Boere in Klein-Karoo vra weer vir droogteramptoestand

‘n Kurkdroë besproeiingskanaal op ‘n plaas in die Klein Karoo. (Foto: Laubscher Coetzee)

Boere in die Klein-Karoo het ʼn beroep op die burgemeesters van drie plaaslike munisipaliteite gedoen om die streek opnuut tot rampgebied te verklaar. Die gebied strek van die Bo-Kamanassie tot by Calitzdorp.

Die afgelope ses jaar se droogte het boere in dié streek nie net tot op breekpunt gedruk nie, maar boonop het die uitwerking van die Covid-19-pandemie mense op hul knieë.

Laubscher Coetzee is ʼn volstruis- en lusernboer van die Oudtshoorn-omgewing. Hy sê daar het in Mei vanjaar sowat 50 mm in die gebied geval. In die berggebiede, waar dit gewoonlik veel meer reën en dié water dan afloop, was die situasie nie veel beter nie.

Die gebied se twee besproeiingsdamme, Stompdrif en Kamanassie, beteken in hierdie stadium vir boere van dié gebied niks nie. Die vlak van die Stompdriftdam het vandeesweek op 6,7% gestaan, wat beteken boere kan geen water daaruit gebruik nie. Die vlak van die Kamanassiedam staan tans op 0%.

“Die dam is letterlik kurkdroog en dolleeg. Jy kan regdeur stap. Daar is niks water nie,” sê Coetzee.

“Dit is ons dilemma. Ons het ook nie veel reën in die berge gekry nie en as dit nou 50 mm in die berge reën, beteken dit ook nie dit gaan afloop na onder nie. Die fynbos en die grond is só droog dat dit eers die water gaan absorbeer.

“As die takriviere nie loop nie, kan ons nie water lei nie. Dít is wat ons in ʼn krisis gedompel het.”

Gerhard Meyer, bestuurslid van die Stompdrift-Kamanassie-watergebruikersvereniging (SKWGV), sê dit is die laagste damvlakke in die honderdjaarbestaan van die vereniging. Tot dusver is winterreënval in die streek ondergemiddeld met die gevolg dat daar tans geen opvolg-leibeurt gaan wees vir boere wat reeds gesaai het, wagtend op winterreën nie.

“Dit is ʼn krisis wat nie langer so kan voortduur sonder permanente skade vir die streek, dorpe, inwoners en sakesektor nie,” sê Meyer.

Langtermynplanne

In 2014 (link) het die besproeiingslanderye só daarna uitgesien. Die foto regs wys hoe dit deesdae lyk. (Foto’s: Laubscher Coetzee)

“Ons is nou al ses jaar lank in ʼn droogte. As daardie damme vol is, het ons ruim water vir tussen twee en twee en ʼn half jaar. As ons die water in pype kan aanlê, kan ons daardie periode verdubbel.”

Dit is hoofsaaklik besproeiingswêreld en Coetzee sê boere in die gebied maak gebruik van grondkanale om water na hul landerye te lei. Hy verduidelik die wêreldgemiddeld vir water wat op dié manier verlore gaan is sowat 15%. In die Sondagsrivierskema, waar sementkanale gebruik word, is die verlies tussen 7% en 9%.

In die Klein Karoo is die verlies tussen 32% en 38%. Coetzee sê dit beteken dat vir elke drie beurte wat boere gegee word om water te lei, een beurt se water eintlik heeltemal verlore gaan.

Om die kanale na pype om te skakel – en dit is ʼn duur oefening – is een van die voorgestelde langtermynoplossings.

Coetzee sê as pype gebruik word, kan boere boonop self besluit wanneer hulle water wil lei omdat hulle ʼn kraan in die pyp kan oopdraai en die water by elke plaas gemeet kan word. In hierdie stadium moet boere almal op dieselfde tyd water lei omdat die water nie op ʼn individuele grondslag vir boere uitgelaat kan word nie. Soms moet ʼn boer dus sy grond natlei selfs al sou hy nie wou nie, omdat hy andersins sy beurt verbeur.

Hy sê dit sou ook beteken dat boere hoëwaardegewasse, byvoorbeeld granate, kan aanplant omdat water meer geredelik beskikbaar sal wees.

Volhoubare oplossings nodig

Boere vra vir ‘n volhoubare oplossing om die uitwerkings van droogtes teen te werk. (Foto: Laubscher Coetzee)

Die droogte het boere – en die breër gemeenskap – in ʼn wurggreep. Dit is ʼn opdraande stryd vir talle boere om net hulle kernkuddes te voer en met baie boere gaan dit, om dit sagkens te stel, bitter sleg.

“Ons moet elke halm en elke krummel vir ons diere aankoop. Dit maak dit geweldig moeilik.

“Ons wil by ʼn punt kom waar ons groter watervolhoubaarheid kan verseker. Ons wil nie bakhand staan nie. Ons wil op ons voete kom en daar bly.”

Die Covid-19-pandemie het talle instellings hard geslaan. Die volstruisboerdery het dit nie vrygespring nie. Coetzee sê die bedryf is boonop modegedrewe – die leer en vere is gewoonlik groot gunstelinge onder modebewustes – maar deesdae is die situasie benard en die produkte hoop op.

Brasilië, ʼn groot mark vir Suid-Afrikaanse volstruisvere en ʼn land waar “daar omtrent elke twee weke ʼn karnaval is”, se vraag het weens die pandemie getuimel.

