Boere help ‘transitorowers’ vastrek

Foto: SAPD

Vyf vermeende transitorowers is Saterdag met behulp van boere in die Vryburg-omgewing in Noordwes vasgetrek.

Lt.kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn transitovoertuig het omstreeks 12:45 kontant by ʼn onderneming in Vryburg opgelaai toe ʼn BMW-voertuig naby die transitovoertuig stilgehou het. Vyf verdagtes in die BMW het op die veiligheidswagte losgebrand.

“Die bestuurder van die transitovoertuig het glo teen die BMW vasgery, maar die verdagtes kon daarin slaag om met ʼn houer vol kontant van die toneel te vlug,” het Myburgh gesê. Sy het gesê die polisiestasies in Pudimoe en Vryburg is in kennis gestel van die voorval en plaaslike landelike veiligheidsgroepe is ook gevra om op die uitkyk te wees vir die verdagtes se voertuig.

“Later die dag is ʼn verdagte Toyota Corolla op ʼn grondpad naby Amalia gewaar en die polisie is in kennis gestel. Die polisie kon uiteindelik die voertuig voorkeer en die vyf insittendes is ondervra,” het Myburgh gesê.

Die verdagtes het die polisie na ʼn plaas naby Vryburg geneem waar polisiebeamptes die perseel deursoek het. Tydens die soektog is die BMW gevind wat vermoedelik tydens die transitorooftog gebruik is. Al vyf verdagtes, tussen 27 en 50 jaar oud, is in hegtenis geneem.

Lt.genl. Baile Motswenyane, die provinsiale polisiekommissaris, het die polisie en die boere geloof vir hul samewerking wat tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei het. Sy het gesê die inhegtenisneming is beduidend in ag genome die hoë voorkoms van transitorooftog in die provinsie.

Die verdagtes sal Maandag in die Vryburg-landdroshof verskyn. Nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Toktokkie ·

Dit maak mens bang om naby besighede en banke te kom as daar sulke voertuie staan om geld op te laai!! Van nou af gaan ek ver weg bly. Mens besef nie elke dag watse gevaar dit inhou nie, maar dis realiteit!! Van nou af as ek so voertuig gewaar hou ek maar eder verby, wil nie my of my kinders se lewens in gevaar stel nie dankie!! Het al n paar keer verby hul geloop as ek gou by spar wil ingaan maar nou sal ek twee keer dink. Mense wees versigtig ?

Gawie Kriel ·

Janee. Dit is die realiteit, dat die rowers wat ons voertuie roof het geen simpatie vir enig iemand nie. Hul dink nie eers aan kinders nie. Hul sal enig iemand skiet wat naby is net om hul identiteid te beskerm. En as mense weg bly ban die pantser voertuie af is dit nie net veiliger nie, maar ook makliker vir die wag om gevaar uit te ken.

SjN ·

Puik optrede deur die gemeenskap in samewerking met die Sapd, mag die vermeende rowers boet vir hul dade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.