere gaan gebuk onder beurtkrag en sou die situasie nie verander nie, kan dit die land se voedselsekerheid knou.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het gesê dat hy intussen met verteenwoordigers van AgriSA vergader het.

Dít terwyl André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, met die minister van landbou en owerhede van haar departement byeengekom het om die volle prentjie te kry.

“Ons het ʼn uitgebreide gesprek gehad en ek glo ons as Eskom moet kennis neem van die uitwerking wat beurtkrag, veral fase 6, op die landbousektor het,” sê Oberholzer.

De Ruyter het dit beaam en meen hoewel die meeste nywerhede in die land sal aanvoer dat hulle verligting van beurtkrag moet geniet, dit eintlik noodsaaklik is vir die landboubedryf wat gewasse lewend moet hou en die land moet voed.

Besproeiingsboere spook dikwels tydens tydperke van hoë beurtkragfases om water gepomp te kry om landerye nat genoeg te hou. Wanneer daar wel krag is, is dit dikwels in tye waar landelike gebiede se kragtariewe opgestoot word, en dit knou boere se sakke net verder.

AgriSA het Eskom meegedeel dat die meeste boere steeds hul bedrywighede kan voortsit as fase 2 ingestel word. Dit is egter wanneer fase 4 ingestel word dat dit moeiliker raak om boerderye op dreef te hou en met die instelling van fase 6 is dit geheel en al onmoontlik om bedrywighede voort te sit.

Volgens De Ruyter beplan Eskom om verder met die belangegroepe in verbinding te tree “om te sien hoe ons boere kan bystaan wanneer daar buitengewoon hoë stadiums van beurtkrag is om te verseker dat hulle [boere] steeds na hulle produkte kan omsien”.

ʼn Span is ook reeds saamgestel om die landboubedryf se uitdagings aan te pak.

De Ruyter maan dat Eskom egter nie altyd die oplossings tot al die uitdagings het nie – veral in gebiede waar munisipaliteite uitsluitlik verantwoordelik is vir die kraginfrastruktuur.

“In sommige gevalle is voedselverwerkingsaanlegte asook sommige boere afhanklik van munisipale infrastruktuur en dan sukkel ons om daar in te gryp,” sê hy.

“Maar ons werk nou saam met die departement om stelsels in werking te stel om boere te help om toegang tot tydsensitiewe elektrisiteit te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Die voedsel produseerders moet totaal vrygestel word van beurtkrag anders gaan die ANC nie ‘n sak meel hê om stemme te koop by die volgende verkiesing nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie net boere nie. Die hele voedselwaardeketting moet dan vrygestel word van beurtkrag. Dit kan maklik 20% van die ekonomie wees.Wat help dit boere se produksie vrot.

Eugene ·

Hoe lekker lag ek nou. Eskom wil die Boere help met beurtkrag. Eskom kan hulle self nie eers help nie. Boere moet glad nie beurtkrag kry nie. Ramaphosa moet ingryp.

Groen Ghoen ·

Jy verstaan die probleem Eugene. Soos iemand verlede week geskryf het: Daar is ‘n groot see tussen praat en doen, en die boot is vol gate. In Eskom se geval soek ons nog na die boot om tussen praat en doen te roei.

Heinrich ·

Ramaphosa moenie ingryp nie, hy en sy kaders moet geheel en al uit die prentjie verwyder word om ons krag weer aan die gang te kry.

Owlie ·

Hoe rym dit
Noudat die boere optogte hou, Afriforum/Solidariteit/DA hofsake aanhangig maak, winkels sonder kos en veral vars groente sit kom loadshedding fases skielik af, boere kan skielik gehelp word…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.