Ook voëlgriep eis ʼn tol en vleisuitvoere trek swaar.

Maar dis nie net die landboubedryf wat steier nie. Covid-19 het die toerismebedryf, ʼn groot werkskepper, bykans platgevee en talle ander sakeondernemings in die streek het reeds permanent hul deure moes sluit.

Versoekskrifte

In ʼn desperate hulpkreet het boere hulle nou na die burgemeesters van Oudtshoorn, George en Kannaland gewend om te vra dat die gebied tot rampgebied verklaar word.

Die versoekskrifte word onder meer gesteun deur die Oudtshoorn-sakekamer en verskeie landbou-organisasies. Die versoekskrifte is verlede Vrydag aan Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, Leon van Wyk, burgemeester van George, asook Magdaleen Barry, burgemeester van Kannaland, gestuur.

Die plaaslike munisipaliteite is die eerste deur waarby aangeklop moet word om ʼn gebied tot rampgebied te laat verklaar.

“Om tot rampgebied verklaar te word beteken dat ons gebied vir droogtehulp in aanmerking kom. Ons wil graag ook die boodskap tuisbring dat ons nie droogtehulp wil sien as slegs finansiële bydraes van die regering aan boere nie, maar dat daar ook holisties na droogtehulp gekyk moet word,” sê Coetzee.

“Daarmee word bedoel dat daar ernstig klem gelê moet word op oplossings betreffende watervoorsiening, opgaarkapasiteit en meer doeltreffende waterverspreiding deur middel van pypleidings in die skema.

“Landbou in die Klein-Karoo maak nou staat op plaaslike munisipaliteite om die krisis te erken en daadwerklike stappe te doen om oplossings te vind en verligting te bring.”

Dag zero, oftewel die dag waarop Kaapstad se water sou opraak te midde van ʼn nypende droogte ʼn paar jaar gelede, was gereeld in die kollig. ʼn Ramptoestand is aangekondig en later weer opgehef. Maar net omdat die damme wat die metro van water voorsien nou stabiel is, beteken nie dat ʼn droogte nie steeds in sommige gebiede voortduur nie.

Waar is regering?

Boere steier. Die toerismebedryf is platgevee, talle sakeondernemings moes hul deure sluit. En steeds duur die droogte hier voort. (Foto: Laubscher Coetzee)

Die kantoor van Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, het by navraag gesê die verklaring van ʼn ramptoestand val onder die mandaat van die provinsiale en nasionale departemente verantwoordelik vir plaaslike regering.

Die Wes-Kaapse departement vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het nog nie op Maroela Media se navraag gereageer nie.

Daniel Johnson, Meyer se woordvoerder, sê dat 1 115 boere in kritiek en uiters kritiek droogtegeteisterde gebiede wat in aanmerking kom vir voerhulp, hulp ten bedrae van R12,2 miljoen in April vanjaar ontvang het.

Johnson sê gegrond op die tweejaarlikse veldassessering wat in Maart gedoen is, het die Wes-Kaapse departement van landbou gebiede in die Sentraal-Karoo, die Tuinroete en die Weskus as kritiek of uiters kritiek gekategoriseer. Die veldtoestande in verskeie dele van die Sentraal-Karoo het versleg.

“Die veld in die Klein-Karoo is tans droog, met kritiek droë gebiede. Omstandighede in die Matzikama-plaaslike munisipaliteit het nie veel verander sedert verlede jaar se assessering nie. Die gebied is steeds in ʼn kritieke toestand. Die veldtoestande in die Mosselbaai- en Hessequa-munisipaliteit is tans droog nadat hulle ondergemiddelde reënval gekry het.”

Johnson sê dit gaan minstens drie jaar van bogemiddelde reënval verg voordat die veld begin herstel ná die verwoestende droogte.

“Boere word aangemoedig om volhoubare boerderypraktyke te aanvaar. Verdere steun word gebied deur ramprisikoverminderingsmetodologie en werksessies. Deur dit te doen, berei ons boere voor vir toekomstige ramptydperke wat deur klimaatsverandering veroorsaak word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Jare gelede is gewaarsku dat SA moet besef ons is ‘n waterskaarsland en elke druppel spaar en nuttig gebruik. Hoeveel damme is in die laaste kwarteeu gebou? Om in buurlande damme ten duurste te bou en daarna te moet smeek en uithaal vir ‘n bietjie leiwater is bloot onnosel. Destyds is gesè mynbou is wel winsgewend maar watertekorte ontwikkeling kortwiek. Kort-voor-lank begin staatsfracking wat alle water sal opeis totdat alles tot vrek afwentel en dors jakkalse snags tussen grys bossies huil.

Jerry

Die regering wil nie die boere bystaan nie. Dit was nog altyd hul plan om die boere te laat vergaan.

Kanjynoumeer

Israel – Solutions for a water-starved world:
Developing alternative water sources.
Advancing Israeli agriculture.
Improving water quality.
The results are impressive.
Jewish National Fund has build 250 reservoirs.
With the recent severe droughts in Israel, there is an imparative need to build more reservoirs.
Afrikaners can learn and take lessons from Israel.

Kanjynoumeer

Wat is die alternatiewe vir droog geteisterde gebiede en wat kan Afrikaners anders doen om n oplossing te vind. As ons nie met oplossings kom nie, gaan hierdie probleem nooit opgelos word in die toekoms nie.

Willem

Die foto langs die groen landerye lyk soos droë karoobossies. Lyk nie soos landerye nie. Hartseer.