Boere moenie paaie herstel – VL

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Met die feestyd op hande en die groot somerreëns wat voorspel word, is talle boere reg oor die Vrystaat besig om self paaie te herstel in ’n poging om vakansiegangers veilig te hou en insetprodukte vir die plantseisoen na hul plase te vervoer.

Volgens dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), het boere geen ander opsie as om self in te spring en paaie te herstel nie aangesien die staat gesloer het om klein ontwikkelingskontrakteurs aan te stel om paaie te probeer herstel.

“Buiten die koste om landbou-insetprodukte te vervoer, het talle boere ook breekskade aan voertuie gehad en dit het tot die geweldige hoë insetkoste dié seisoen bygedra,” sê Armour.

Armour het bevestig dat VL ʼn sterk bewoorde brief aan die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en verkeer gerig het waarin ’n beroep op die departement gedoen word om ontwikkeling- en werkskeppingskemas te staak en om terug te keer na die kontaktering van bekwame siviele ingenieursfirmas om die werk behoorlik te doen.

“VL het Dinsdag met die LUR vergader en beklemtoon dat die hulp van die boere om die paaie self te probeer rybaar kry, nie volhoubaar is nie, maar slegs uit nood gedoen word. Die LUR het op sy beurt boere gevra om hande te neem met die staat en saam die paaie te takel aangesien die staat nie meer oor fondse beskik nie.

“Die LUR het aangedui dat hy self ondersoek ingestel het na die ‘geel-vloot’ wat deur VL aangemeld is. Hy het 40 padskrapers gekry en het onderneem om dit onmiddellik te ontplooi. VL het uitgewys dat deel van die swak prestasies van die ‘geel-vloot’ ook die tekort aan ervare opgeleide padskraperoperateurs is.”

Francois Wilken, VL se president, het tydens die vergadering ook aan die LUR uitgewys dat boere uitgeput is omdat hulle snags self patrollie ry om hul landelike gemeenskappe te beveilig en ook hul vee op te pas.

Hy het gesê die boere is boonop nog ook op hulself aangewese om rampe soos brande en sprinkane te bestry omdat die staat nie hul verpligtinge nakom nie. “Daar kan nie van boere verwag word om nog paaie ook te herstel weens die staat se onvermoë nie,” sê Wilken.

Wilken het gesê boere se primêre rol is die produsering van bekostigbare voedsel vir die mense van Suid-Afrika.

VL het na aanleiding van ʼn regsopinie ’n versoek aan landbouverenigings gerig om hulle paaie in orde van lewensgevaarlikheid te rangskik, wat dan aan hulle distrik se paaiebeampte oorhandig sal word. Die departement kan dan potensieel aanspreeklik gehou word vir enige verdere skade weens die haglike toestand van die paaie, as gevolg van ’n versuim om op te tree nadat die tekortkomings onder sy aandag gebring is.

VL moedig padgebruikers aan om eise in te dien indien enige skade weens swak paaie aan voertuie veroorsaak is. Die eisvorm is op VL se webtuiste beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

casper ·

Padskrapers gekry vir ‘n bargain – slegs 4 keer die normale prys en 50% kickback !!

Tewie ·

stem honderd persent saam bederf hulle en dit sal nooit weer deur die instansies onderhou of herstel word nie

Skuilnaam ·

Boere moenie paaie herstel – VL. Yip. Tipiese boere-oplossing. “Cut you nose to spite your face.” Belaglik…

Harley Davidson ·

Die boere betaal belasting en stewige brandstof heffings hoekom moet hulle paaie regmaak, dagvaar die munisipaliteit vir skade opgedoen weens die swak paaie 211

Anoniem ·

Boere moet die paaie gebruik om hulle produkte vanaf die plaas na die afsetgebied te vervoer, dis hoekom hulle dit self onderhou.

Di ·

Hierdie korrupte regering hou NIKS in stand nie! As dit kom by ons boere gee hulle nie ‘n duit om nie. Hulle besef net nie watter rol hierdie boere in die voedselketting speel nie. Wag totdat daar ‘n voedseltekort in die land kom, dan sal dit ‘n ander storie wees. Die “meerderheid” gaan die swaarste getref word.

Miskruier ·

Dan praat ons nie oor indringer plante wat plase toegroei, hondsdolheid inentings wat nie meer voorsien word…….as die boere vou, volg die stedeling.

Anna-marie ·

Laat my dink aan die skole wat boere op hul plase gebou het, toe raak dit tamaletjie…

anniekiewiet ·

Ons gaan seker nog eie skole, hospitale ens ook moet begin onderhou en provinsiale wildreservate moet probeer red net om iewers vir ons kinders iets te red.

ES ·

Ek stem, dit is nie die boere se verantwoordelikheid om die paaie te herstel nie, maar hul doen dit noodgedwonge omdat hulle omgee.

Dit is nie die boere se skuld dat plaaslike regering nie geld het nie – hulle betaal dan hul belasting!

JohanR ·

As die boere nie paaie in stand hou nie, gaan die ANC? En daar val ek van my stoel af van die lag!

Misky ·

Hulle verwag die boere moet “hande vat met die staat”…… Nou verstaan ek nie en hoekom help die staat nie ‘n boer wat homself moet verdedig nie? Hoekom is die hulp eensydig en net wanneer dit hulle pas?

Frank John ·

Ek verstaan en het ruimte vir die regering wat moes leer om die land te regeer maar regtig, hulle het nou genoeg tyd gehad om dit te doen, dis tyd dat hulle nou by kom. Hulle kan mos nie net aangaan en aangaan. Hoe lank vat dit enige iemand om nuwe goed aan te leer en toe te pas en reg te doen nie. Hulle kan mos nie nog 30 jaar vat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.