Boere maak ʼn plan met boorgate

‘n Boorgat word gesink. (Foto: Verskaf deur Saai)

Boere in die Oos-Kaap, wat die afgelope jare deur ʼn erge droogte geteister is, moes kyk hoe hul vee vrek, hul werkers honger ly en hul oeste verdroog. Hulp van die regering was boonop weinig en veral boere in die Steytlerville-omgewing het swaar getrek.

Daarom het Santam en Saai ʼn plan beraam om boere hier te help om water aan te wys en boorgate te sink.

“Die boere wat in hierdie droogte moes oorleef, het elke dag in skape se gesigte vasgekyk en geweet hulle sal hulle nie kan deurtrek nie, na store vol sade terwyl hulle weet hulle sal nie kan plant nie, en hulle het na hul werkers gekyk en geweet daar is nie werk nie,” sê Bertus Griebenouw, Saai se verteenwoordiger in die Oos-Kaap.

Griebenouw sê was daar ’n paar boere wat uitgereik het vir meer volhoubare droogtehulp. Hoewel hulle die duisende voerskenkings van talle organisasies opreg waardeer, het hulle geweet dat wanneer die skenkings ophou, hulle nie kop bo water gaan kan hou nie.

Volgens Colin Wilken, ’n boer van Steytlerville, was water nooit ’n groot probleem op sy plaas nie, maar die afgelope jare het die watertafel merkbaar gesak en sommige boorgate het heeltemal opgedroog.

Die droogte teister die Oos-Kaap sedert 2015. (Foto: Verskaf)

Albie Jacobs, nog ʼn boere van die Steytlerville-omgewing, sê dit was hartverskeurend om sy boerdery dag vir dag te sien agteruitgaan. “Om elke dag te wonder of ek die korrekte voer meng, of ek nog lusern, hooi of gars sal kry, is baie swaar. Die verskriklike hoë koste van vervoer kniehalter ook ’n reeds geknakte boer. Ek probeer positief bly, maar sommige dae, veral wanneer daar feitelik geen reën op my plaas val nie terwyl dit op buurplase reën, is dit bitter moeilik om weer op te staan en voort te gaan.”

Griebenouw het ’n plan beraam om boorgate te sink vir hierdie boere. Boere in die Steytlerville-omgewing het onder mekaar gereël en binnekort was daar 36 name op die lys.

Saai, in samewerking met Santam, het hierdie boere toe gehelp om water aan te wys en te boor.

Toe die groot dag aanbreek en waterpunte aangewys is, het boere met gemengde gevoelens langs die boormasjien gestaan en nie geweet of daar water is nie.

“Die afwagting was sieldodend, maar dit was absolute vreugde toe die water begin uitspuit. Die boorman, Hennie Nel, het uitgeroep dat daar genoeg water is. Daar was groot vreugde en dankbaarheid oor die water,” sê Griebenouw.

Volgens Hanlie Kroese van Santam het hulle by dié projek betrokke geraak omdat Santam ’n verantwoordelike onderneming wil wees wat “meer as net versekering” bied.

“Santam het ’n verantwoordelikheid om te help bou aan veerkragtige samelewings en om ’n lewendige landbousektor vir boere te help stimuleer. Die landboubedryf ervaar baie uitdagings en met ons bydrae en ondersteuning wil ons ons waardering aan die sektor toon en wys dat Santam waarde heg aan wat landbou vir volhoubaarheid en groei doen,” sê Kroese.

Die tweede ronde van die boorprojek het vandeesweek in die Willowmore-omgewing met 24 boere afgeskop. Daar is steeds soveel opwinding en hoop oor die verskil wat dit in hierdie boere se lewens gaan maak.

“Ek weet nie wanneer die droogte gaan eindig nie. Ek weet ook nie hoe lank ek nog my vee kan voer nie. Wat ek wel weet is dat ek water vir my vee het. In die stilligheid dank ek God innig vir hierdie stroom water. Die hele distrik is opgewonde en ongeveer 30 boorplekke is geïdentifiseer waarvan 23 suksesvol was,” sê Jacobs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.