Boere juig, strate oorstroom ná swaar reën in Vrystaat

Oorstroomde strate in Bethlehem (Foto: Johan Voigt)

Inwoners en boere van die Vrystaat is positief oor die komende reënvalseisoen nadat die sluise van die hemel Dinsdag in sekere gebiede in die provinsie oopgegaan het. Ondanks al die vreugde oor die reën, is strate in Bethlehem tans onder water en het talle eienaars van sakeondernemings reeds erge waterskade gely.

Talle foto’s is op sosiale media gedeel van die strate in Bethlehem wat tot Woensdagoggend steeds onder water was. Die Jordaanrivier en die Loch Athlone-dam het Dinsdagaand oor hul walle begin stoot.

Die laagliggende gebiede rondom Lindley-, Pretorius- en Archbellstraat het ook gister oorstroom en dié paaie is vir motoriste gesluit. Ondernemings in dié omgewing is aangeraai om die nodige voorsorg te tref om waterskade te vermy. Mullerstraat is vanoggend weer vir verkeer heropen.

Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou se streeksverteenwoordiger in Bethlehem, sê die onderdorp naby die gholfbaan is steeds onder water en heeltemal onbegaanbaar. Die gholfbaan is ook onder water.

Die Gholfbaan in Bethlehem onder water (Foto: Verskaf)

“Ondernemings in daardie gebied is onder water en het erge waterskade,” sê Knobel.

In die res van die provinsie is boere veral positief oor wat die komende oes kan oplewer ná goeie reënval die afgelope week in die provinsie. Van die boere wag al jare vir hierdie reën.

Goeie reën het Dinsdag wydverspreid oor dele van die Vrystaat geval. Volgens die weerkantoor in Bloemfontein het Ficksburg tot 82 mm reën gekry. Tot 40 mm reën is by Bethlehem en 53 mm by Rosendal, naby Clarens, aangemeld.

Die Bothaville- en Balkfontein-gebied het tot 21 mm reën ontvang. Bloemfontein en Kroonstad het onderskeidelik tot 16 mm en 18 mm reën ontvang. Welkom het van Maandag tot Dinsdag tot sowat 104 mm reën ontvang.

Die Boshof-gebied, waar brande in Oktober plaasgevind het, het die afgelope drie dae om en by 106 mm reën ontvang.

Goeie reën op Mike Krüger se plaas (Foto: Mike Krüger)

Mike Krüger wat op ’n plaas digby Dealesville boer, sê hy het tussen 50 mm en 60 mm reën vir Maandag en Dinsdag op sy plaas ontvang. Hy is baie positief oor sy opbrengs mielies en sonneblom wat hy geplant het.

“Ons het lanklaas sulke goeie reën hierdie tyd van die jaar gehad. Die afgelope vyf jaar wat ek self boer, kon ons nie so baie so vroeg als betyds geplant kry nie. Dit reën gewoonlik eers later en dan moet ons sukkel om die gewasse eers in Januarie te plant. As dit nou aanhou reën, sal dit ’n besonder goeie jaar wees,” sê Krüger.

Viaan Viljoen wat naby Bloemfontein boer, sê hy het sowat 153 mm reën sedert November op sy plaas aangeteken.

“Ons is baie dankbaar as die reën so vroeg kom, want as dit soos verlede jaar eers ná Kersfees kom, sukkel mens baie met droë veld in die hitte van Desember,” vertel Viljoen.

Mike Krüger sê hy is positief oor die opbrengs hierdie seisoen (Foto: Mike Krüger)

“Met die natter veld verwag ons ook ’n beter vee-opbrengs. Dit beteken ook minder voeruitgawes vir jou as boer.”

Meer as die gemiddelde reënval vir die seisoen het reeds in gebiede soos Bethlehem en Rosendal geval.

Die strate is ook onder water in Welkom (Foto: Goldfields Crimes & Traffic update, Facebook)

Volgens ’n boer naby Rosendal, wat anoniem wou bly, het sy al meer as dubbel die reën gekry as wat sy die afgelope twee Desembers aangemeld het. Sy het in Desember 2018 sowat 72 mm reën en verlede jaar Desember altesaam 108 mm reën aangemeld in vergelyking met die 233 mm wat al vir hierdie Desember aangeteken is.

Tot dusver is 245 mm reën vir die maand vir Bethlehem aangeteken.

Knobel sê boere in die Bethlehem-omgewing wat nog nie klaar droë suikerbone geplant het nie, sukkel nou weer om klaar te plant weens die swaar reën die afgelope paar dae.

“Daar sal ’n week lange volgehoue sonskyn moet wees om hierdie boere kans te gee om klaar te plant,” sê Knobel.

Hy sê ook swaar hael in die Oos-Vrystaat het skade aan boere se sojabone en mielies veroorsaak.

Die oorstroomde gholfbaan in Bethlehem (Foto: Verskaf)

Bethlehem onder water (Foto: Johan Voigt)

Water spoel deur Bethlehem (Foto: Johan Voigt)

Water begin by besighede inloop (Foto: Isoldé Laesecke)

Talle besighede in Bethlehem het erge waterskade (Foto: Isoldé Laesecke)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.