Boere kan stabiliteit handhaaf buite die regering

Argieffoto: led.co.za

Die nuus van krediet-afgradering van Suid-Afrika is ook vir die landbou slegte nuus, al kan boere wat uitvoer, moontlik voordeel trek uit ʼn tuimelende rand. In die groter prentjie van die landsekonomie en stabiliteit, is dit egter erg nadelig, ook vir landbou.

Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê die land se rommelstatus is in wese ʼn kompliment, want as daar ʼn gemorsstatus sou wees, sou Suid-Afrika onder die ANC daarvoor kwalifiseer.

“Die rommelstatus spreek net die ekonomie en beleggersvertroue aan, maar op beleidsvlak het die land reeds ʼn gemorsstatus bereik met ʼn regering waarvan die ministers mekaar weerspreek, beleid wat van dag tot dag verander en waar revolusies van verskillende aard bepleit word,” het Meintjes verduidelik.

“Al prioriteit wat daar vir landbou nou is, is om voedsel op die tafel te plaas vir die land se inwoners, so bekostigbaar moontlik. Die rommelstatus gaan ʼn invloed op voedselpryse hê, en lesse in Egipte het al getoon dat hoë voedselpryse wat onbekostigbaar word, tot revolusie kan aanleiding gee,” het hy gewaarsku. “Daarom moet landbou hom geheel en al onttrek van die regeringspolitiek, wat ideologies gedrewe is en nie met die realiteit van die ekonomie rekening hou nie. Die boere kan die stabiliserende mag in die land wees, mits hulle hul nie laat aflei en verlei deur die regering se mislukkende beleid nie. Die ANC moet alleen pa staan vir die land se toestand, en ons as boere moet net doen wat ons moet doen, en dit is om te boer. Ons doen dit al lank reeds ten spyte van die ANC-regering en sy beleid, en nie danksy ʼn ANC-regering nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

lw ·

Boere julle maak ons trots. Dankie vir jul deursettingsvermoe onder uiters moeilike omstandighede en eksterne faktore.

Hendrik ·

ek weet nie hoe boere hulle van die politiek kan isoleer nie want dit tref hulle ten volle

Hannes marais ·

Gaan nie so sleg met die boere nie…baie ry nog nuwe bakkies

CHRISTA ·

Hannes,ry JY net vir 2 of 3 jaar JOU nuwe bakkie op daardie grondpaaie wat vol gate is en dan praat ons weer!! Almal in ons stede en voorstede kla oor HIERDIE paaie – gaan kyk in watter toestand is ons plattelandse paaie (veral tussen die plase en dorpe)!!!

Dirk Gouws ·

Hannes,voor jy weer kommentaar lewer oor die boere,kom boer asb ‘n maand saam my sodat jy kan sien wat se uitdaging ons in die gesig staar,wat se insetkoste ons moet aangaan en dan nie eers weet wat die verkoopprys gaan wees nie,asook watse ure ons en ons werkers moet insit om jou kos op jou tafel te sit,watse afstande ons sogenaamde nuwe bakkies moet aflê om voorraad en toeristing by die naaste dorp wat partykeer 50 + km op swak paaie is.
Jy is welkom om my te kontak sodat ons kan reelings tref vir jou om saam my ‘n maand te kom boer.

Ww ·

Hannes jy kan my ou bakkie koop. Die het net op teerpad geloop vir 163 000km

Lillabel ·

Hannes, dis wonderlik as hul nuwe bakkies ry, hul skryf dit af teen belasting. Minder geld vir Zuma, sien!

Francois ·

Is nou keelvol om te hoor van voedselsekerheid. Dis belangrik maar boere moet volhoubaar wees en groei ook, net soos enige besigheid. Niks is verniet nie. ANC stel nie belang in n onderneeming in dorp nie. Hulle soek net grond. Ons ry nuwe bakkies omdat ons plaas ingnieurs hulle so breek.

christine ·

Wil net Maroela laat weet baie van ons sukkel om by Maroela intekom elke keer as jy knoppie druk kan ju maar “resart” wat gaan aan

Koos ·

As jy hard werk, verdien jy om elke jaar vir jou n nuwe bakkie te koop. As jy jaloers is, lyk dit vir my of jy ook een van daai is wat by die robotte of op die hoeke van strate staan en bedel en dan maar net begeer.

