Boere ‘keelvol om te bloei’ oor Landbank se swak besluite

Landbank is toenemend onder skoot oor sy beweerde hardhandige behandeling van boere. (Argieffoto: Maroela Media)

Landbank is in ʼn “swakker skuldposisie” as enige van die boere wat hy nou so “brutaal en genadeloos likwideer” en speel lankal nie meer ʼn opbouende rol in die bedryf nie, het Theo de Jager, voorsitter van Saai, in ʼn ope brief aan die voorsitter van die instelling geskryf.

Die bank is onder skoot weens bewerings dat hy – en talle van sy agente en verteenwoordigers – ongenaakbaar optree teenoor boere wat op strepe gedagvaar, gelikwideer en uitgeskud word. Daar is fel kritiek op die bank se hantering van boere wat nie hulle lenings aan die bank kan terugbetaal nie.

Landbank het die bewerings teen hom vroeër as sensasioneel bestempel en het ná afloop van sy eie interne ondersoek bevind daar steek nie waarheid in die aantygings nie. Die bank het gesê hy neem kennis van die bewerings, maar kon geen bewyse vind dat enige onwettige of onvanpaste praktyke teen Landbank-kliënte ingespan word nie.

De Jager skryf nou in die brief aan Thabi Nkosi, nie-uitvoerende voorsitter van Landbank, dat boere keelvol is “om te bloei oor julle swak besluite, ondoeltreffende bestuur en ideologiese posisionering” en dat die Landbank boonop die argitek van sy eie probleme is.

Hy sê toe die bank twee jaar gelede sonder waarskuwing ʼn tien jaar lange ooreenkoms met sy tussengangers beëindig het, het die bank se moeilikheid onder hom “uitgehardloop”.

“Julle het niemand kans gegee om daarvoor voor te berei nie: nóg die boere wat nooit gekies het om Landbank-kliënte te wees nie, nóg die tussenganger-landbou-ondernemings wat Landbank se leenboek uiters doeltreffend bestuur het en nóg vir julself. Toe was die swak skuld op daardie boek ʼn skamele 1% en minder. Nou is dit meer as 50% en groei dit daagliks,” skryf De Jager.

Hy sê dit help nie die bank beroep hom nou op sy historiese rol en bydrae tot die landbou nie, aangesien dit nie meer dieselfde bank is wat daardie bydrae gelewer het nie.

“Dis juis omdat ons boere Landbank se roemryke verlede ken en waardeer dat ons nou so teleurgesteld en kwaad is. Hoe kon julle die bank so misbaar maak? Jy [Nkosi] praat self in begrippe soos ‘onderprestasie’, ‘Landbank se wanbetaling aan ons skuldeisers’ en ‘nie aan mandaat voldoen nie’. As die bank winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid voor sy ‘ontwikkelingsdoelwitte’ en transformasie gestel het, was julle ook nie nou so diep in die moeilikheid nie.”

Het landbou-organisasies geweet?

De Jager sê ook die bank se lys van landbouverenigings met wie hy die afgelope ruk vergader het, is opvallend gebrekkig.

Sê tog, Thabi, het julle dit in daardie vergaderings met ander landbou-organisasies bespreek dat Landbank op só ʼn massiewe skaal boere gaan sekwestreer? Wat was hulle reaksie toe julle verduidelik waarom daar geen bankrot boere onder die valbyl kom nie, maar juis boere met baie meer bates as laste?

“Het Landbank aan hulle verduidelik hoe daar te werk gegaan word as julle op ʼn plaas aankom, hoe julle met slagofferboere, hulle vroue en kinders praat en dat daar aan die einde van julle proses niks van ʼn boedel gaan oorbly as die fraksie wat julle skuld daarvan uitmaak, gedelg is nie?” skryf hy.

“As julle dit bespreek het, het julle hulle ondersteuning daarvoor gekry? As dit nie bespreek is nie, hoe verduidelik jy waarom Landbank dit verswyg het?”

Verskeie boere voer die afgelope ruk aan die bank het op hulle plase toegeslaan weens uitstaande skuld. Talle van die boere se bates oorskry egter hulle laste en hulle voer aan hulle sou in die afsienbare toekoms daardie skuld kon delg – mits die Landbank en sy agente nie ingrypende stappe gedoen het nie.

Gee Landbank sy eie medisyne

De Jager sê voorts die Landbank se vermoë om as lopende saak volgehou te word, ly skipbreuk en dat dit ook die bevinding van die ouditeur-generaal – in ʼn gekwalifiseerde ouditverslag oor die instelling – gemaak het.

Volgens Nkosi pak Landbank twee risikofaktore in sy omkeerplan: die herstrukturering van skuld en groter beheer oor sy eie leningsboek.

