Boere kan woeker met ‘rooi goud’ in droë streke

Saffraanblomme

Suid-Afrika kan in die komende jare ʼn beduidende produsent en uitvoerder van saffraan, verreweg die wêreld se duurste spesery, word. Planne vir die ontwikkeling van die plaaslike saffraanmark is reeds goed op dreef.

Dit is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse landbou, aangesien dit met die vestiging van opkomende kleinskaalboere kan help. Voorts bied dit kommersiële boere ʼn alternatiewe bron van inkomste, veral in die lig van immer veranderende weerpatrone en ander veranderlikes wat inwerk op boere se bestaande bedrywighede.

Dié “wonderplant” het geen afval nie en die knolle kan as die bates beskou word. Dit word hoofsaaklik gebruik om geur en kleur aan kos te gee, maar word ook gebruik in die vervaardiging van natuurlike skoonheidsmiddels en natuurlike medisyne, en ook as ʼn kleurmiddel in die tekstielbedryf.

Voorts is Crocus sativus, die plant waarvan die stempels geoes word, nie net rypbestand nie, maar omdat die knolle onder die grond is, word dit vir ʼn groot deel van die jaar beskut teen ongunstige weersomstandighede soos hael. Laasgenoemde, en die feit dat die knolle nie eetbaar is nie, sal dit hopelik ook beskerm teen misdadigers wat op soek is na kos.

Saffraanknolle is nie eetbaar nie.

Bennie Engelbrecht, stigterslid en ʼn direkteur van Saffricon, sê hulle saffraanboerdery tussen Calvinia en Williston in die Noord-Kaap het in die afgelope paar jaar die kuns van saffraanverbouing onder plaaslike omstandighede vervolmaak, en dat hulle nou die volgende fase – vir die oopmaak van die geleentheid aan ander voornemende boere – bereik het.

Saffraanaanplantings op ‘n plaas tussen Calvinia en Williston.

“Dit sal deur middel van ʼn verbouingskontrakstelsel, gegrond op drie jaar kontrakte met boere, gedoen word. Ons voorsien die saffraanknolle aan boere, wat hulle dan plant en verbou, en die bloedrooi saffraanstempels (jaarliks) oes en weer aan ons terugverkoop,” sê hy.

Onder gunstige omstandighede vermeerder die knolle ondergronds gemiddeld drie keer per jaar. Dit beteken dat as een knol aan die begin van ʼn betrokke jaar geplant word, daar gemiddeld drie knolle aan die einde van daardie jaar sal wees, met nege aan die einde van jaar twee en 27 aan die einde van jaar drie.

Saffraanplante vermeerder gemiddeld drie keer per jaar.

“Die knolle word ná jaar drie weer aan Saffricon terugverkoop. Dus berus daar sekerheid by boere oor die afset van die produk, en het hulle ʼn dubbele inkomste-potensiaal, uit die jaarlikse saffraanoes, sowel as uit die veelvoudige knolle.”

Saffricon het die verbouingskontrakstelsel aan voornemende saffraanboere begin bemark, en verwag dat daar teen volgende jaar voldoende knolvoorraad sal wees om momentum aan die projek te gee.

Martiens Ruiters, William Klaaste, Bennie Engelbrecht en Nicol Ruiters is besig om saffraanboerdery in Suid-Afrika te vestig.

“Hierdie jaar is daar ʼn beperkte voorraad knolle beskikbaar, en slegs ʼn paar uitgekose boere sal van die produk voorsien word. Maar teen 2022 sal ons in ʼn posisie wees om heelwat meer boere te help. Dus moet diegene wat belangstel so spoedig moontlik begin om bestellings by Saffricon te plaas om teleurstelling te vermy. “Ons stel ook binnekort beginnerpakke bekend sodat voornemende saffraanboere vanjaar reeds eerstehands kan bepaal of saffraan goed in hul streke sal aard.”