Nie 'n boer nie ·

EN dit is HIERDIE houding van BOERE wat die publiek weerhou daarvan om ENIGE simpatie met hulle te he, plaas dat jy dit ordentlik verduidelik oor plaaspaaie, oor toerusting en vee wat julle moet rondry met die voertuie, maar nou maak jy asof jy die ENIGSTE een is wat hard werk en ‘n bakkie kan bekostig. Dit is hoekom NIEMAND meer simpatie met julle het nie en net OMBLAAI na die volgende bladsy van die koerant. KOM BY, julle BOERE Is nie ‘n uitsonderlike spesie nie, julle is soos ons almal veronderstel om WERKERS te wees, net so min soos JY kan lewe sonder ONS elektrisiteit en water, en ander dienste wat ONS lewer, maar nee julle dink mos julle is die enigste onvervangbare wesens? Ons verdien maar almal ‘n salaris, en kan so af en toe ‘n nuwe karretjie bekostig, ons is NIE jaloers nie, ek wil asb nie op ‘n godverlate plaas sit en elke nag na al die geluide le en luister nie. MAAR JULLE HOUDING is negatief teenoor die publiek aan wie julle julle kos AFSMEER< weet jy wat .. as die boere nie meer daar is nie VOER ONS KOS IN, so julle is regtig nie so onvervangbaar soos wat julle dink nie.

Eduard ·

Nie n boer nie Teen watse koste dink jy ons sal kan invoer?

Manna ·

Help nie boere produseer voedsel goedkoper want op ou end kom dit nie by verbruiker uit. Die probleem le by die gulsige middelman en eindverskaffers. Boere behoort meer uit deal te kry .Ek gun die boere hulle nuwe bakkies want hulle vedien dit

John ·

Bogenoemde is ongelooflike lelike reaksies uit die mond van boere. Miskien moet Hannes se waarskuwing goed in die mond rondgeskommel word voor dit… ingesluk word. Arrogansie het al menigeen sy plek… op aarde en in die hiernamaals gekos. As boere nou nog neersien op stedelinge wat reeds die katarsis van veranderinge deurloop het en steeds glo hierdie sg patete is net daar om die gifbespuite en gm-begogelde produkte te moet koop sodat boetie met sy duur motor oor sy plaaspaaie kan seil, maak hulle ‘n groot fout. Lees wat se die Here. En die boere is gou om te eis dra water of voer aan vir my vee of ek skiet hulle vrek en dan het julle nie kos nie. Die ANC is nie julle grootste probleem nie.

Johannes Meintjes ·

Na mening moet volhoubare selfbestuur nie net in die landbou, maar ook in ander sektore van die samelewing verbeter en uitgebou word sodat groter onafhanklike wyses van ordelike en ekonomiese voordeel bewerkstellig kan word. Landbou-unies, ko-operasies en organisasies sal verby die “groepie” en geslote of klubsoortige status quo moet leer beweeg na daadwerklike waarde vir hulle lede en deelnemers in die groeiende afwesigheid van nasionale regering, dienstelewering en ekonomiese stimulasie.

Janie Monsieur ·

Dagsê christine,

Dankie vir jou kommenataar. Ons is jammer om te hoor jy sukkel. Ons het so paar tegniese probleme gehad, maar dit behoort nou opgelos te wees. Indien dit steeds nie aan jou kant werk nie, kontak asseblief [email protected].

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek het niks met boerdery te doen nie en my familie boer ook nie maar as jy na die kommentare kyk sal jy sien dat die boere sondermeer aangevat is oor hul duur bakkies en dan kla hul oor paaie, of soiets. Die daaropvolgende antwoorde ter verdediging van die boere is normaal.
Ek wil vir geen geld ter wereld ‘n boer wees nie want behalwe om vir homself te sorg het hy nog ‘n swetterjoel ander wat na hom kyk vir enigiets van klere, kos tot mediese hulp. ‘n Boer het nie net die een werker wat vir hom werk nie, hy het nog die se hoeveel vrouens (kyk maar na jou president), kinders van A,B en C en as jy nie oppas nie nog by ma en pa en ouma en oupa en, en, en. Nee wat, boer julle manne maar dan sal ek op die sylyn staan en vir julle hande klap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.