Boere moet nou ‘ondersteun, beskerm’

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. (Foto: Anja van der Merwe)

Die familieboernetwerk Saai doen ’n beroep op boere om waaksaam te wees en mekaar by te staan te midde van die voortslepende plundery wat in KwaZulu-Natal en Gauteng woed.

“[Boere] moet deurlopend met mekaar en met hul georganiseerde landboustrukture in kontak bly, voorvalle aanmeld en hul plase, huise, gesinne en werkers veilig hou,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

De Jager sê in ’n verklaring Saai doen intussen alles in sy vermoë om families op plase te ondersteun wat tans in nood verkeer óf moet vlug óf die gevaar loop om skade weens die plundering en brandstigting te ly.

De Jager herinner ook daaraan dat daar saam met sy netwerkvennote ’n uitgebreide teenwoordigheid van burgerlike strukture, plaaswagte en organisasies in die grootste deel van die land is wat ernstig is daaroor om boere en gemeenskappe gedurende hierde tyd van hulp te wees.

Luidens die verklaring word Saai tans toegegooi met boodskappe van simpatie, besorgdheid en meelewing van landbou-organisasies uit onder meer Nieu-Seeland, Kanada, Japan, Italië, Hongarye en Tunisië.

Dít terwyl beelde van plunderaars wat “brande stig, steel en skiet” oor die wêreld heen uitgesaai word.

“Hoewel boere die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) teen plunderaars verwelkom, is die 2 500 soldate veels te min.

“Terwyl winkelsentrums, plase, hoofpaaie en voertuie brand, het Suid-Afrika die reg om te weet wat van die res van ons militêre vermoë, toerusting en soldate geword het,” sê De Jager.

De Jager meen die vernietiging van geboue, voertuie en winkels is “bloot ’n verlengstuk van ’n mentaliteit van plundery wat die ANC té lank gekoester en selfs beskerm het.

“Stroping van die staat en Suid-Afrika se bates kom van lank voor die huidige oproerige eise om Zuma vry te laat. Die diepgewortelde hebsug, nepotisme en bedrog binne die ANC is voor die Zondo-kommissie bloot gelê. Die ANC het herhaaldelik in die parlement sy eenparige steun aan Zuma toegesê lank nadat die omvang van plundery al openbare kennis geword het.”

Volgens De Jager lê die ANC se beleid van kaderontplooiing aan die kern van die ineenstorting van wet en orde in KwaZulu-Natal en Gauteng.

“Voordat daar nie sterk genoeg leierskap na vore tree om die wese van die krisis op te los nie, gaan boere van alle groottes, rasse en kultuurgroepe in Suid-Afrika kwesbaar bly, en sal hulle grootliks op hulself en mekaar aangewese wees om hul plase en gesinne teen strafregtelike aanvalle te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

die sogenaamde sanw bestaan al van 2000 nie en die wat daar diens doen is die wat te swak in hul broeke is om “werk” te doen, lê heeldag op hul rue, werk ( hou teetyd ) van 10:00 toe 13:30 dan is hulle al weer op pad huis toe en verdien ‘n salaris, wat hulle nie eers toekom nie, wat nie vandag klaarkom nie, kan (nie sal) ons môre doen

Johanna ·

Begin by Julius Malema.
Hy is die grootste opstoker wat jy kan kry.
Hy moes al laaaank terug toegssluit gewees het, maar Ramaphosa will almal PLEASE maar Malema Malema maak gevaarlike oproerige aanhitsende toesprake en kom daarmee weg.
Malema se EFF is die een wat mense aangehits het tot die eerste Looting in hierdie land, vandaar het dit net meer en meer plaasgevind. LANKAL TYD DAT HY TOEGESLUIT WORD.

Harley Davidson ·

Ek stem beskerm julle eiendom en mense,die polisie het bewys dat hulle onbevoeg is stig julle eie komando sisteem die sogenaamde weermag het nie die finansiële steun of opleiding om as ‘n weermag gesien te word nie.Die saak moet na die hoogste hof geneem word want SA se heersende regering kan nie hulle burgers beskerm nie.

annie ·

Malema het ook by sy ou grootbaas gaan teedrink en staan knus teenaan Zuma se saak as onskuldige. Sy 6%-party kry aanmekaar blootstelling op tv. Die z-virus loop breèr as wat ons dink en die volgehoue tv-uitsendings oor die plundertogte lok woestaards na die aksie. Moet ons alles belee. Die polisie sit skynbaar ok tuis en geniet die sports. Indien veldmaarskalk unlucky nog besig is om die kaf van die koring te probeer onderskei, kan ons, ons maar regmaak vir ‘n long time no see. Selfdoen by oor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.