Boere kort ‘dringend hulp’ ná brande in Limpopo

Beeste op die plaas Waterval buite Polokwane. (Foto: Verskaf)

Ongeveer 17 vee- en wildboere boere buite Polokwane het ernstige skade gely toe verwoestende brande verlede Sondag (14 Augustus) op verskeie plase en kleinhoewes in dié omgewing uitgebreek en reg deur die week sporadies gewoed het. Na raming is meer as 50 000 ha in dié brande verwoes.

Naomi Excell, bestuurder by Agri Letaba en ʼn administrateur by Agri Limpopo, sê sowat 2 000 stuks vee en 1 900 stuks wild is ook geraak.

Die organisasies het intussen ʼn beroep gedoen op lede van die gemeenskap om voer-, lusern- en geld te skenk.

“Hierdie boere het dringend hulp nodig,” het Excell Maandag aan Maroela Media gesê.

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe die brande ontstaan het nie, maar weens warm weerstoestande en sterk winde was dit onmoontlik om dit gekeer te kry.

Na raming is sowat 50 000 ha verlede week in brande op plase en kleinhoewes buite Polokwane verwoes. (Foto: Verskaf)

Kobus de Lange, ʼn boer wie se huurplaas suid van Polokwane in die Waterval-omgewing geleë is, sê al 200 ha op dié plaas is deur die vlamme verswelg. Hy meen hy is gelukkig dat daar nie tans diere van sy eie op die plaas wei nie, maar sê dat verskeie boere en inwoners groot skade gely het en dat baie beeste en wild nou geen kos oor het nie.

Volgens De Lange is daar onder meer plase van 3 000 ha wat heeltemal afgebrand het.

Hy sê daar het ook ʼn huis afgebrand terwyl nog ʼn inwoner wat voertuie op sy kleinhoewe herstel, ernstige skade aan strukture en voertuie op sy perseel gely het.

“Daar was kwaai winde. Dit het in ʼn stadium ongeveer 40 km/h gewaai en die brande aangestoot dat dit 40 m tot 50 m spring en dan daar verder brand. Dis wat dit so moeilik gemaak het om die brande te bestry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Vergeet maar van enige hulp van regeringskant af: die spul kan hulleself nie eens help nie. Ander, oorbelaste boere sal weer inspring en help.

Di ·

Brandstigting PUNT! Malema en sy trawante soek boere van die plase af. TE VEEL brande wat laaste jaar net “ontstaan” Die korrupte regering sal nie hulp aanbied nie, hulle is kop in een mus om boere van plase af te kry. Ons as gemeenskap sal moet saam staan en hierdie boere probeer help!

Frank ·

Ja, poachers het gisteroggend 6h00 ook hier op die plaas langsaan brandgesteek. Was sover die brandseisoen maar stil egter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.