Boere kan hiér aansoek doen om finansiële hulp

‘n Melkplaas. (Foto verskaf deur Petrus Grové.)

Saai, ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het ’n aanlyn platform geskep wat boere wat op klein skaal boer en finansiële nood ervaar in staat stel om aansoek te doen vir fondse uit die Covid-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds). Aansoeke vir die fonds het op 8 April geopen en sluit op 22 April.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die departement se ingrypings om die impak van Covid-19 te verlig, op 6 April aangekondig. Die departement het R1,2 miljard beskikbaar gestel om hoofsaaklik hulp aan kleinskaalboere in finansiële nood te bied. R400 miljoen van die R1,2 miljard is aan boere in die proaktiewe grondverkrygingstrategie (PLAS)-program toegeken terwyl die oorblywende geld aan boere in hoofsaaklik die pluimvee-, groente- en ander veekommoditeitsektore toegeken sal word. Ander kommoditeitsektore sal per geval geëvalueer word.

“Ons het ons platform vir Covid-19-reispermitte op 25 Maart van stapel gestuur wat duisende boere regoor Suid-Afrika binne minute gehelp het om ’n reispermit te bekom. Ons hoop om dieselfde met die CADS-fonds se aansoekproses te doen,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Die grootste probleem is egter dat die meeste boere wat vir dié fonds kwalifiseer nie oor die nodige hulpbronne beskik om die dokumente wat voltooi moet word, uit te druk of te skandeer nie. Die aanlyn platform wat Saai geskep het, maak dit vir boere moontlik om al die vereiste inligting digitaal in te voer en die vorms in te dien sonder die gewone rompslomp,” sê Rossouw.

Sodra die vorms op Saai se platform voltooi en ingedien is, word dit elektronies by [email protected] ingedien en aansoekers sal ook ’n kopie van hul rekords ontvang.

Besoek die aanlyn platform by https://bit.ly/CADSFund of stuur jou naam en van via WhatsApp na 066 071 6094.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet parys ·

Wat is die kans dat ek as blanke boer en geen werkers het nie enige of noemenswaardige bedrag ondersteuning sal kry . Boer van 1996 af en val binne die R 20 000 tot 1 milj omset .

Die Wolf ·

Ag nee asb. Klaar moedeloos. Stuur jou applikasie in na SAAI.Ons is gou om te moan maar wanneer die geleentheid daar is trek on kleinkoppie. As jy dit nie doen gaan dit dalk na ander wat dit nie verdien nie.

Michael 1 ·

Die regering se een ding maar het altyd n verskuilde agenda
Wat word bedoel met boere,huidige benaadeelde boere ingesluit of net voorheen benadeelde farmers?

Rodger17 ·

Boere soek baie vinnig hulp maar as die oeste mooi is koop hul eerste n blinknuwe 4×4 en gaan hou vakansie.Sê maar net!

Michael 1 ·

Stem saam maar nie almal nie,daar is baie boere wat regtig swaarkry.

katerinadiekat ·

Dink so daaraan: ALMAL wat enige vorm van salaris verdien koop soms vir hulle iets wat hulle graag wil he. Of dit nou n nuwe voertuig, n vakansie, nuwe selfone of rekenaars, nuwe meubels is ens. Nie net boere nie. Tweedens: Diegene wat maak dat jy elke dag kan eet, kan seker maar soms van hulle finansiele opbrengste geniet, of hoe? OF SIEN JY BOERE AS JOU PERSOONLIKE SLAWE???

Miskruier ·

Ek kan nie maar die wat dit wel kan doen, is dié wat 24/7 aan diens is. Daarby kom patrollie ry, en in ons dorp, huisbrande blus, water voorsien, die SAP help….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.