Boere moet hoes om mieliediefstal te stuit

Mieliediefstal soos dit in die Vrystaat voorkom, is ʼn hoogs georganiseerde misdaad wat deur groepe en sindikate bedryf word (Foto: Verskaf)

Daar is groot kommer oor die toenemende onwettige stroop van mielies op Vrystaatse plase en die negatiewe uitwerking wat dit op volhoubare boerderypraktyke het. Vrystaat Landbou (VL) waarsku boerderygemeenskappe opnuut om voldoende voorsorgmaatreëls te tref om hul mielieplantasies teen diefstal te beskerm.

Agt Vrystaatse boerderygemeenskappe, waaronder Allanridge, Bothaville, Bultfontein, Koppies, Odendaalsrus, Vierfontein, Virginia en Welkom, het die afgelope ruk onder dié soort misdaad deurgeloop. By Allanridge, Bultfontein en Virginia is sommige van die vermeende boosdoeners in hegtenis geneem.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee, sê boere stroop nou hul mielies en die feit dat gewasse reg is vir gebruik, maak dit ʼn gesogte teiken vir misdadigers.

Die boewe werk gewoonlik in groot groepe om mielies te steel en dit dan in dorpsgebiede te smous.

“Inligting dui daarop dat tot 20 mense, wat met pangas en messe gewapen is, op mielielande toesak en die mielies stroop. Die mielies word in sakke gepak sodat bakkies dit later na afsetgebiede kan vervoer,” sê Le Roux.

Die misdaad gaan gepaard met enorme geldelike verliese vir boere. Le Roux sê boonop is daar die gevaar dat diewe boere, plaaswerkers en veiligheidswagte sal konfronteer.

“Mieliediefstal soos dit in die Vrystaat voorkom, is ʼn hoogs georganiseerde misdaad wat deur groepe en sindikate bedryf word. Dit is nie slegs ʼn misdaad waar mense wat honger is, onregmatig ʼn paar mielies van die landerye neem nie.

“Afsetgebiede en markte is ook hier ter sprake.”

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê boere in die geteikende gebiede het aangedui dat hulle tot soveel as R100 000 per maand vir veiligheidsdienste betaal om hul mielielande op te pas en te probeer beskerm teen die geweldige toename in misdadigheid.

Buys meen die bykomende veiligheidsuitgawes, tesame met verhoogde insetkoste, kan voedselsekerheid ʼn knou gee.

VL het ’n dringende beroep op die polisie gedoen om die misdaad met erns te hanteer.

Die polisie is gevra om op grondvlak hul misdaadvoorkomingsoptrede in hoëmisdaadgebiede met dié van boerderygemeenskappe te belyn, sodat die situasie doeltreffend gepak kan word.

Boere word ook gevra om enige soortgelyke voorvalle so gou moontlik by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Hulle stroop – Word gevang en more is hulle weer terug op ‘n ander plaas !!!

Phillip ·

Jy kan dit nie self beskerm nie want dan word jy in die tronk gegooi as jy hulle vang soos daai boer wat die mense vervoer het pote toe en afgespring . Om n boer te wees is hard . Brand stof preise loon verhoogings diefstal moorde . En nog volhard hulle om teboer

Harley Davidson ·

Die boere moet hulle mielies beskerm enige manier wat nodig is ongeag die nagevolge.

Manie ·

Makliker vir aasvoëls om op ander te teer as om self iets te doen.

Gert ·

Hoe wen die boer teen dit? Hy is self ‘n teiken vir plaasaanvalle, verloor van sy oes en as hy die boosdoeners stop is sy kanse goed om vermoor te word of in die tronk te beland omdat hy sy lewensreg beskerm.

Lillian ·

Ek het ‘n oplossing om van sulke diewe ontslae te raak … ‘n maklik en vinnige een …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.