Dr. Theo de Jager. (Foto: Verskaf)

Maar De Jager meen die bank het lank nie meer die vertroue van die boere, óf die kundigheid, ervaring en baanrekord wat nodig is om weer op dreef te kom nie.

“In Saai stem ons dus nie saam dat julle die belangrikste tekortkominge takel wat tot Landbank se probleme aanleiding gegee het nie. Ons het ook met van die bank se finansierders en krediteure plaaslik en in die buiteland gepraat en hulle deel ons skeptisisme.

“Die rou waarheid is dat Landbank in ʼn baie swakker skuldposisie is as enige van die boere en hulle gesinne wat julle so brutaal en genadeloos likwideer. Almal van hulle het baie meer bates as laste gehad en veral werkbare alternatiewe planne. Waarom moet Landbank nie dieselfde medisyne kry wat hy so mildelik uitdeel nie?

“As ʼn mens kyk na hoe Landbank op ons boere se plase te kere gaan, na die gedrag van julle verteenwoordigers en die verwoesting van boedels, ondernemings en gesinne, verstaan ons nie hoe enige instansie verder iets aan julle sou wou leen nie. Dit is ook te laat om julle van daardie verfoeilike optrede te distansieer, want in Landbank se ondersoek wou julle geen fout daarmee vind nie.

“Landbank se ‘deursigtigheid’ strek ook nie ver genoeg dat julle vrywillig die verslag van die ondersoek in die openbare domein plaas nie.”

De Jager sê die bank moet ook verduidelik waarom daar geen swart boere is wat so “aggressief gelikwideer” word nie en ook hoekom daar geen bankrot boere op sy lys verskyn nie.”

En hoe het die beslaglegging op ʼn huilende dogtertjie se speelgoed Landbank gehelp in julle strategie om meer lewensvatbaar te word?

De Jager het vroeër gesê dieselfde patroon word deurlopend in Landbank se optrede gevolg. Dit sluit in dieselfde prokureur en likwidateurs wat namens Landbank die verwoesting teweegbring, growwe misbruik van wetgewing en regulasies wat likwidasies reël, asook aggressie en vernedering van boere voor hulle gesinne, beledigende taalgebruik van die Landbank se agente teenoor boere en die weiering om na enige voorstelle vir oplossings te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jr ·

Part of the communists strategy to take land without compensation. Julle kan sê ek is mal soos julle gesê het van PW Botha toe hy gepraat het van vandag se kommunistiese govt

Oosieoos ·

Goverment se skelm manier om plase sonder betaling te vat

Manie ·

Ja ek was ook een van die boere wat deur die vervoeilike skerppunt gemors amper gevang was maar betyds deur hulle gesien het om ons saak te red. Dit is ‘n slim deurdagte plan van die kommuniste om grond op ‘n ander manier as sogenaamd wettig te vekry nadat hulle die stryd verloor het oor grons gryp sonder vergoeding. Hulle is deurdagte skelms sonder gewete!

Papsak ·

Die hele regering is skelm hulle wil net als verniet weg vat van ons en boere

Harley Davidson ·

Die boere moet hulle eie landbank stig en nie die piesang regering se bank ondersteun nie laat hulle verdrink in hulle eie onoselheid.

kaplyn ·

Eindlik moes die boere al 30 jaar gelede hulle eie Landbank gestig het. Nou is dit te laat want ‘n eie Landbank kan hulle nie meer red nie.

Nick ·

Waar is die Ackermans, Ruperts, Motsepes en Oppenheimers? Wanneer gaan julle opstaan en ‘n nuwe ‘Landbank’ begin? Belè in die mense wat ons kos plant. Dit is ons almal se probleem. Remember: History wil tell the story.

Di ·

Nee wat die rykes sorg net vir hulle self in die land! As die land ten gronde gaan vlug hulle net oorsee waar almal van hulle eiendom het. KLAAR ryk geword in die land, nou voel hulle ‘n veer vir ander

Jack ·

Ek lees nie eers die berig verder nie. Die landbank is n anc instelling wat alles doen om die plase te bekom teen geen betaling. Kyk maar wie sit op die direksie en dan verstaan jy skielik wat aangaan. Wie glo dat die regering die boere as hulle wit is ondersteun. Die beste nou is om die engelse se “geskroeide aarde” beleid te volg wanneer beslaglegging onvermydelik is. Gee niks aan hulle van jou sweet en bloed van al die jare nie.

marius ·

Korrek . Niks waarvoor jy so geswoeg het nie . Net ‘n bar stuk grond . Geen water of infra struktuur . Nie eers ‘n draad heining nie .

marius ·

Net nog ‘n sluwe manier om jou grond te vat , sonder betaling en jou steeds aanspreeklik te hou . Alles mooi beplan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.