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem (LAC), sê as vennoot van Saffricon voorsien hulle ʼn blink toekoms vir saffraanboerdery in Suid-Afrika. “LAC wil sover moontlik help en ophef, en Saffricon bied tans ʼn alternatiewe opsie aan baie boere wat tans onder druk verkeer, terwyl dit terselfdertyd ʼn geleentheid met goeie vooruitsigte vir kleinboere bied.

“Dit is ook ideaal vir nisboerderye – ʼn groot groeiarea vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en iets waaroor LAC baie passievol is. Die aanvanklike kapitaaluitleg is hanteerbaar en ʼn relatief klein oppervlakte word benodig (15 000 knolle kan op 250 m² gekweek word). Boonop sal Saffricon help met opleiding om nuwe boere op dreef te kry,” sê Liebenberg.

ʼn Boer hoef ook nie baie lank vir sy opbrengs te wag soos wat die geval is met baie ander gewasse nie. Die bogrondse plantgroei en die uiteindelike oes van die blomme vind relatief vinnig plaas nadat die knolle aangeplant is.

Saffraanplante kan in uiterste omstandighede verbou word.

“Saffraanboerdery is ook ideaal geskik vir die Suid-Afrikaanse klimaat wat die afgelope paar jare aan ʼn strawwe droogte onderhewig was, aangesien dit baie minder water benodig en ʼn winsgewende oes uit onwinsgewende grond kan lewer.” voeg Liebenberg by. “Waar Suid-Afrika se vernaamste eenjarige gewasse ongeveer 500 tot 800 mm water per seisoen vereis, benodig saffraan – ʼn wintergewas wat van Maart tot Oktober verbou word – tussen 250 en 300 mm per seisoen.”

In Suid-Afrika verkoop saffraan (soms na verwys as “rooi goud”) vir soveel as R250 per gram (of R250 000 per kilogram). Dié stewige prys word aan die arbeidsintensiewe oesmetodes toegeskryf – van die pluk van die blomme tot die verwydering van die stempels – wat alles met die hand gedoen word. Volgens Engelbrecht is 150 000 blomme nodig vir die lewering van een kilogram saffraan. “En daar is drie stempels per blom, wat beteken dat 450 000 (gedroogde) stempels nodig is vir een kilogram saffraan. Die opbrengs per hektaar in die derde jaar, wanneer die produksie ʼn hoogtepunt bereik, kan tussen een en vyf kilogram wees.”

Saffraan word vir R250 000 per kilogram verkoop.

Plaaslike saffraanboere kan verwag om tot R200 000 per kilogram vir hul produk van Saffricon te ontvang, afhangend van die gehalte van die saffraan wat gelewer word. Engelbrecht sê in vergeleke met die meeste van die ingevoerde produk wat op die oog af bykans geen reuk het nie en smaakloos is, het die plaaslike saffraan ʼn kenmerkende geur en aroma, wat ʼn bewys is van die kwaliteit wat hulle bereik het.

Martiens Ruiters besig om saffraanstempels te oes.

Engelbrecht voorsien goeie groeivooruitsigte vir die internasionale saffraanmark, hoofsaaklik omdat die wêreldaanvraag die aanbod ver oorskry.

Geoeste saffraan

Suid-Afrika se toetrede tot die saffraanmark sal in die sesde seisoen van LAC se bekroonde Nisboere, ʼn TV-program wat in April op VIA, DStv-kanaal 147 uitgesaai word, onder die soeklig kom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sonia

baie interressant! nie geweet saffraan wat so duur is word hier plaaslike ook verbou nie, dis goeie nuus!

Misky

Sjoe dis so mooi en sal dit plant net vir die kleur en geur en dalk op n goudmyn sit

Anel

Wonder of ek dit in my tuin kan plant? Ons het so ‘n groot erf.

Janine

Paprika doen presies dieselfde.

Francois Le Cochon

R120,000 per kg by PnP, en R155,000 per kg by Woolies. Vir hierdie boerdery moet jy baie grond he^.