Boere moet help paaie regmaak – en opdok daarvoor

‘n Knewel van ‘n slaggat op die pad tussen Clarens en Fouriesburg. (Foto: Vrystaat Landbou)

Vrystaatse boere is gevra om die departement van polisie, paaie en vervoer te help om paaie in die provinsie te herstel – maar hulle is gewaarsku dat hulle nie vir hul uitgawes vergoed sal kan word nie.

Talle boere betaal reeds skraperoperateurs sodat gruispaaie geskraap kan word en gebruik hul eie arbeid en hulpbronne om dit te doen, sê Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL).

“Dit beteken dat die regering nie aan sy diensleweringsverantwoordelikhede kan voldoen nie, terwyl burokrate in die topswaar Vrystaatse provinsiale paaiedepartement steeds hul salarisse sal ontvang,” sê Wilken.

Die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het verlede week gesê paaie gaan vir die volgende tien jaar nie in stand gehou kan word nie en gaan toenemend versleg. Hy het die skuld hiervoor onder meer op die e-tolstelsel gepak en aangevoer geld wat bedoel is om paaie te onderhou, word gebruik om die mislukte stelsel se skuld te delg.

Die drukgroep Outa het in reaksie hierop gesê die verslegtende padnetwerk hou nie verband met nasionale en tolpaaie wat die Nasionale Padagentskap in stand hou nie, maar dat die probleem op provinsiale en plaaslikeregeringsvlak lê waar die tesourie se toewysings en die geld wat munisipaliteite invorder, nie behoorlik bestee of bestuur word nie.

Prof. Frikkie Maré, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, sê die probleem met paaie op die platteland wat al hoe meer versleg, is veel groter as wat die meeste mense besef. En dit strek veel verder as die Vrystaat.

“Die meeste van ons ry met hoofpaaie, maar as jy in die platteland van ʼn hoofroete afklim, is dit absolute chaos.”

Talle boere het lankal begin om self die slaggate in paaie in hul omgewing te begin opvul, bloot om dit begaanbaar te maak. “Dit is uit moedeloosheid gebore in ʼn poging om lewensverlies en brekasie te beperk,” sê Maré.

“Om produsente ʼn mandaat te gee om die paaie teen hul eie koste reg te maak, is belaglik. Grondbelasting word reeds buitensporig verhoog en deel van die rede waarom jy dit betaal, is sodat die regering gangbare roetes na jou plaas kan verskaf.”

Swaarvoertuie, soos vragmotors wat vee of gewasse aanry, kan nog stadig oor die slegte paaie sukkel en in een stuk anderkant uitkom. “Maar kinders moet by die skool kom, mense moet by die kerk kom en dan moet hulle daardie paaie in gewone bakkies en voertuie ry.

“Produsente moet ook hul produkte by die mark kry en die meeste daarvan word per pad vervoer,” sê Maré.

“Die nadraai hiervan is dat voedsel al duurder gaan word, want dit word al hoe moeiliker en duurder om produkte by die mark te kry. Dit kan ook veroorsaak dat die platteland onbevolk begin raak.”

‘n Verspoelde pad tussen Warden en Vrede in die Vrystaat. (Foto: Vrystaat Landbou)

Wilken sê die instandhouding van die nasionale padnetwerk is ’n grondwetlike verpligting van die departement waarvoor hy ʼn begroting van die nasionale tesourie ontvang – en wat deur belastingbetalers finansier word.

“In hierdie stadium is daar die werklike moontlikheid dat die Vrystaatse plaaslike en provinsiale padnetwerk binne die volgende paar jaar ineen kan stort. Dit sal miljoene mense van basiese en kritieke dienste afsny,” sê Wilken.

Maré stem saam dat die situasie beroerd is. “Jy betaal vir ʼn diens wat jy nou self moet lewer. Die regering moet begin om sy werk te doen. Dit lê nie by Jan Publiek om hierdie situasie om te keer nie. Die regering moet die geld reg aanwend en gebruik vir dit waarvoor dit bestem is.”

Wilken sê benewens dié paaie is daar nog die talle grondpaaie wat boere, plattelandse gesinne en maatskaplike ondersteuningsdienste daagliks moet gebruik en wat bitter selde geskraap word. Dreinering- en waterbane word nie oopgemaak nie en die padoppervlak van talle van die paaie is weggewas.

VL eis intussen antwoorde op talle vrae, onder meer wat die provinsie se instandhoudingsplanne en begroting behels.

“Al is ons lede nie padbouers nie, was VL nog altyd bereid om met die provinsiale regering saam te werk. Swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie-wetgewing en -vereistes is egter die groot struikelblok wat verhoed dat plaaslike boere, kontrakteurs of gemeenskappe betaal word om te help met die oplossing van die groeiende krisis,” sê Wilken.

Dié paaie wek veral kommer:

  • Die R30, ʼn hoofroete wat Welkom met Bothaville, Klerksdorp en Orkney verbind. Volgens VL het die departement nie genoeg aanwysingsborde gehad om ongelukke op ’n oorstroomde stuk te voorkom en om verkeer na ’n gruisverbypad wat behoorlik onderhou is, te herlei nie.
  • Die Clarens- (R711) en Ficksburg-pad (R26) is hoofroetes na groot toerisme- en landbou-toerismebestemmings en is belangrik vir internasionale handel met Lesotho. Die Ficksburg-Fouriesburg-pad (R26) word as die slegste pad in die provinsie bestempel. Die R34 tussen Memel en Bothaspas is nie ver agter nie en kontrakteurs het volgens VL opgehou werk omdat hulle nie betaal word nie.
  • Die R34, R59 en R505 (Wesselsbron-, Makwassie- en Hoopstadpad) is kritiek vir die lewering van stapelvoedsel aan silo’s en verwerkingsaanlegte. Die R709 tussen Hobhouse en Winburg is ook ʼn kritieke landbouroete en belangrike roete vanaf die Oos-Kaap en Lesotho vir mynwerkers na die Vrystaatse goudvelde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier johannes

Hulle moet munsiepaliteite afdank hulle doen nie hulle werk nie die boere moet hulle kos voorsien dan verwag hulle die boere moet hulle werk ook doen

Pieter

Wel, dan betaal ons nie meer belasting nie, finish en klaar . Julle stop julle sakke vol met die geld wat die paaie moet reg maak. Genoeg is nou genoeg, julle demand net,hoe kan ek jou betaal vir n diens en dan moet ek dit self doen op my eie kostes?

Smurf

Hulle wil nie die boere beskern nie maar hol gou na die boere toe vir hulp !……en verwag dat dit gratis gedoen word . Ek het nog baie meer te se , sal maar eerder nie…..

marius

Voessek . Punt

SomeOne

maar die gemors wat bo sit word geld beskikbaar gestel, vb, r450m vir salarisse en dit vir wat ?
suid afrikansers (wit) moet net eenvoudig nie meer geld aan die staat betaal nie !!!!