Boere in Aberdeen kry voer, kos

ʼn Plasing op ʼn Facebook-groep waarin gevra is vir hulp aan boere en hul werkers in Aberdeen in die Oos-Kaap, het tot gevolg gehad dat vragte vol donasies vandeesweek hier afgelaai is. Die donasies het voer vir plaasdiere, skryfbehoeftes en toiletware ter waarde van duisende rande ingesluit.

Die donasies is deur 50 vrywilligers in Aberdeen afgelaai en aan 120 families versprei.

Anton Bence, wat die projek begin het, sê hy het besef hoe droog die Oos-Kaap is toe hy en sy vrou een naweek deur dié provinsie gereis het.

“Ons het met die boer gesels waar ons oorgebly het en hy het vir ons gesê hy het reeds al sy skape verkoop en is van plan om sy beeste die volgende week te verkoop, omdat daar niks meer op die plaas oor is vir die diere om te eet nie,” vertel Bence.

Die gesprek het by hom gebly en vroeg in November het Bence ʼn boodskap op die Facebook-groep Inwoners van Despatch, waar hy ook woon, geplaas. “Ek het gevra of enigiemand kos wil skenk en of hulle belangstel om saam met my ʼn projek te begin.” Binne enkele dae het verskeie gewillige partye met hom geskakel.

“Boere uit ander gebiede in die Oos-Kaap het voer geskenk en die Nederduitse Gereformeerde Kerk het 300 kospakkies gegee.”

Bence, ʼn streeksbestuurder vir Pick n Pay, het ook gereël dat kliënte niebederfbare kos in mandjies in die winkels in Moffet, Uitenhage en Newton Park kan skenk.

In minder as drie weke is ʼn hele lorrievrag se goedere bymekaargemaak. Dit het ingesluit hondekos, toiletware, skryfbehoeftes en niebederfbare kos. “Danksy ʼn R10 000-skenking van Pick n Pay en ander boere in die omgewing kon ons ook vier trokke met voer stuur,” sê Bence.

Die vervoer van die donasies is geborg deur Grain Carriers, Conradie Transport en ander vragmotoreienaars wat anoniem wil bly.

Bence sê hulle beplan nog ʼn donasie in Maart volgende jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Foxi ·

Baie baie dankie Here vir hierdie wonderlike mense. Mag ons almal so saamstaan in ontmoontlike swaar tye. Amen

Michelle ·

My hart so seer vir ons boere in hierdie droogte tyd.
Baie goeie projek Anton.
Dankie.

PieterJohannes ·

Dit is wonderlik en ‘n mens is dankbaar dat mense hulle harte oopmaak en gee. Dit is net baie moeilik om nie die eer van mense te soek as mens soiets doen nie. “Wanneer jy liefdadigheid bewys moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, anders het jy jou loon weg.”
Ons bly hoop en bid dat daar spoedig uitkoms sal kom met milde reën.

Susanna ·

Kan net sê “Baie baie dankie Liewe Heer vir U versorging!” Amen!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.